Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
COVID-19: Wat gebeur ná die tydperk van algehele inperking?
Outeur: Alex Welte
Gepubliseer: 02/04/2020

​Wat gaan ná die tydperk van algehele inperking gebeur? Dít is die vraag wat Prof Alex Welte van Suid-Afrikaanse Sentrum vir Uitnemendheid in Epidemiologiese Modellering en Analise (SACEMA) in ʼn artikel vir GroundUp (31 Maart) probeer beantwoord.

  • ​Lees die vertaalde weergawe hier onder of klik hier vir die stuk soos geplaas.

COVID-19: Wat gebeur ná die tydperk van algehele inperking?

31 Maart 2020   

Alex Welte*

Die epidemie gaan nie teen 17 April verdwyn nie. Ons het bloot net drie weke grasie gekoop om vir die toekoms te beplan.

Diegene wat probeer om die COVID-19-pandemie te emuleer, moet probeer om nederig te wees; daar is meer wat ons nie weet nie as wat ons wel weet. Enigiemand wat daarop aanspraak maak dat hulle weet wat die besmetting- of sterftekoers van hierdie siekte is, is óf op 'n dwaalspoor, óf oneerlik. Maar danksy wetenskaplike ontleding wat die toets van tyd deurstaan het, is sommige goed voorspelbaar: Op 17 April, ná drie weke van algehele inperking, sal die son om 07:10 in Kaapstad opkom, en ons sal steeds aan die begin van 'n uitbreking van COVID-19 wees.

Hoewel ons huidige algehele inperking van drie weke oordrag in die Suid-Afrikaanse epidemie tydelik sal onderdruk, gaan dit nie dit uitroei nie, en indien ons terugkeer na sake soos gewoonlik, sou ons die inperking verniet verduur het.

Virusuitbrekings soos griep bereik gewoonlik 'n hoogtepunt en neem dan af nog lank voor almal aangesteek het. Die oordragnetwerk word uitgedun en oordrag kan eenvoudig net nie volgehou word nie. Daar is verskeie moontlike bydraende faktore vir hierdie uitdunning: vir die meeste virusinfeksies bou mense 'n aansienlike weerstandigheid van infeksie op, so wanneer hulle herstel (soms is dit baie vinnig), dra hulle nie verder tot die verspreiding by nie.

Natuurlik kan mense ook hul gedrag aanpas wanneer hulle 'n ernstige uitbreking rondom hulle sien – maar selfs sonder gedragsverandering is daar natuurlike redes vir epidemies om uit te sterf. Hierdie snoei van die oordragboom maak egter daarop staat dat 'n aansienlike klomp mense ten minste 'n ligte aanval van die infeksie sal kry – en dit is na aanleiding van die bestudering van seisoenale griep en soortgelyke virusse dat kommerwekkende skattings van hoeveel mense die nuwe coronavirus mag opdoen, die rondte begin doen het. 'n Skrikwekkende aantal mense sal inderdaad die virus moet aansteek om 'n kollektiewe “trop-immuniteit" te ontwikkel wat enige residuele oordrag skadeloos sal laat afneem.

Selfs in plekke soos Wuhan waar daar 'n ernstige uitbreking van COVID-19 was, het slegs 1% van die plaaslike bevolking dit opgedoen voordat drakoniese maatreëls oordrag feitlik heeltemal gestop het. Hoewel inperkings nou gelig word, is die bevolking omtrent net so vatbaar vir 'n opvlamming van die epidemie as wat dit ooit was, en indien die infeksie weer ingebring word in Wuhan, sal dit omtrent net so gevaarlik as die aanvanklike uitbreking wees.

Die vraag bly dus wat moet ons na 16 April doen? Dit is nie net 'n suiwer tegniese nie, maar ook 'n politiese vraag – hoewel daar tegniese aspekte daaraan verbonde is om te verstaan wat sal gebeur wanneer ons probeer om van 'n streng algehele inperking na iets meer volhoubaar te beweeg. Ek dink nie epidemioloë het noodwendig die insig of kreatiwiteit om met die antwoorde vorendag te kom nie, maar ons kan van die belangrike goed voorstel wat ons sal moet oorweeg en debatteer. Tussen skyngevangeneskap en 'n terugkeer na normaal soos voorheen, lê daar 'n wye spektrum maatreëls en oneindige ruimte vir kreatiwiteit. Hier is 'n paar vrae om oor na te dink:

Hoe bepaal ons ná algehele inperking of die epidemie weer besig is om buite beheer te raak en hoe reageer ons?

Indien daar 'n vinnige toename in gevalle is, of hospitale raak oorweldig, gaan daar nog 'n algehele inperking wees? Hoeveel algehele inperkings kan ons verduur alvorens werkloosheid en die verlangsaming in die basiese onderdele van die ekonomie nog erger as 'n enorme maar verbygaande epidemie word? Hoe bepaal, implementeer en monitor ons betekenisvol-herkenbare vlakke van sosiale afstandskepping, en hoe staan ons versigtig, maar tog met 'n sin van dringendheid, terug van die rand van totale stagnasie?

Hoe verhoog ons toetsing tot die vlak waar dit regtig ʼn rol in die beheer van die epidemie speel?

In Suid-Korea is daar volgehoue massatoetsing; meer as 400 000 toetse is al uitgevoer in vergelyking met die sowat 35 000 in Suid-Afrika (ons bevolkings is omtrent ewe groot). Sodra besmette mense geïdentifiseer word, moet hulle in afsondering gaan totdat hulle herstel het. Dit het gehelp om die epidemie beheerbaar te hou en om die standaard van sorg vir diegene wat akuut siek is, te handhaaf – so sterftesyfers is laag. Hoe pas ons dit aan vir ons informele woonbuurtes, infrastruktuur en finansies? Ons het vinnige, eenvoudige, goedkoop en betroubare toetse hier nodig, en vinnig ook.

Watter maatreëls vir sosiale afstandskepping kan op die lange duur volgehou word?

Moet mense wat van die huis af kan werk, daarmee voortgaan as standaardpraktyk? Moet restaurante gesluit bly behalwe vir wegneemetes? Kan ons aanlyn-kruideniersaankope aanmoedig? Moet lughawens slegs vir reis in nood en vragvliegtuie oopbly? Watter reëls sal vir openbare vervoer ingestel word? Waar begin ons om sosiale afstandskepping in digbevolkte plakkerskampe in te stel? Of kan hierdie epidemie die stukrag wees om uiteindelik die behuisingsnood, of inderdaad die grondvraagstuk, aan te spreek?

Wat doen ons met skole?

'n Handjievol skole kan dalk volhoubare afstandsonderrig toepas, maar dit is onmoontlik vir township-skole en selfs vir skole in middelklasbuurte. Miskien moet ons aanvaar dat die skooljaar afgestel moet word en dat 'n groot groep kinders 12 tot 18 maande later (of wanneer die pandemie verby is) sal matrikuleer. Maar sonder skole en voedingsprogramme sal baie kinders hongerly tensy iets kreatief gedoen word. Of kan die jeug, wanneer ons skole binnekort heropen, vir ons wys hoe hulle by die omgewing wil aanpas om na hul toekoms om te sien?

Watter stappe kan gedoen word om beide openbare en private hospitale voor te berei?

Miskien is die grootste voordeel van die algehele inperking dat dit waakeenhede die geleentheid gee om vir n toename in gevalle voor te berei. Die indrukwekkende krisisgedrewe aanpassings wat ons in ander lande gesien het, kan dalk nie hier herhaal word nie, maar dit is duidelik dat die loopgrawe van hierdie spreekwoordelike oorlog die hoësorgeenhede van formele gesondheidsorginstellings is. Die druk wat COVID-19 op gesondheidstelsels plaas gaan nie hoofsaaklik oor sterftes nie. Die uitdaging is dat talle van diegene wat regtig siek word, in beginsel baie by doeltreffende sorg kan baat – maar hulle sal nie veel sorg ontvang indien die stelsel oorlaai is nie.

Hoe ondersteun ons die ekonomie?

'n Virtuele wie's wie van plaaslike ekonome het 'n oortuigende brief aan president Ramaphosa geskryf met sleutelvoorstelle om die ekonomiese gevolge van beide die epidemie self en die voortslepende en komende maatskaplike teenmaatreëls te versag. Hierdie maatreëls moet nou ernstig en deursigtig as 'n saak van dringendheid ondersoek word.

Indien ons eenvoudig net na normaal terugkeer ná 16 April, sal al wat ons teen 'n aardige koste vir die kwesbaarder mense in ons samelewing gekoop het, 'n paar weke vertraging van 'n verskriklike ramp wees. Maar 'n voortgesette inperking sal natuurlik ook rampspoedige gevolge hê, veral vir mense wat in informele nedersettings woon wat verwag word op een of ander manier 24 uur per dag binne-in hul plakkershutte te bly, behalwe wanneer hulle in lang toue vir maatskaplike toelae en kruideniersware moet staan. Werk het soos mis voor die son verdwyn, vroue sit vasgevang by die huis met omgekrapte mans en kinders word verbied om buite rond te hardloop tensy hulle in die deftige woonbuurte met tuine woon. Dit lyk amper soos sinnelose wreedheid; 'n swaarhandige oorreaksie op die vrees dat meer genuanseerde sosiale afstandskepping op die een of ander manier beslis gaan misluk.

Ons staar uiters moeilike vrae in die gesig, en ons gaan beslis nie “die regte" antwoorde op almal vind nie – dalk net in uitsonderlike gevalle en selfs dan sal dit eers met nabetragting wees. Maar ons moet nou begin om hierdie vrae te ondersoek en om selfs voor die einde van die algehele inperking keuses te maak sodat die volgende stappe nie raaiwerk of politiese uitkomste is nie.

*Prof Alex Welte is 'n navorsingsprofessor by, en voormalige direkteur, van die nasionale departement van Wetenskap en Innovasie-Nasionale Navorsingstigting (DWI-NNS) se Suid-Afrikaanse Sentrum vir Uitnemendheid in Epidemiologiese Modellering en Analise (SACEMA) aan die Universiteit Stellenbosch.

​