Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Tyd om die terugstellingknoppie te druk vir sport
Outeur: Maties Sport Media
Gepubliseer: 13/04/2020

As sport nie tot 'n gesonder nasie bydra nie, moet ons die terugstellingknoppie (reset button) druk en maniere ondersoek waarop ons dinge anders kan doen.

Me. Ilhaam Groenewald, hoofdirekteur van Maties Sport, het hierdie siening gedeel in 'n aanlyn paneelbespreking wat deur die Universiteit van Arizona se Globale Sportinstituut (GSI) aangebied is. Die onderwerp van die bespreking was Around the World: COVID-19 & Sport.

Die paneel is gelei deur die instituut se HUB, Kenneth Shropshire, en het deelnemers van Latyns-Amerika, Asië, Australië, Europa, Noord-Amerika en Afrika ingesluit. Die bespreking het die finansiële impak van COVID-19 op alle belanghebbers in globale sport uitgelig, en het onder meer verwys na die gevolge van geen regstreekse uitsendings nie.

Luisteraars het gedurende die aanlyn uitsending van die bespreking aan meningsopnames deelgeneem. Altesame 60% het gevoel sport is nie noodsaaklik in krisistye nie, en 77% het aangedui dat dit inderdaad tyd is om die terugstellingknoppie te druk.

Die paneellede het verskeie kwessies geopper wat die besluitneming oor hierdie “terugstelling" sal beïnvloed. Dit sluit in die noodsaaklikheid van 'n nuwe manifes vir sportkodes, die impak op vrouesport, die verpligtinge van kommersiële ligas, die impak van terrorisme – en nou, die impak van 'n virus.

In 'n onderhoud ná die uitsending het Groenewald ook verwys na faktore wat spesifiek is tot Suid-Afrika, soos die tydsberekening van Suid-Afrikaners se terugkeer na werk, skool en studies, professionele sport, amateursport, en die gesondheid-en-fiksheidsektor.

“Die besluit oor wanneer ons na werk, skool en studies sal terugkeer, sal die beskikbaarheid bepaal van sportlui wat op alle vlakke deelneem. Inaggenome die belangrikheid van opvoeding, sal besluite wat betrekking het op skole en die hoëronderwyssektor onderrig prioritiseer. Dit kan lei tot die kansellasie – en nie net die uitstel nie – van toernooie en geleenthede. Die hoëronderwyssektor bespreek byvoorbeeld reeds toegang vir 2021 en sportwerwing word ook geraak."

Wat betref professionele sport, is dit nie net vrae oor wanneer en hoe ligas weer sal begin wat administrateurs besig hou nie, maar ook die vraagteken oor hoe aanhangers op die lewe ná COVID-19 sal reageer, sê Groenewald. Onsekerhede oor om hoe aanhangers teen die virus te beskerm, sal bestuur moet word.

“Dit beteken dat ons nuut oor ons aanhangerbetrokkenheidstrategieë sal moet dink. As mens die belang van professionele sport in ag neem – wat die semi-professionele, amateur-, jeug-, en ontwikkelingsprogramme van ons hoofsportkodes in Suid-Afrika ondersteun – glo ek ons sal dit kan doen."

Groenewald vermoed amateursport sal swaarkry, omdat baie mense basiese behoeftes bo sport sal prioritiseer. Dit sal verskil tussen deelnamekategorieë en nasionale sportorganisasies sal hul omkeerstrategieë so gou moontlik moet voorberei.

“Sport, gesondheid en fiksheid sal belangrik wees om ons nasie te ondersteun, veral as 'n mens die impak van die inperking op Suid-Afrikaners se geestesgesondheid en -welwees in ag neem.

“Dit sal ook nodig wees om innoverend te dink oor hoe om mense te oorreed om na sportaktiwiteite terug te keer. Baie sportorganisasies is afhanklik van lidmaatskapfooie en nou dat daar geen diens gelewer word nie, ontstaan die vraag of lidmaatskapfooie terugbetaal moet word. Indien wel, wie se verantwoordelikheid sal dit wees?"

Die fiksheid-en-gesondheidsektor het hulself tot sosiale netwerke gewend om betrokkenheid en virtuele kontak met hul kliënte te behou. Die vraag is weer eens: Kan daar van mense verwag word om te betaal wanneer fasiliteite gesluit is? vra Groenewald.

Daar word tans baie verwys na die “nuwe normaal".

“Die nuwe normaal sal beïnvloed word deur diverse strategieë, na gelang van jou sportbesigheid," meen Groenewald.

Sy lig die volgende moontlikhede uit:

  • 'n Omgewing waarin die fokus op netwerkvorming eerder as kompetisie is, is noodsaaklik vir 'n vriendelike hervatting van aktiwiteite.
  • In terme van ligas, sal verskeie faktore heroorweeg moet word, soos kalenders, die belangrikheid van sekere geleenthede, kontrakvereistes, ens. 'n Nuwe benadering is noodsaaklik.
  • Dit kan die ideale tyd wees om te fokus op e-sport en virtuele sport (wat reeds vinnige groei toon).
  • Integreer die gebruik van tegnologie om die besigheid van sport uit te voer (soos ons nou gedwing is om te doen) en die potensiële toekomstige voordeel om só miljoene rande te spaar.

“Die geleentheid om die terugstellingknoppie te druk, is beslis ook toepaslik vir die Suid-Afrikaanse sportomgewing en dit vereis 'n nuwe visie, innoverende denke, en 'n nuwe benadering tot die lewering van sport. Dit belangrike vraag is: Wanneer sal ons gereed wees om as 'n sportgemeenskap daaroor te begin kommunikeer?"