Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US se interaktiewe kampuskaart ’n eerste in sy soort
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 30/04/2020

Moet jy altyd vir rigtingaanwysings vra? Of sukkel jy om jou pad deur al die Universiteit Stellenbosch (US) se talle gebou te vind? Dan is die nuwe interaktiewe kampuskaart net wat jy nodig het.

'n Span van die US se Fasiliteitsbestuur in samewerking met Informasietegnologie het saam met Esri Suid-Afrika n pasgemaakte kampuskaarttoepassing ontwikkel wat studente, voornemende studente, ouers en die breër Stellenbosse gemeenskap kan gebruik om die kampus te verken. Jy kan met hierdie kaart meer oor die verskillende liggings, hul omgewing en belangrike plekke leer.

Die nuwe interaktiewe kampuskaart is 'n unieke instrument om mense te help om hulself te oriënteer en as 'n gids van die kampus te dien.

Fasiliteitsbestuur se Ontwikkelings-, beplanning- en -Ontwerp-departement (OBO) het in April 2019 met besprekings begin oor hul visie om 'n interaktiewe kampuskaart waar inligting van een sentrale bron verkry word, te ontwikkel. Hulle hoop die Universiteit Stellenbosch sal die eerste instelling in Suid-Afrika wees wat 'n kaart van hierdie aard ontwerp en ontwikkel waarby die hele Universiteitsgemeenskap kan baat vind.

Die kaart is uiters gebruikersvriendelik en jy hoef nie rekenaargeletterd te wees om dit vir navigasie te gebruik nie.

Van die sleutelkenmerke van die nuwe interaktiewe kampuskaart sluit 'n skaalstaaf en 'n instrumentepaneel wat die soek, lys van lae, druk en teken en metingsinstrumente bevat, in. Die kaart bevat ook 'n soekfunksie wat jou toelaat om na spesifieke tipe geriewe soos parkeerterreine, biblioteke, fakulteitsgeboue en kampusbestemmings op al vier kampusse van die Universiteit te soek.

Die nuwe interaktiewe kaart is met 'n ArcGIS-webtoepassingbouer-raamwerk gebou, wat dataverbruik sal verminder in vergelyking met ander navigasie-instrumente soos Google Maps.

Die interaktiewe kampuskaart beskik oor 'n gebruikershandleiding wat meer inligting oor al die navigasiefunksies van die kaart bevat. Die kampuskaart kan aangepas en verder ontwikkel word soos die behoefte onstaan.

Namate die kaart gebruik word, word gebruikers aangemoedig om met nuwe voorstelle en kommentaar na vore te kom om te help om dit te verbeter. Kommentaar en voorstelle kan gestuur word na jermaineh@sun.ac.za.

Om die kampuskaart te sien en meer uit te vind daaroor, besoek https://campusmap.sun.ac.za/.