Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Luigia laat niks in die pad van haar drome staan nie
Outeur: Corporate Communication/Sandra Mulder
Gepubliseer: 05/05/2020

“Dit is moeilik om gedurende die tydperk van algehele inperking jouself 'n tyd ná die pandemie voor te stel, maar ons gaan hierdeur kom; neem net elke dag soos dit kom."

Dít is die woorde van Luigia Nicholas, 'n nagraadse studente by die Universiteit Stellenbosch (US), aan haar medestudente. Sy is die tweede persoon om die portefeulje vir spesiale behoeftes op die Studenteraad (SR) te beklee. Die eerste bekleër van hierdie portefeulje was Bongani Mapumulo, 'n honneursstudent in Sosiale Dinamika, in 2019.

“Ek moes leer om aan te pas by my gestremdheid. As die tweede bekleër van die portefeulje in die Universiteit se geskiedenis, hoop ek om uit my lesse en ervaring in my werk met die behoeftes en uitdagings wat studente met gestremdhede ondervind, te put om studente met gestremdhede en die breër universiteitsgemeenskap te help om nader aan 'n meer toeganklike Stellenbosch Universiteit te beweeg."

Luigia het verlede jaar haar BCom-graad in Bemarking voltooi en was een van die honderde graduandi wie se grade by 'n virtuele seremonie in April vanjaar toegeken is. Sy het direk nadat sy haar graad voltooi het, vir 'n Nagraadse Diploma in Belastingreg ingeskryf.

Luigia het 'n vrolike en spontane persoonlikheid en lewe met oorgawe. “Ek het verlief geraak op studeer en het 'n passie vir rekeningkunde en belasting. Ek was dus baie bly oor die geleentheid om belastingreg te studeer."

Sy hoop om in belasting vir mense met gestremdhede te spesialiseer. “Hierdie vakgebied fassineer my. Baie mense verstaan nie die belastingimplikasies vir gestremdes nie. Ek kan hier 'n rol speel."

Luigia ly aan twee oorerflike siektes Stargardt se siekte en Fuchs uveïtis-sindroom wat haar sig benadeel. Hierdie siektes veroorsaak dat haar sig geleidelik agteruitgaan. Sy en haar gidshond, Haiku, is 'n bekende gesig op kampus.

Met die COVID-19-pandemie wat tersiêre onderrig wêreldwyd ontwrig, moes studente in Suid-Afrika en ander wêrelddele hul tot aanlyn-leer wend om hul studies voort te sit.

Oor die huidige situasie van die voortsetting van haar studies te midde van 'n nasionale ramp, sê Luigia: “Ons moet aanhou vorentoe beweeg. Dit het ietwat van 'n kopskuif vir my geverg om nie kampus toe te gaan en interaksie met ander mense te hê nie. Aan die begin was die algehele inperking moeilik. Ek moet my daaglikse roetine afleer en 'n nuwe roetine skep wat vereis dat ek tuis bly."

Een van haar uitdagings was om Haiku by die nuwe isolasie-roetine te laat aanpas. Luigia en Haiku is al die afgelope drie jaar elke dag saam. Voor die algehele inperking het hulle twee orals saamgegaan – van lesingsale tot die winkels.

“Wanneer hy wou gaan stap, sou hy by die deur gaan staan. Hy het hard gewerk. Ek dink die moeilikste ding vir Haiku is om nou die hele tyd binne te bly. Hy mis sy daaglikse stappies en om die hele tyd besig te wees," sê sy.

Luigia het egter nie 'n ander keuse as om Haiku buite toe te vat wanneer hy 'badkamer toe moet gaan' nie. “Ek is bang die polisie gaan dink dat ek met Haiku gaan stap terwyl hy net op 'n 'badkamer-stappie' is."

Luigia het in 2014 begin studeer. Sy het nie net klas bygewoon in hierdie tyd nie, maar het ook aan talle ko-kurrikulêre aktiwiteite deelgeneem van die voltooiing van kursusse in leierskap en wêreldwye burgerskap by die Frederick Van Zyl Slabbert (FVZS)-instituut tot die fasilitering van werksessies oor toegang by die US. Sy is ook tans besig om die US se Toastmasters Speechcraft-program te voltooi om haar aanbiedingsvaardighede te verbeter.

Luigia het in 2018 die Dis-Maties-toekenning ontvang vir die aanbieding van verskeie werksessies vir personeel en studente aan die US. Sy was ook die voorsitter (2016/2017) en tesourier (2015/2016) van Dis-Maties. Sy is tans die tesourier van die Pulp-filmvereniging by die US. Sy is ook deel van die Stellenbosch Disability Network (SDN).

“My leuse is om volgens Harry Oppenheimer se uitspraak te leef dat 'die oneindige verskeidenheid van die lewe met oneindige hulpbronne begroet moet word'. Wat my voortdryf is dat ek deur my eie worstelinge te oorkom, ander kan help om dieselfde te doen. Ek werk om te voel dat ek saak maak en dat ek gehoor moet word, en sodoende sal diegene wat dieselfde pogings aanwend, dink hulle maak saak en dat hulle gehoor moet word. Wanneer ek uiteindelik my stryd wen, sal ander hopelik nie die dieselfde stryd hoef te oorwin nie. Ons beweeg saam vorentoe," sê sy.

Sy wil in haar orige tyd as 'n Matie met studenteleiers en organisasies soos die SDN werk om die Universiteit Stellenbosch Afrika se toeganklikste kampus te maak.

“Ek is lief vir die Maties en Maties het vir my so baie gegee. Ek wil aan ander studente en personeel met gestremdhede die geleentheid gee om net soveel soos ek by die US te groei, en om 'n kampus te hê wat nog meer toeganklik is as wat dit vir my was."