Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Madonsela op lys van invloedrykste vroue in Afrika
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 11/05/2020

Die Universiteit Stellenbosch (US) se prof Thuli Madonsela het nog 'n toonaangewende eerbetoon ontvang.

Madonsela is onlangs by Forbes se lys van die 50 Invloedrykste Vroue in Afrika ingesluit. Die Pan-Afrikaanse lys sonder 'n rangvolgorde is 'n eerste van sy soort wat saamgestel is uit die vasteland se voorste vroue.

Die vroue wat op die Forbes-lys van Afrika se 50 Invloedrykste Vroue verskyn, kom uit verskeie sektore, insluitende handel, politiek, media, wetenskap, sport en die openbare lewe wat die status quo uitdaag deur die geskiedenis te herskryf, ongelykhede te verminder en baanbrekers vir sosiale geregtigheid is.

“Om die Forbes-lys van Afrika se Invloedrykste vroue te haal, laat my nederig voel en dui op voortgesette erkenning van en ondersteuning vir my pogings om demokratiese oorsigbestuur te bevorder ter wille van 'n vreedsamer wêreld wat beter bestuur word," sê Madonsela.

Van die ander Suid-Afrikaanse vroue wat op die Forbes se Afrika-lys in ingesluit is, is onder andere Graca Machel (voormalige kanselier van die Universiteit Kaapstad), Charlize Theron (Oscar-bekroonde aktrise), Caster Semenya (Olimpiese kampioen), Phumzile Mlambo-Ngcuka (uitvoerende direkteur, Verenigde Nasies Vroue), Wendy Ackerman (uitvoerende direkteur, Pick 'n Pay), Glenda Gray (president en HUB, Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (SAMNR)) en Yvonne Chaka Chaka (bekroonde musikant).

As Suid-Afrika se voormalige Openbare Beskermer, is Madonsela hard aan die werk as bekleër van die leerstoel vir Maatskaplike Geregtigheid en die Reg aan die US se Fakulteit Regsgeleerdheid sedert sy in 2018 die aanstelling aanvaar het.

Verlede jaar het sy die eerste Maatskaplike Geregtigheid Spitsberaad en Internasionale Konferensie aangebied en sedertdien het sy die Maatskaplike Geregtigheid M-plan (Mosa-plan vir Maatskaplike Geregtigheid) van stapel gestuur. Die Maatskaplike Geregtigheid M-plan is 'n maatskaplike geregtigheid-versnellingsprogram wat daarop gemik is om die proses om armoede te beëindig en lewensgeleenthede teen 2030 gelyk te maak, soos deur die Nasionale Ontwikkelingsplan, in ooreenstemming met die VN se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte, in die vooruitsig gestel word.

Volgens Madonsela bied haar insluiting by die Forbes Afrika-lys vir haar 'n platform om haar navorsingswerk as bekleër van die leerstoel vir Maatskaplike Geregtigheid te bemark en help dit om die weg te baan vir belanghebbers se aanvaarding van die Maatskaplike Geregtigheid M-plan.

Sy het ook onlangs 'n “aksie-georiënteerde digitale platform" vir maatskaplike geregtigheid bekendgestel. Dit is 'n dinktenk om die uitwerking van COVID-19 en beleidsreaksies daarop vanuit 'n maatskaplike hoek te help assesseer, met die fokus op armoede, ongelykheid en geestesgesondheid.

Madonsela glo Afrika sal nie net die COVID-19-pandemie oorwin nie, maar moet ook die “nuwe insig wat dit bied om ons werklikheid en beskikbare geleenthede raak te sien," omarm om armoede en ongelykheid die stryd aansê.

“Ek hoop van harte dat Afrika deur uitstekende leierskap en eenheid in aksie die COVID-19-ontwrigting sal gebruik om onderontwikkeling, korrupsie en uiterste armoede en ongelykheid binne lande op die vasteland aan te spreek," sê Madonsela.

Om die volledige Forbes-lys van Afrika se Invloedrykste vroue te sien, klik hier