Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Internasionaal bekende kognitiewe linguis besoek US om sy kundigheid te deel
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 26/03/2020

Prof Dirk Geeraerts, 'n internasionaal bekende kognitiewe linguis van KU Leuven Universiteit in België, wat 'n belangrike rol gespeel het in die uitbreiding van hierdie benadering tot linguistiek, het onlangs die Departement Antieke Studie besoek om sy kundigheid van die veld te deel met personeel en studente in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe.

Kognitiewe linguistiek is 'n “benadering tot die analise van natuurlike taal" wat “sy oorsprong het in die laat 1970's en 1980's in die werk van [die linguiste] George Lakoff, Ron Langacke en Len Talmy". Deur hierdie benadering is akademici in staat om die “formele strukture van tale" te bestudeer, nie as outonome strukture nie, maar eerder as “weerspieëlings van algemene konsepsuele organisasie, kategorisering-beginsels, prosessering-meganismes" en hoe dit geraak word deur ondervinding- en omgewingsinvloede.

Geeraerts is na die Universiteit Stellenbosch genooi deur prof Christo van der Merwe, wat spesialiseer in Bybelse Hebreeus, Bybel-vertaling en kognitiewe semantiek in die Departement Antieke Studie, wat het Geeraerts persoonlik leer ken tydens 'n uitruil-geleentheid aan die universiteit in België in 2016. 

​Tydens Geeraerts se vyf-dag besoek aan US het hy 'n aantal praatjies aangebied oor onderwerpe soos

The fog of meaning, wat gedelf het in die betekenis van taal en linguistieke uitdrukkings, en From structure to context: Decontextualization and recontextualization in the history of modern Western linguistics. Hy het ook werkwinkels oor kognitiewe sosio-linguistiek aangebied vir personeel en studente van verskillende departemente.

“Geeraerts se besoek was nie net nuttig vir akademici en studente binne die Departement Antieke Studie nie, maar ook relevant vir individue in die tale-omgewing. Sy insigte in hoe betekenis afgelei word van die gebruik van taal in verskillende omgewings is van belang vir ons departement, veral nou dat ons begin kyk hoe taal ook deur konteks beïnvloed word, en nie net sintaks [die rangskikking van woorde en frases om 'n goed-gevormde sin in taal te skep] nie. Akademici beweeg nou verby die betekenis van taal en sy dele en wil begin verstaan hoe taal gevorm word deur die omgewing van die mense wat die taal praat," sê Van der Merwe.

Geeraerts se fassinasie met kognitiewe linguistiek het in die 1980's begin. Deur sy navorsing vir sy PhD het hy een van die eerste akademici in Europa geword om die moontlikhede van die prototipe-teoretiese model van kategorisering – essensieel die wyse waarop objekte in taal geklassifiseer word gebaseer op hul ooreenkoms met 'n “geestelike beeld of 'n prototipe van daardie objek" eerder as in terme van netjiese diskrete kriteria. Met ander woorde, die “rooi" van rooi lipstiffie sou beskou word as die prototipe van die kategorie “rooi", terwyl die “rooi" van 'n rooi jakkals beskou sou word as 'n minder prototipiese voorbeeld van die kategorie “rooi".

Sy belangrikste navorsingsbelange strek oor die oorvleuelende velde van leksikale semantiek (die sistematiese studie van woordbetekenisse), leksikologie (die studie van woorde, insluitende dinge soos hul historiese ontwikkeling en vorming) en leksikografie. Hy is die stigter-redakteur van die vaktydskrif Cognitive Linguistics en dien tans as die besturende direkteur van die boekreeks Cognitive Linguistics Research, gepubliseer deur Mouton de Gruyter. In 2000 het hy die navorsing-groepeenheid oor Kwantitatiewe Leksikologie en Variasionele Linguistiek aan KU Leuven gestig.

“Sy idees oor taalvariasie, hoe dieselfde taal verskillende gepraat word in verskillende dele van die wêreld, en hoe taal sekere betekenisse verkry oor tyd, is uiters fassinerend," sê Van der Merwe.

Prof Dirk Geeraerts-1.jpg

Prof Dirk Geeraerts (voorste ry, naaslinks), 'n internasionaal bekende teoretiese linguis van KU Leuven Universiteit in België, wat 'n belangrike rol gespeel het in die uitbreiding van kognitiewe linguistiek, het onlangs die Departement Antieke Studie besoek om sy kundigheid van die veld te deel met personeel en studente in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe. In die voorste ry is prof Christo van der Merwe van die Departement Antieke Studie; Geeraerts; mnr Marcus Joubert; prof Philip Bosman, ook van die Departement Antieke Studies; en mnr Cliff Sekowe. Agter is dr Joel Ruark en me Amy Daniels van die Departement Antieke Studie. (Anton Jordaan, SSFD)