Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US tekstielwetenskaplike ontwikkel toets om effektiwiteit van gesigmaskermateriale te evalueer
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 08/05/2020

Adine Gericke, 'n tekstielekspert van die Universiteit Stellenbosch se Departement Chemie en Polimeerwetenskap, het 'n gestandaardiseerde toets vir die klere- en tekstielvervaardigingsbedryf  ontwikkel waarmee hulle die effektiwiteit van tekstielstowwe en filtermateriale kan evalueer wat in die vervaardiging van gesigmaskers  gebruik word.

Die toets is gebaseer op riglyne wat op 29 Maart 2020 deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) gepubliseer is. Die riglyne is gegrond op navorsing wat toon dat die virus grootliks in die vorm van mikrodruppeltjies versprei deur die mond van 'n geïnfekteerde individu wanneer hy of sy praat, hoes of nies.  Daar word tans aanvaar dat die dra van materiaal maskers 'n belangrike rol kan speel in die vermindering van gemeenskapsoordrag van die virus.

Adine, wat tans een van slegs 'n handjievol tekstielwetenskaplikes in Suid-Afrika is, was ook direk betrokke by die skryf van die Departement van Handel, Nywerheid en Kompetisie se riglyne vir materiaalmaskers wat op 29 April 2020 aanlyn gepubliseer is. In Suid-Afrika is die dra van gesigsmaskers in die openbaar nou verpligtend.

Sy sê die effektiwiteit van die gesigmasker kan baie verbeter word deur 'n optimum kombinasie van materiaallae te gebruik:  “Maskers bestaan tipies uit twee tot drie lae materiaal, wat 'n filterlaag in die middel kan insluit. Elke laag dra by tot die effektiwiteit van die eindproduk. Afhangend van die ontwerp van 'n spesifieke masker, word materiale in enkel lae of in kombinasie getoets."

Sy waarsku egter dat, hoewel die masker beskerming moet bied, moet dit egter nie lugvloei blokkeer nie: indien 'n persoon nie normaal kan asemhaal met die masker op nie,  sal dit beteken dat hy of sy aanmekaar aan die masker gaan vroetel of die masker eerder gaan afhaal. 

Sedert die begin van nasionale inperking het sy sonder ophou gewerk ten einde 'n verskeidenheid van tekstiele en veselvliesstowwe vir die industrie te toets. “Tekstiele is misleidend. 'n Mens kan nie net aanvaar dat een materiaal dalk beter as 'n ander gaan werk net omdat dit byvoorbeeld dikker is nie".

Vir diegene wat hul eie maskers tuis maak, het sy die volgende raad:

  • Ten einde mikro-druppels te stop, gebruik twee, maar verkieslik drie lae materiaal;
  • Probeer om 'n “filter laag" (soos 'n veselvliesstof of tussenvoering) in die middel te plaas, aangesien dit grootliks die vermoë van die masker om mikro-druppeltjies te stop, kan verhoog;
  • Die masker moet gemaklik pas, veral as dit in die werkplek gedra gaan word. Toets jou kombinasie van materiale deur die masker vir ten minste 30 minute te dra (vyf minute is nie voldoende nie). Die masker moet jou toelaat om gemaklik asem te haal, sonder om hitte op te bou of jou vel te irriteer;
  • Eksperimenteer met verskillende materiale totdat jy die regte kombinasie vind.

Sy sê dat dit baie bevredigend was om navorsing  te doen wat 'n onmiddellike en praktiese voordeel vir die samelewing  inhou: “Die meeste van die vervaardigers saam met wie ek gewerk het, is daartoe verbind om goeie kwaliteit gesigmaskers van plaaslik vervaardigde materiale te vervaardig."