Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
'Hierdie pandemie dwing ons om nuwe vrae te vra'
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 07/05/2020

Soos die COVID-19 pandemie oor die wêreld versprei, het vele lande inperking toegepas, met slegs noodsaaklike diensondernemings en werkers wat aktief mag wees en mag rondbeweeg. Die meeste ondernemings het hul kantore gesluit en werknemers wat kan, werk nou van die huis af. Die impak op ekonomieë is verwoestend.

Die wêreld soos ons dit ken het dramaties verander.

Volgens dr Morné Mostert, Direkteur van die Instituut vir Toekomsnavorsing (ITN), sal hierdie nuwe wêreld wat deur die COVID-19 pandemie gevorm word, sakeleiers dwing om “nuwe vrae te vra" om volhoubaar te bly.

“Die eerste soort verandering wat ons gesien het met die pandemie en gevolglike inperking, is die vinnige toename in digitalisering. Alles wat nie voor die uitbraak aanlyn gedoen is uit 'n sake-perspektief nie, het nou digitaal geraak. Uit die klant se perspektief het vele van hul transaksies met ondernemings aanlyn geskuif."

Die ITN is in 1974 by die Universiteit Stellenbosch gestig en is die eerste en enigste instituut van sy soort op die Afrika-vasteland wat fokus op toekoms-denke in besluitneming en toekomsnavorsing. Sy hoofdoel is om langtermyn-risiko's en geleenthede te ondersoek, spesifiek vir besighede en groot organisasies, en met senior besluitnemers te werk om hulle te help om “risiko vooruit te oorweeg en geleenthede vroegtydig aan te voel ten einde beter besluite te neem".

“Ons glo dat ondernemings hierdie baie moeilike tyd moet gebruik om kreatief te wees en nie net te vries en te hoop die pandemie sal verbygaan nie. Deel van daardie kreatiwiteit sluit in die gebruik van hierdie tyd vir eksperimentering."

“Ondernemings moet hulself afvra watter eksperimentering ons as 'n besigheid kan doen sodat, wanneer ons uit hierdie krisis kom, ons nie die wêreld probeer hervat soos wat dit was voor korona nie, maar dat ons 'n nuwe wêreld lei."

Vele eksperimente vind reeds onwetend plaas.

Werk van die huis, sê Mostert, het eintlik “'n wêreldwye eksperiment in die effektiwiteit van afstandelike werk" geword. Alle universiteite en die skole wat dit kan bekostig, het onderrig  en leer van aangesig tot aangesig vervang met aanlyn-alternatiewe.

“Die punt is dat in die 400 000 jaar wat ons al bestaan ons nog nooit 'n krisis van hierdie omvang beleef het nie. Dit sal die eerste generasie van bestuurders, studente en leerders wees wat nou gedwing word om te leer en te werk op hierdie wyse, en die waarheid is dat ons nie regtig weet hoe om dit die beste te doen nie."

“Die beste wyse, gebaseer op die ITN se ondervinding en kundigheid, is om dit te beskou as 'n eksperiment. Met ander woorde, vind iets waaroor jy nuuskierig is, ontwikkel en toets dit, en besluit dan of dit wat jy ontdek het wel nuttig is vir die toekoms van jou onderneming."

“Deel van hierdie besluit is om sommige van die ou aannames oor jou besigheid te toets. Dit verg 'n intellektuele benadering wat van jou vereis om kreatief te reageer teenoor die vorige gewone manier van sake doen, nie sodat jy alles kan verander nie, maar sodat jy oordeelkundig kan wees in die soort besluite wat jy nou neem vir die toekoms."

Al hierdie veranderings, sê Mostert, sal lei na nuwe navorsing oor dinge waaroor ons nooit voorheen hoef te gedink het nie.

“Terwyl ons in die tyd van tegnologie leef, dwing die pandemie ons om nuwe vrae te vra oor die dinamiek van interpersoonlike verhoudings, soos: watter mag is daar geleë in 'n ontmoeting met iemand van aangesig tot aangesig? Dis 'n vraag wat ons nog nooit op 'n wetenskaplike wyse moes beantwoord nie, omdat ons voorheen die luukse daarvan gehad het."

Mense is nou ook pynlik bewus van die onvolhoubaarheid van onbeperkte groei en verbruik.

“'n Pandemie soos hierdie maak dat ons vrae vra oor die idee van onbeperkte groei en of 'n nuwe soort balans moontlik is, veral wat betref die verhouding tussen besigheid en die omgewing. Hierdie pandemie por besigheid opnuut aan om die verhouding wat dit met die omgewing het, te herondersoek, en te bepaal of die uitbuiting van die natuur 'n volhoubare strategie is om die mite van onbeperkte groei aan die lewe te hou."

“Ons is 'n kreatiewe spesie, en die idee van ontwikkeling lyk ingebore. Maar growwe, onoorwoë een-dimensionele groei ten alle koste sal nie ons komplekse probleme oplos nie, en vele ander skep. Kreatiewe en sistemiese oplossings word benodig vir 'n meer gebalanseerde trajek vir ons planeet."

​Ironies het die stigting van die ITN plaasgevind danksy dieselfde bespreking wat tans in die gemeenskap plaasvind oor onbeperkte groei en die impak op die omgewing. In die vroeë 1970's het verteenwoordigers wat die ITN wou stig die eerste vergadering van die Klub van Rome bygewoon. Die Klub beoog om die veelvoudige krisisse wat die mens en die planeet in die gesig staar, aan te spreek deur in te tap by die “unieke kollektiewe kundigheid" van wetenskaplikes, ekonome, sakeleiers en voormalige politici wêreldwyd.

Mostert is onlangs aangestel as 'n lid van die organisasie.

“Die organisasie is gefokus op vyf temas – eerstens, hoe om die ekonomiese stelsels terug te eis en te herformuleer ten einde verby die BBP te beweeg as die enigste maatstaf van ekonomiese groei. Tweedens fokus ons op die nuwe opkomende beskawing, wat insluit die implikasies van die welvaart-ekonomie. Die derde is die klimaat-noodtoestand. Tydens die wêreldwye inperking het ons gesien wat moontlik is met die ongelooflike vermindering in ons koolstof-voetspoor."

“Die vierde fokus is op herbesinning oor hoe ons mense toegang tot finansiering gee sodat hulle indiensneming vir hulself en ander kan skep. Dit vereis dat ons die finansiering-modelle herformuleer. Laastens fokus ons op die jeug, insluitend die vereiste vaardighede om hierdie temas in die toekoms aan te spreek. Dit is interessant dat hierdie vyf temas reageer op vele van die uitdagings wat ons vandag in die pandemie in die gesig staar."

Foto: Dr Morné Mostert, Direkteur van die Instituut vir Toekomsnavorsing. (Voorsien)