Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
ITN-direkteur word lid van invloedryke Club of Rome
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 30/03/2020

Dr Morné Mostert, direkteur van die Instituut vir Toekomsnavorsing (ITN) in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, is oorgehaal om met vooraanstaande wetenskaplikes en internasionale denkleiers van regoor die wêreld saam te werk nadat hy aanvaar is as 'n volwaardige lid van die invloedryke internasionale dinkbank, die Club of Rome (CoR).

Die Club of Rome is in 1968 gestig as 'n internasionale netwerk van toonaangewende denkers uit verskillende dissiplines met 'n gemeenskaplike besorgdheid oor die toekoms van die mensdom. Die klub was die eerste wêreldwye dinkbank wat sienings van akademici, die sakesektor, regering en die burgerlike samelewing vervat het. Daar word van lede verwag om 'n bydrae te lewer tot kritieke projekte soos klimaatsverandering en globale inisiatiewe vir noodsituasies, die herformulering van die ekonomie en die rol van die jeug.

Mostert het in sy aanvaarding daarvan melding gemaak dat “daar nog nooit 'n tydperk was waarin hoër orde intellektuele modaliteite soos toekomsgerigte sistemiese en strategiese langtermyndenke, en die dringende uitvoering daarvan, so noodsaaklik vir mense se voortbestaan was soos tans die geval is".

Hy het gesê dat sy lidmaatskap erkenning verleen aan die rol van denkleier wat ITN wêreldwyd speel, en het verduidelik dat die ITN gestig is as gevolg van die bekendstelling van die eerste verslag van die CoR in 1972, getiteld Limits to Growth. Dié verslag word beskou as klassiek in die volhoubaarheidsbeweging en is die eerste studie wat die lewensvatbaarheid van die voortgesette groei in die mens se ekologiese voetspoor bevraagteken het.

“Die doel (met ITN) was altyd om 'n instituut op die been te bring wat die langertermyngevolge vir besigheid kan ondersoek."

Hy het gesê van sy eerste pligte as CoR-lid is om op die rol te konsentreer wat besigheid in die organisasie se huidige internasionale projekte speel, ook wat die langtermynvooruitsigte van Afrika betref.

“Aangesien die Koronavirus nou die wêreldwye diskoers oorheers, werk ek ook aan 'n raamwerk wat op die gedrag van epidemies gebaseer is en wat die sakewêreld kan help om sin te maak uit die gebeure."

Mostert het die EBW-dekaan, prof Ingrid Woolard, bedank vir haar toewyding om ITN en USB op die wêreldverhoog te plaas.

“Ek hoop om die universiteit met onderskeiding op hierdie gesogte internasionale platform te dien," het hy gesê. “US se visie sluit onder meer in om wêreldwyd erken te word as 'n plek van uitnemendheid. Dié internasionale erkenning deur die CoR demonstreer daardie strategiese oogmerk."

Dit is nie die eerste keer dat ITN met CoR saamwerk nie. Verlede jaar was ITN die medegasheer van die klub se jaarlikse konferensie en wêreldberaad by die Spier-wynlandgoed buite Stellenbosch. By daardie geleentheid het Mostert 'n openbare lesing oor Afrika se toekoms gelewer.

  • Foto verskaf.