Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Navorsers lei ondersoek na ekonomiese impak van COVID-19
Outeur: Corporate Communication
Gepubliseer: 07/05/2020

Navorsers aan die Universiteit Stellenbosch (US) en die Universiteite van Kaapstad en Witwatersrand het vandeesweek 'n gesamentlike navorsingsprojek oor die sosiale en ekonomiese impak van COVID-19 in Suid-Afrika van stapel gestuur.

Die CRAM (Coronavirus Rapid Mobile Survey)-projek behels maandelikse telefoonopnames onder 'n nasionaal verteenwoordigende steekproef van 10 000 Suid-Afrikaners vir die volgende ses maande. Die opnames sal op werkloosheid, huishoudelike inkomste, hongersnood onder kinders en toegang tot regeringstoelaes fokus. 

Die doel van die navorsers is om beleidmakers in te lig, noodlenigingspogings na die plekke met die grootste nood te kanaliseer, en te bepaal of dié pogings die gewenste uitwerking het.

“Ons heel belangrikste doelwit is om beleidmakers te help om die bes moontlike besluite in hierdie moeilike tye te neem," sê die leiernavorser van die projek, dr Nic Spaull van US se Departement Ekonomie. “Wat meer is, alle data afkomstig van hierdie projek sal onmiddellik vrylik beskikbaar wees op die DataFirst-platform."

Hy het die motivering vir die studie en die samewerkende aard daarvan soos volg verduidelik: “Ons weet die koronaviruspandemie is die grootste uitdaging vir ons generasie; dit het reeds 'n wesenlike sosiale en ekonomiese uitwerking op ons land. Toe die data uit China, Italië en Spanje ons begin bereik, het ons geweet dit gaan ons ekonomie verwoes en 'n wêreldwye resessie veroorsaak."

Dit het Spaull en sy kollega aan die US, prof Servaas van der Berg, bekleër van die NNS-leerstoel in die Ekonomie van Sosiale Beleid, tot aksie aangespoor: “Ek bedoel, ons het onsself afgevra wat ons kan doen om te help. Wat is die rol van navorsers wat deur 'n globale pandemie en ekonomiese katastrofe in die gesig gestaar word? En dalk het die feit dat ons ekonome is – en as 'n hamer al is waaroor jy beskik, lyk alles soos 'n spyker –  ons keer op keer na dieselfde punt teruggebring: ons benodig goeie data! In die praktyk is alle opnames stopgesit omdat sensusopnemers nie tans data in die veld kan insamel nie. Daar gaan vanjaar selfs nie eens verbruikersprysindeksdata wees nie," het Spaull gesê.

Die navorsers het besef dat hulle telefoonopnames moet gebruik, asook die navorsing aan 'n voorafgaande opname koppel om seker te maak dat dit nasionaal verteenwoordigend sal wees. Dit sou hul toegang gee tot die selfoonnommers van bestaande steekproef-deelnemers.

“Om nasionaal verteenwoordigend te wees, wou ons by een van die bestaande opnames oor inkomste en sosiale dinamiek, inskakel. Ek het kollegas aan die Universiteit van Kaapstad gekontak om te hoor of dit moontlik sou wees om die Nasionale Inkomste- Dinamiekstudie (NIDS) – 'n nasionaal verteenwoordigende paneelopname wat op inkomste en sosiale dinamiek fokus – uit te brei. Ons wou 'n NIDS-selfoonopvolg insluit om te sien hoe sake op grondvlak verander. Die Departement van Beplanning, Monitering en Evaluasie (DPME) in die Presidensie was besonder behulpsaam met fasilitering ten einde die nodige goedkeuring te bekom vir die gebruik van die data. Die navorsers van die Suider-Afrikaanse navorsingseenheid gemoeid met arbeidsontwikkeling (SALDRU), die implementeringsagentskap van NIDS en nou ook van NIDS-CRAM, was ewe behulpsaam. Dit was 'n riem onder die hart om te sien hoe almal saamgewerk het."

Die feit dat prof Ingrid Woolard, dekaan van US se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, voorheen een van die leiernavorsers van die NIDS-studie aan die Universiteit van Kaapstad was, is tot die projek se voordeel.

“NIDS versamel data van dieselfde 28 000 persone vir meer as 'n dekade lank, so ons het reeds geweldig baie data oor die lewensverloop van die individue vóór die COVID-krisis," sê Woolard. “Statisties gesproke sal die data van die CRAM-studie 'n sorgvuldige prentjie verskaf van die verwoesting wat deur die virus veroorsaak is. Dit kan help om tydige en gefokusde beleidsintervensies te maak. Dit was besonder bemoedigend om te sien hoe vining DPME ingestem het om die steekproef beskikbaar te stel vir hierdie belangrike werk."

Studievelde

Spaull en agt medenavorsers van die Universiteite van Kaapstad (UK), Stellenbosch en die Witwatersrand (Wits) staan elkeen aan die hoof van verskillende studievelde, naamlik steekproefneming, sosiale welsyn, arbeid en firmas, gesondheid en COVID-19, asook die NIDS-werksaamhede: proff Reza Daniels en Vimal Ranchhod (UK); David Carel, drs Gabrielle Wills en Nwabisa Makaluza, proff Ronelle Burger, Rulof Burger en Servaas van der Berg (almal van US); en prof Dori Posel (Wits).

“Ek dink die projek is werklik opwindend. Dis die eerste nasionaal verteenwoordigende opname en dit help ons met belangrike inligting wat nie met internet-opnames moontlik is nie. Dit sal reg van die begin af byna intydse inligting verskaf oor of die toegang tot gesondheidsorg deur die kapasiteitsbeperkings van ons gesondheidstelsel, vrese oor die opdoen van die virus, en die ontwrigting van vervoernetwerke beïnvloed word. Ons sal ook die interaksie tussen toegang tot gesondheidsorg, die ontvang van toelaes, en werk kan waarneem. Dis besonder belangrik vir beleidmakers, want dit stel hulle in staat om beleidsaanpassings te maak in hierdie onseker omgewing," sê Burger van die US Departement Ekonomie, 'n kundige op die gebied van gesondheidsekonomie.

Makaluza, een van die navorsers gemoeid met navorsing oor sosio-ekonomiese beleid (ReSEP) in die US Departement Ekonomie, meen: “Teen die agtergrond van die uiterste ongelykhede in Suid-Afrika, is dit krities dat ons inligting inwin oor wat op die laer vlakke van die  inkomsteverspreiding gebeur – diegene wat werkloos is. Internetopnames is nie verteenwoordigend van die armes nie en ek reken dit beantwoord nie die belangrikste vraag op hierdie oomblik nie: Hoe beïnvloed COVID-19 die lewens van die mees gemarginaliseerde mense in Suid-Afrika? Ek dink CRAM kan help om dié vraag te beantwoord."

Van der Berg verduidelik: “Dit was van die begin af duidelik dat 'n telefoonopname nuwe uitdagings sou meebring. Een daarvan was om 'n goeie steekproefraamwerk met telefoonnommers te vind. Ons kon gelukkig die NIDS-steekproef gebruik. 'n Ander was om die opname kort te hou, veel korter as vir 'n veldwerkvraelys. Daar is soveel wat ons graag wil weet, maar ons moes ons by die prioriteite bepaal. Ons belangrikste oorweging was watter inligting dit kan verskaf wat met beleidsmaking kan help."

Die projek het vinnig momentum opgebou en medewerkers van ander departemente en universiteite bygekry, het Spaull bygevoeg. Die groep CRAM-navorsers bestaan nou uit meer as 30 navorsers van vyf universiteite.

Die CRAM-studie sal ses 'golwe' of fases insluit; een per maand vir die volgende ses maande. Fase 1 het vandeesweek afgeskop en sal tot die einde van Mei 2020 duur. Die resultate hiervan word teen middel-Junie verwag en sal by die CRAM-webtuiste (www.cramsurvey.org/) beskikbaar wees.

  • Die projek word deur die Nasionale Beplanningskommissie, die Nasionale Tesourie en die Departement van Beplanning, Monitering en Evaluasie in die Presidensie gesteun. Dit word deur drie donateurs befonds, naamlik die Allan en Gill Gray filantropiese fonds, die FEM-opvoedingstigting en die Michael en Susan Dell Stigting.
  • Foto verskaf deur CRAM.