Spesialiste by die intensiewe sorg-eenheid by die Tygerberg-hospitaal het ʼn nuwe kollega wat infeksie-bestand is om hulle te help om saalrondtes by Covid-19-pasiënte te doen. “Quintin" – soos hulle 'hom' noem – is ʼn Double Robotic 'robot' wat spesialiste help om 'virtuele' saalrondtes te doen – selfs van die huis af – indien hulle nie fisies daar kan wees nie.
Coenie Koegelenberg, professor van Pulmonologie by die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW), het voor Suid-Afrika se inperking begin eksperimenteer met opsies om virtuele saalrondtes in die intensiewe-sorg eenheid (ISE) by die Tygerberg-hospitaal te doen, en het tot die slotsom gekom dat ISE-spesialiste wel hulle eenhede vanaf 'n afstand kan bedryf, deur die gebruik van robotte as onuitputbare helpers wat nie geïnfekteer kan word nie.
Tygerberg-hospitaal ʼn beperkte hoeveelheid spesialiste in sy algemene ISE op die oomblik.
“Ons sal die werkslading, as gevolg van die Covid-19 pasiënte wat in die ISE beland, tussen die spesialiste verdeel. Die kanse is redelik hoog dat ten minste een van ons kan siek word, dus is dit nodig om realistiese planne te maak vir moontlike gebeure.
“Indien enige van die spesialiste die virus sou opdoen en fisies nie daartoe in staat sou wees om te gaan werk nie, sal dit vir ons moontlik wees om op 'n afstand te funksioneer deur die robot te gebruik, óf deur middel van 'n selfoon, óf 'n skootrekenaar.
“Die gebruik van hierdie toestel sal ons daartoe in staat stel om 'n diens te lewer, aangesien ons skaars vaardighede het."
Die idee daarvan om robotte te gebruik het tot stand gekom as gevolg van “'n kombinasie van denke van verskeie mense," het Koegelenberg gesê. “Ons het begin wonder hoe ons meer mense sou kon help indien ons self sou begin siek word."
Sy vrou, dr Suretha Kannenberg, 'n dermatoloog, het hom vertel van hierdie toestel.
“Op Woensdag 18 Maart, oppad huis toe na baie vergaderings, het ek begin wonder of dit moontlik sou wees om 'virtuele' saalrondtes in die ISE te doen. Ek het my vrou gebel en my gedagtes met haar gedeel. Ek het gedink daaraan om 'n deftige 'nanny cam' te gebruik wat sy 'n paar jaar gelede gekoop het.
“Sy het voorgestel dat ons eerder die Sunskill laboratorium se Double Robotic 'robot' gebruik [Sunskill is ʼn moderne kliniese opleidingsfasiliteit by die FGGW]. Ek was nie bekend met hierdie toestel nie. Die volgende dag het ek met professor Ian Vlok van die FGGW se Afdeling Neurochirurgie en die Sunskill se fasiliteitsbestuurder, Bronwyn Stockenstrom, 'n ontmoeting gehad, en hulle het my vinnig touwys gemaak oor hoe om die Double Robotic 'robot' te gebruik. Die SunSkill-laboratorium het sonder enige huiwering ingestem dat die robotte in die ISE gebruik kon word totdat die pandemie verby is.
“Vrydag het dr Usha Lalla (hoof van die ISE by Tygerberg-hospitaal) en ek die toestel getoets. Ons het 'n volle ISE saalrondte gedoen sonder dat ons die ISE binnegegaan het. Dit het werklik ons oë oopgemaak en kan moontlik baie dinge verander in hierdie en toekomstige soortgelyke pandemies. Dit was 'n merkwaardige sukses! Ons het albei tot die slotsom gekom (saam het ons meer as 30 jaar se ondervinding in die ISE) dat ons fisiese teenwoordigheid nie nodig was nie. En dat hierdie tegnologie groot potensiaal het om wyd in gebruik geneem te word. Hierdie is natuurlik anekdoties en is nie 'n 'werklike bewys' nie, maar nood breek wet. En verder, indien een van ons in 'tuis-kwarantyn' sou ingaan, sou dit moontlik wees om van die huis af te werk."
Die “robot", wat lyk soos 'n tablet-rekenaar en twee wiele het, gebruik 'n giroskoop en versnellingsmetersensors in die basis, en kan beheer word deur middel van 'n skootrekenaar, 'n tablet of 'n slimfoon. Dit maak kommunikasie tussen dokter en pasiënt moontlik deur 'n mikrofoon en 'n zoom-funksie, en kan vitale tekens deurgee van hoogs aansteeklike pasiënte.
Robotte is ook in Italië gebruik, waar die pandemie baie lewens geëis het, insluitende dié van dokters.
Die gebruik van die robot by die Tygerberg-hospitaal is nog 'n voorbeeld van hoe die pandemie vindingrykheid en samewerking na vore gebring het.
“Hierdie was werklik 'n spanpoging – en so 'n samebindende ondervinding," het Koegelenberg gesê.
Vlok, wat aan die hoof staan van die aktiwiteite van die Sunskill-laboratorium, het die volgende te sê gehad: “Die Sunskill kliniese-opleidingsfasiliteit gebruik wêreldklastegnologie om die vaardighede van ons nagraadse student by die Stellenbosch Universiteit te ontwikkel. Die robotte het ons toegang gegee tot internasionale en nasionale kenners in hulle onderskeie velde wat die opleiding en onderrig kan lei deur middel van hulle virtuele teenwoordigheid. Nou stel dieselfde tegnologie ons in staat om met veiligheid pasiënte te nader en te bestuur in 'n hoë-risiko omgewing, en dit verlaag die risiko vir ons personeellede. Ek hoop werklik dat hierdie samewerking nie net 'n positiewe uitwerking sal hê tydens die pandemie nie, maar dat dit ook die deure sal oopmaak vir verdere innovering en samewerking."