Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wiskunde-identiteitsprojek help leerders met redenasie
Outeur: Asiphe Nombewu /Corporate Communication
Gepubliseer: 06/05/2020

​Die Universiteit Stellenbosch (US) se Wiskunde-identiteitsprojek help laerskoolleerders met wiskundige redenasie en is daarop gemik om 'n positiewe ingesteldheid jeens wiskunde te kweek.

Die Wiskunde-identiteitsprojek, wat daarop gemik is om 80 finalejaar-wiskundestudente aan 'n skoolomgewing bekend te stel, is nog 'n voorbeeld van hoe die US 'n naaf van betrokke onderrig en leer is wat sy studente op hul reis ondersteun om die graduandi-eienskappe soos deur die Universiteit uiteengesit, te ontwikkel.

Onder leiding van dr Erna Lampen, 'n dosent in die departement Curriculumstudies by die US se Fakulteit Opvoedkunde, het die wiskundeprojek reeds meer as 500 leerders betrek sedert dit in 2017 bekend gestel is.

“Die projek is 'n uitvloeisel van die benarde posisie van graad 8-leerders wat deurgesit word met uiters lae punte. Om dit aan te spreek, het ons die projek begin met 'n groep van 80 finalejaarstudente om met leerders van graad 4 tot 7 te werk.

“Ons het besluit om in hierdie projek ons aandag op die leerders se ingesteldheid, betrokkenheid en redenasie in wiskunde te vestig. Hoe gouer leerders verstaan dat wiskunde nie net oor punte gaan nie, hoe beter is hul betrokkenheid en so verander hul ingesteldheid jeens die vak. Ons wil hê leerders moet weet dat wiskunde ook oor intellektuele betrokkenheid gaan – ons leerders moet weet hul punte kan verbeter deur betrokke te wees en vrae te antwoord," sê sy.

Lampen glo laerskoolleerders se belangstelling in wiskunde moet aangewakker word sodat hulle wiskundige denkers kan word. Daarom fokus hulle op die bou van die kinders se identiteit as wiskundige denkers, eerder as om 'n klub te fokus.

Volgens Lampen is die projek ook daarop gerig om finalejaarstudente te leer hoe om op die regte manier op leerders se redenasie te reageer om betrokkenheid en bemiddeling as deel van hul akademiese werk te bevorder. “Ons met het in 2017–2018 met Laerskool AF Louw gewerk, en voor die algehele inperking het ons met Laerskool Cloetesville gewerk," sê sy.

“Ons wil finalejaarstudente met die nodige vaardighede toerus om leerders se redenasies in die klas raak te sien en aan te moedig. Ons finalejaarstudente moet leer om aandagtig te luister en dit wat die leerders sê, te interpreteer," voeg Lampen by.

Sy sê hoewel dit 'n uitdaging is vir een dosent om die studente se betrokkenheid te monitor, waardeer die skole hul hulp en is hulle bereid om saam te werk.

Lampen sê die projek is uit haar liefde vir wiskunde gebore. “My navorsingsbelangstelling is in die breër vakgebied van voordiensopleiding vir onderwysers, met 'n spesifieke fokus op leerder- en onderwyseridentiteite in verhouding tot probleemgesentreerde wiskunde.

Volgens haar is dit noodsaaklik dat die onderwyser in staat is om na leerders se redenasies op te let en daarop te reageer asook om konseptuele onderwysspraak veral in die inhoudgebiede van meetkunde en statistiek te ontwikkel. ​