Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
COVID-19-pandemie bied munisipaliteite geleentheid om vertroue te herstel
Outeur: Harlan Cloete
Gepubliseer: 11/05/2020

Die COVID-19-pandemie bied aan munisipaliteite die ideale geleentheid om van voor af te begin en die vertroue van plaaslike gemeenskappe te wen, skryf dr Harlan Cloete van die Skool vir Publieke Leierskap in ʼn meningsartikel (Maandag 11 Mei) vir Mail & Guardian.

  • Lees die vertaalde weergawe hier onder.

COVID-19-pandemie bied munisipaliteite geleentheid om vertroue te herstel

Harlan Cloete*

Die Suid-Afrikaanse regering se pogings om die COVID-19-pandemie te bestuur is plaaslik en wêreldwyd deur organisasies soos die Wêreldgesondheidsorganisasie geprys. Vriend en vyand het skielik besef dat COVID-19 – die nuwe vyand – nie tussen geloof, klas of kleur onderskei nie. Dit het kollektiewe besliste optrede geverg om lewensverlies op groot skaal te voorkom.

Die pandemie het beslis die aansienlike foute in ons grondwetlike demokrasie beklemtoon. n Storie van twee stede – waar die minderheid nie-rassige middelklas beskermd is terwyl hulle die vrugte van demokrasie pluk en die armes moet vir die krummels rondspring. Die saak vir gelyke toegang tot gesondheidsorg en onderwys is stewig gevestig.

Die grondwet plaas plaaslike regering sentraal in ontwikkeling en in die lewering van basiese dienste aan gemeenskappe. Dit is waar deelnemende demokrasie uitdrukking vind deur die aktiewe deelname van burgers aan beleidsvorming en om die regering se pogings om armoede, ongelykheid en werkloosheid uit te wis, te monitor. President Ramaphosa het laat April 'n R500 miljard COVID-19-noodlenigingsfonds aangekondig, met R20 miljard wat direk aan munisipaliteite toegeken is sodat hulle kan help om die verspreiding van die virus te bekamp.

Dit het 'n aantal vrae by burgers uitgelok. Is dit nie maar net 'n vrybrief vir korrupte munisipale beamptes nie? Kan munisipaliteite se leierskap vertroue word om die stryd teen die virus te lei? Beskik munisipaliteite oor die vaardighede en kapasiteit om 'n krisis van hierdie aard te bestuur?

Dit is dus nie verbasend dat sommige mense hul misnoeë met plaaslike regering uitgespreek het nie en raadslede van voortrekkery in die toekenning van kospakkies en dubbele bevoordeling van sommige gemeenskapslede beskuldig het weens die ondoeltreffende dataversamelingstelsel en tussenregering-duplisering.

Ander het geredeneer dat wykskomitees (die hande en voete van deelnemende demokrasie) n klub is en eenvoudig net nie werk nie. Oor die algemeen lyk dit of burgers vertroue in hul gekose plaaslike leierskap en beamptes verloor het wat aanhoudend misluk om die belofte van ontwikkelende plaaslike regering wat 20 jaar gelede in die vooruitsig gestel is, na te kom.

Munisipaliteit het nou 'n baie skaars geleentheid van voor af te begin en om weer die vertroue van plaaslike gemeenskappe te wen. Wat moet hulle doen om dit reg te kry?

Gegewe dat die opposisiepartye in sommige rade tot toeskouers verlaag is, mag dit vir burgemeesters nodig wees om die president na te volg en te verseker dat daar 'n veelparty-benadering is om te verseker dat plaaslike reaksies op COVID-19 deur al die partye ondersteun word. Dit is nou die tyd om doelwitte eerste te stel en ego's by die deur te laat. Dit is 'n tyd om te luister en te leer. Dit is nie die ruimte vir politieke winsbejag nie. Hierdie situasie verg innoverende denke om samewerking te soek, soos Adam Kahane in sy boek, Collaborating with the Enemy – How to Work with People You Don't Agree With or Like or Trust (2017) verkondig.

Die Geïntegreerde Ontwikkelingsbeplan en die begroting moet hersien word. Ons weet munisipaliteite het nie 'n goeie prestasierekord vir die inagneming van gemeenskapsinsette nie. Dit is nou die tyd vir munisipaliteite om 'n burger-gesentreerde benadering tot begrotings en ontwikkeling te volg. Gegewe die vernietigende ekonomiese uitwerking van die virus, gaan die verwagte inkomstestrome ontbreek. Munisipaliteite kan 'n verligting in munisipale belasting vir klein sakeondernemings oorweeg. Maar die behoeftes van die armes en die kwesbaarste in die samelewing moet voorkeur geniet.

Hulle moet alle sektore van die samelewing mobiliseer, soos die hoogaangeskrewe akademiese ekonoom en skrywer, wyle prof Sampie Terblanche, in sy boek, Lost in Transformation (2014), aanbeveel het. Sy redenasie was dat ons nie daarin geslaag het om die ergverdeelde Suid-Afrikaanse samelewing met 'n samelewing van maatskaplike solidariteit te vervang nie. En hy was reg. Plaaslike regering is die brug tussen “dit wat ons het, wat ons nie het nie en dit wat ons nooit gehad het nie". Ons moet 'n volhoubare sosio-ekonomiese veiligheidsnetwerk bou om die diepgewortelde krisisse van toegang en strukturele geweld aan te spreek. Die leë kerk vandag is môre se veldhospitaal. 

Gegewe dat kospakkies nie volhoubaar is nie, moet munisipaliteite eerder in infrastruktuur belê.

Hulle moet dit oorweeg om gasbranders en gereedskap aan te koop om die pogings van die talle organisasies wat reeds aktief in gemeenskappe werk, te ondersteun. Die voedselpakkies bestaan hoofsaaklik uit droë bestanddele wat nog voorberei moet word. 'n Meer praktiese benadering sal wees om die voorafbetaalde meters vir kwalifiserende huishoudings te krediteer.  

Munisipaliteite moet 'n data-gedrewe benadering volg. Hulle het groot datastelle wat hulle nie doeltreffend ontgin nie. Dit kan tot eensydige en wisselvallige besluitneming lei wat soms nie met die werklikheid op voetsoolvlak stryk nie. Sodra die data ondersoek is, het dit die potensiaal om rigting aan die wykswerklikheid te gee. Maar om net te weet, is nie genoeg nie. Munisipaliteit moet dan bewysgebaseerde besluite neem wat beter gekoördineerde inwerkingstelling en trekkrag regoor alle regeringsdepartemente tot gevolg kan hê.

Om die vertroue te herstel, moet munisipaliteite daagliks die gemeenskappe inlig oor hoe die regering op die COVID-19-krisis reageer. Dit kan pamflette, luidsprekers, inskakeling by die gemeenskap se netwerke van sosiale media en gemeenskapsmedia soos gemeenskapsradiostasies en plaaslike koerante insluit.

Laaste, maar nie die minste nie, moet munisipaliteite hul plaaslike kapasiteit uitbou en gemeenskappe en munisipale beamptes met die nodige vaardighede toerus om plaaslike ekonomieë aan te dryf en om afval beter te bestuur.

Terwyl ons munisipaliteite probeer om hul pad deur die COVID-19-krisis te vind, kan hulle beslis aan die volgende woorde van die Nigeriese musikant, Ike Uzondu, gehoor gee: “Die kuns van regeer is nie ruimtewetenskap nie. Om eerlik te wees, te weet dat jy daar is om die mense te dien, en om 'n manier te vind om te lewer wat nodig is – dit is die sleutel."

*Dr Harlan Cloete is 'n buitengewone dosent by die Skool vir Publieke Leierskap aan die Universiteit Stellenbosch. Sy hoofnavorsingsgebied is die ontleding van oorsigbestuurstelsels vir bewysgebaseerde menslike hulpbronne-ontwikkeling in die openbare sektor, met 'n spesifieke belangstelling in plaaslike regering.