Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nasionale opname oor studente-geestesgesondheid bekend gestel
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 16/04/2020

Studente staar dikwels geestesgesondheidsprobleme in die gesig en kry nie altyd die ondersteuning wat hulle nodig het nie. En met die ontwrigting en onsekerhede wat die COVID-19-pandemie veroorsaak, is daar 'n goeie kans dat hul geestesongesteldhede kan vererger.

Om die geestesgesondheid- en ondersteuningsbehoeftes van Suid-Afrikaanse voorgraadse studente te bepaal, is 'n nasionale opname, aangevoor deur die Universiteite Suid-Afrika-forum (USAf), op 9 April 2020 bekend gestel. Die opname word deur die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad befonds en onderskryf deur verskeie universiteite se visekanseliers en dekane van studente. Die navorsing is deel van die Wêreldgesondheidsorganisasie se Wêreldgeestesgesondheid Internasionaal Studente-inisiatief, 'n internasionale netwerk van kundiges wat saamwerk om die geestesgesondheid van universiteitstudente wêreldwyd te bevorder. 

“Die nasionaal-gekoördineerde studente-opname is in reaksie op die toenemende plaaslik en wêreldwye bewustheid van die behoefte aan kampusgebaseerde programme om die psigososiale gesondheid van studente te bevorder en om die behandelingsgaping te verklein," sê prof Jason Bantjes van die Universiteit Stellenbosch (US) se departement Sielkunde en hoofondersoeker in die nasionale studente-opname. Bantjes het saam met sy kollegas by die US se departmente Sielkunde en Psigiatrie, sowel as navorsers by die Universiteit Kaapstad en Harvard-universiteit aan die projek gewerk.

“Die nasionale student-opname is belangrik, veral in hierdie tyd van die COVID-19-pandemie wat baie studente bekommerd oor die onderbreking in hul studies en angstig oor die maatskaplike en ekonomiese uitwerking van die huidige internasionale gesondheidskrisis laat voel."

Bantjes sê uitnodigings om aan die opname deel te neem, is reeds per e-pos aan studente by die Universiteit van Johannesburg, Universiteit Stellenbosch, Rhodes-universiteit en die Mangosuthu Universiteit van Tegnologie gestuur. Studente by Wits-universiteit is vandeesweek ingeskryf en ander universiteite sal gedurende die volgende twee weke bygevoeg word. Hulle hoop om alle voorgraadse studente by openbaar-befondsde universiteite in die land te bereik.

Volgens Bantjes gaan die anonieme, naamlose opname oor meer as net die bepaling van studente se huidige vlak van ongemak. Dit is ontwerp om studente se ondersteuningsbehoeftes, hul geskiedenis van psigososiale probleme, asook hul geestesgesondheidsrisiko's en beskermende faktore te bepaal.

“Die opname meet ook blootstelling aan trauma, voedselonsekerheid en geslagsgebaseerde geweld op universiteitskampusse. Die opname sal deurslaggewende inligting oor studente se veerkragtigheid, toegang tot behandeling, asook hul voorkeure vir en ingesteldhede teenoor psigososiale dienste en intervensies verskaf. Die data wat ingesamel word, sal help om paslike openbare geestesgesondheidstrategieë ter bevordering van studente se welstand te formuleer en om kampus-gefokusde intervensies te beplan en te toets."

Ter beklemtoning van die behoefte aan so 'n opname, wys Bantjes op studies wat getoon het dat soveel as 31% van studente die afgelope 12 maande 'n algemene geestestoestand aangemeld het. Hy voeg by dat die probleme wat die gereeldste by studente voorkom, depressie, angs en aandagversteurings is.

“Data van 'n onlangse Suid-Afrikaanse studie toon dat 20,8% eerstejaarstudente die afgelope 12 maande klinies-betekenisvolle probleme met angs gehad het, en 13,6% het probleme met depressie ondervind. Hierdie geestesgesondheidsprobleme het 'n wye verskeidenheid nadelige uitwerkings, insluitende verswakte sosiale funksionering, akademiese mislukking en selfdood.

“Data wat onlangs van eerstejaarstudente aan twee groot Suid-Afrikaanse universiteite versamel is, het getoon dat 30,6% die afgelope twaalf maande gedagtes van selfdood gehad het, terwyl 16,6% selfdood beplan het en 2,4% selfdood probeer het.​"

Volgens Bantjes is hierdie koerse aansienlik hoër as wat tipies onder die land se algemene bevolking voorkom. Hy sê daar is geen akkurate data oor die aantal studente in Suid-Afrika wat selfdood suksesvol uitvoer nie, maar anekdotiese getuienis dui daarop dat selfdood-sterftes onder studente ook 'n bron van ernstige kommer is. “Terwyl daar 'n hoë voorkoms van sielkundige angs onder studente is, is die behandelingkoers laag. Tussen 20 en 30% van studente met geestesgesondheidsprobleme ontvang behandeling."

Bantjes sê hierdie lae behandelingskoers is gedeeltelik weens 'n gebrek aan toegang tot dienste, maar voorgraadse studente is dikwels baie ongeneë om formele behandeling by 'n geestesgesondheidspraktisyn te soek. Hulle verkies eerder om psigososiale ondersteuning by vriende, familie of selfs deur selfhelp te soek.

“Die patrone vir die gebruik van geestesgesondheidsdienste onder studente word ook deur die kulturele gepastheid van dienste en studente se persepsie van hul behoefte aan dienste gevorm."

Bantjes sê hierdie soort navorsing is nodig om te verseker dat voorkomingstrategieë pasgemaak is en veral op studente wat die hoogste risiko loop, fokus. “Dit is veral belangrik gegewe dat geestesgesondheidsbronne in Suid-Afrika skaars is en die land se universiteite beleef aansienlike tekorte aan hulpbronne."

Hy moedig alle voorgraadse studente aan om aan die opname deel te neem, en voeg by dat die besonderhede op interne elektroniese studenteforums geplaas sal word.

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Prof Jason Bantjes

Hoofondersoeker: Caring Universities-navorsingsprojek

Departement Sielkunde

Universiteit Stellenbosch

E-pos: jbantjes@sun.ac.za

​UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4921

E-pos: viljoenm@sun.ac.za