Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Jong ekoloog ontvang gesogte Robert May-toekenning
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 05/05/2020

Dr. Corneile Minnaar, 'n nadoktorale genoot in die Departement Plant- en Dierkunde by die Universiteit Stellenbosch (US), het die Robert May-navorsingstoekenning vir 'n navorser aan die begin van sy loopbaan, ontvang vir die beste artikel wat in 2019 in die vaktydskrif Methods in Ecology and Evolution (MEE) gepubliseer is.

Hierdie jaarlikse toekenning is vernoem na Lord Robert May, 'n fisikus en ekoloog wat bekendheid verwerf het vir sy gebruik van wiskundige tegnieke ten einde die verhouding tussen kompleksiteit en stabiliteit in natuurgemeenskappe te begryp. Saam met die prys ontvang die wenner ook £250 en lidmaatskap van die Britse Ekologiese Vereniging, ook bekend as BES.

Dr. Minnaar het die toekenning gekry vir sy artikel “Using quantum dots as pollen labels to track the fates of individual pollen grains". Hierdie artikel is gebaseer op sy werk vir sy PhD-studie onder die studieleiding van prof. Bruce Anderson van die Departement Plant- en Dierkunde by die US.

Dr. Minnaar verduidelik: “'n Sentrale komponent van 'n organisme se fisieke gesondheid is sy vermoë om suksesvol te kan voortplant. Dit sluit die vind van 'n potensiële maat en suksesvolle paring in. By plante is die oordrag van stuifmeel van 'n helmknoppie na 'n gelyksoortige stempel essensieel vir suksesvolle voortplanting, maar die direkte nasporing van die beweging van individuele stuifmeelkorrels was tot dusver onmoontlik."

Dit is belangrik, want om te weet hoe stuifmeel rondbeweeg en of hulle wel die saadknoppies suksesvol bevrug, staan sentraal in ons verstaan van die evolusie van die ekologie van blomplante en blom-eienskappe.

Dr. Minnaar het kwantumstippels ingespan om stuifmeelkorrels na te spoor deurdat hy baie klein hoeveelhede kwantumstippels (in 'n heksaansuspensie) direk op helmknoppies geplaas het en die beweging van die stippels van die een na die ander plant gevolg het.

Volgens 'n mediavrystelling van die Britse Ekologiese Vereniging, sal hierdie koste-effektiewe metodologie (teen ongeveer US$0.02 per blom) nuwe geleenthede bied om belangrike onbeantwoorde vrae in plantbiologie te ontgin.

Hierdie metode is nou gepubliseer en dr. Minnaar het sedertdien 'n NNS Innovasie Nadoktorale Genootskap ontvang, sowel as 'n Tegnologie en Innovasie Saadbefondsingsfinansiering. Hy werk tans nou saam met industrievennote soos bv. Koppert Biological Systems om meer volhoubare en effektiewe bestuiwingsmetodes te ontwikkel.