Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
COVID-19 “infodemie”: samesweringsteorieë uiters gevaarlik
Outeur: Faadiel Essop
Gepubliseer: 29/04/2020

Fopnuus en samesweringsteorieë oor die COVID-19-pandemie is uiters gevaarlik omdat dit mense se vertroue in tradisionele mediese instellings, wetenskaplikes en gesondheidsorgwerkers aftakel, skryf prof Faadiel Essop van die Sentrum vir Kardiometaboliese Navorsing in Afrika in ʼn onlangse meningsartikel vir News24.

  • Lees die vertaalde weergawe hier onder of klik hier vir die artikel soos geplaas.

COVID-19 “infodemie": samesweringsteorieë uiters gevaarlik

Faadiel Essop*

Ek het besluit om hierdie artikel te skryf ter verdediging van moderne geneeskunde en die mediese wetenskappe nadat nog 'n samesweringsvideo wat in my WhatsApp-inmandjie beland het, my letterlik “oor die rand van die afgrond" gestuur het. Hierdie keer is dit 'n “eksklusiewe" video (meer as twee miljoen kere gekyk) deur 'n sogenaamde kundige, dr Rashid Buttar, wat die SARS-CoV-2-biowapen-storie opdis. Buttar beweer hier (onbewese) dat die virus in 'n laboratorium in die VSA vervaardig is en dat vooraanstaande mense soos Bill Gates en dr Anthony Fauci 'n integrale rol in hierdie onderduimse plan speel.

Buttar maak ook die gewaagde aantyging dat mediese dokters in die voorste linies ook geïmpliseer word aangesien hulle doodsertifikate moet “dokter" (verskoon die woordspeling) om SARS-CoV-2 valslik as die sterfte-oorsaak aan te dui! Sulke teorieë is dikwels strydig van aard, soos byvoorbeeld, is die virus biologies in die VSA of China vervaardig? Dit blyk af te hang van jou bepaalde wêreldsiening en/of politieke ideologie. Ander uitheemse beweringe sluit onder meer in dat 'n kuur reeds beskikbaar is, maar dat dit weerhou word vir latere winste en/of dat 5G-selfoontorings die huidige pandemie veroorsaak. 

Maak dit op die lange duur saak of sulke beweringe ernstig opgeneem word of nie? Dit maak inderdaad saak, aangesien daar ernstige nagevolge kan wees indien dit nie geverifieer word nie. Tedors Adhanom Ghebreyesus, die direkteurgeneraal van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO), het die uitdaging heel gepas opgesom toe hy onlangs die volgende gesê het: “Ons beveg nie net 'n epidemie nie; ons veg teen 'n 'infodemie'." Hy het na die vinnige verspreiding van fopnuus verwys – soortgelyk aan hoe 'n vernietigende virus sal versprei. Die skadelike, abnormale toestande wat op sulke misleidende inligting en valse beweringe kan volg, kan nadelig wees, soos ons gesien het met die skade aan 5G-selfoontorings in die VK, of toe masjinis Eduordo Morena probeer het om teen die VSA se vloothospitaalskip Mercy in Los Angeles te bots. Morena het later skuld erken, maar glo steeds dat die Mercy 'n ander (verdagte) doel gehad het wat met COVID-19 verband hou en waarvan die publiek nie bewus was nie. 

Bykomend tot sulke fisieke vernietigende dade, takel die infodemie ook die vertroue in tradisionele mediese instellings, wetenskaplikes en gesondheidsorgwerkers af. Dit is net so gevaarlik, want hierdie aftakeling kan daartoe lei dat sekere sektore van die publiek riglyne wat deur mediese kundiges en owerhede soos die WHO en ander verskaf word, bevraagteken. Dit kan maklik tot 'n situasie van “ons" teen “hulle" lei. Beswaarmakers in die VSA het byvoorbeeld onlangs die algemene stipulasies vir inperking en sosiale afstandskepping geïgnoreer terwyl hulle 'n beroep op die “bevryding van Michigan, Virginia en Minnesota" gedoen het, ten einde ekonomiese aktiwiteite in die VSA te hervat. Hierdie protesbeweging duur voort in die VSA. 

Die vraag wat ons onsself moet afvra is dit: Hoekom is sekere sektore van die publiek so geneig tot sulke ondeurdagte beweringe en sameswerings ondanks die oorvloed onweerlegbare bewyse? Dit is kommerwekkend dat data wat deur die Pew Navorsingsentrum verskaf is, toon amper 'n derde van die Amerikaanse bevolking wel glo dat die virus in 'n laboratorium geskep is. Hoekom sal iemand 'n video deur 'n sogenaamde “kundige" (met twyfelagtige getuigskrifte) glo dat die SARS-CoV-2 'n biowapen is wanneer daar oortuigende bewyse vir die teendeel is?

Die skrywers van 'n onlangse omvattende studie wat in die hoogaangeskrewe vaktydskrif, Nature Medicine, verskyn het, het byvoorbeeld tot die gevolgtrekking gekom dat die genetiese dat “onomstootlik bewys dat SARS-CoV-2 nie uit die ruggraat van enige voorheen-gebruikte virus afgelei is nie". Die skrywers stel twee ander moontlikhede vir die oorsprong daarvan voor, naamlik natuurlike seleksie in 'n gasheerdier voordat dit na mense oorgedra is, of natuurlike seleksie in mense nadat die virus van diere af oorgedra is.

Ter ondersteuning hiervan het 'n groep van 27 kundige openbare gesondheidwetenskaplikes onlangs 'n verklaring in die hoogaangeskrewe Lancet-vaktydskrif vrygestel waarin hulle die volgende verklaar: “Ons staan saam om samesweringsteorieë wat beweer dat COVID-19 nie 'n natuurlike oorsprong het nie, ten sterkste te veroordeel." Ondanks duidelike bewyse dat Iran geen 5G-selfoontorings het nie, maar 'n aansienlike COVID-19-siektelas ten opsigte van siektesyfers en sterftesyfers dra, duur die samesweringsteorieë voort. Net so weerhou die feit dat 'n entstof eers oor 18 maande vir toetsing gereed sal wees, nie mense daarvan om inligting te versprei dat geheime farmakologiese geneesmiddele reeds beskikbaar is, maar weerhou word nie!

John Cook van die George Mason-universiteit en Stephan Lewandowsky van die Universiteit van Bristol het onlangs 'n uitstekende verduideliking vir sameswering-tipe gedrag aan die hand gedoen. In hul nuwe Conspiracy Theory Handbook stel die skrywers dit dat die gebrek aan sekerheid en/of die gebrek aan duidelike antwoorde op 'n groot probleem 'n vrugbare teelaarde vir samesweringsteorieë skep om te floreer omdat hulle 'n gevoel van beheer verskaf. Hulle sê “dit blyk amper intuïtief onaanneemlik te wees, want hoekom sal dit mense meer in beheer laat voel as hulle hul voorstel dat daar geheime samesweerders iewers in 'n laboratorium is wat 'n virus skep? Omdat dit ten minste 'n verduideliking verskaf. En indien die verduideliking bloot is dat lukrake goed in die natuur gebeur, hou mense nie van toevalligheid nie. Ons verkies eerder oppervlakkige verduidelikings".

Hierdie soeke na oppervlakkigheid is presies die gaping wat deur diegene wat skadelike sameswerings versprei, gevul word. Dit word gedoen deur konteks rondom gebeure en mense te verwyder en deur verwante gebeure simplisties met mekaar te verbind. Indien Bill Gates byvoorbeeld in 'n TED-praatjie in 2015 teen 'n toekomstige pandemie gewaarsku het, en daar is 'n COVID-19-pandemie in 2020, is dit gelykstaande aan “bewyse en oppervlakkigheid" in die wêreldsiening van die samesweerder. Daarom word Bill Gates dus deel van die sameswering. Terloops, sommiges sê Nostradamus het ook die pandemie voorspel, net soos die VSA-presidente, George W Bush en Barack Obama. Beteken dit hulle is op groot skaal by sameswerings betrokke?

Let daarop dat die oorvloed samesweringsteorieë wat tans soos veldbrande versprei, nie eie aan die COVID-19-pandemie van 2020 is nie. 'n Soortgelyke scenario het aanvanklik voorgekom met die HIV/Vigs-ontkenning, wat tot vertraagde behandeling in Suid-Afrika (laat negentigerjare en vroeë 2000) en 'n aansienlike aantal onnodige en voorkombare sterftes gelei het. Net so is die Duitsers daarvan beskuldig dat hulle 'n nuwe oorlogswapen vrygestel het wat die Spaanse griep (1919–1920) veroorsaak het, met beweringe dat hulle saamgesweer het om hierdie missie te voltooi deur die Boston-hawe met 'n gekamoefleerde skip binne te gaan. 

Die onus berus dus op die geneeskundige professie en mediese wetenskaplikes om te verseker dat ons gereeld met die publiek kommunikeer om 'n gevoel van groter sekerheid en beheer te verskaf. Deur gereeld en duidelik die feite te verskaf, en deur die tyd te neem om verwante mites aan die kaak te stel, behoort so 'n benadering te help om die samelewing teen die COVID-19-infodemie “in te ent" en daardeur tot ingeligte besluitneming en minder oorvol WhatsApp-inmandjies te lei. 

*Prof Faadiel Essop is die direkteur van die Sentrum vir Kardiometaboliese Navorsing in Afrika (CARMA) aan die Universiteit Stellenbosch.

         ​