Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Saamstaan belangrik in tyd van sosiale afstandskepping
Outeur: Ronelle Burger
Gepubliseer: 23/03/2020

​Sosiale afstandskepping word sterk aanbeveel as een van die maniere om die verspreiding van die coronavirus te stuit. In ʼn meningsartikel vir Daily Maverick (19 Maart), skryf Prof Ronelle Burger van die Departement Ekonomie dat dit ook belangrik is om ons sosiale solidariteit in hierdie moeilike tyd reg te bestuur.

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder of klik hier vir die stuk soos geplaas.

Ons het vandeesweek die grens na die onbekende oorgesteek met die president se aankondiging van voorsorgmaatreëls om die verspreiding van die coronavirus te stuit. Terwyl hierdie maatreëls verwelkom is, is daar ook talle onbeantwoorde vrae oor COVID-19. Dit sluit in: Ons weet nie hoekom nie, maar wanneer kinders die siekte opdoen, is hul simptome ligter, en ons is onseker oor hoe lank mense se weerstand sal hou nadat hulle siek was. In Suid-Afrika is die vrees veral hoe vinnig die siekte in 'n land waar baie van die risikofaktore teenwoordig is, sal versprei: Ons het 'n hoë voorkoms van kroniese siektes; daar is baie mense wat 'n gebrekkige immuunstelsel het weens honger, armoede en die bekende probleme wat met die langtermyn gebruik van TB- en HIV-behandeling gepaard gaan; en baie van ons burgers mag dit moeilik vind om die president se gereelde handwas-roetine toe te pas weens die gebrek aan lopende water in hul huise en omdat hulle nie waterlose handreiniger kan bekostig nie.

Ander onsekerhede sluit in die feit dat 'n baie groter gedeelte van die bevolking in lande soos China en Italië waar sommige van hierdie skattings hul oorsprong het en wat swaar onder die virus gebuk gaan, ouer is, wat beteken dat die sterftesyfer in Suid-Afrika dalk baie laer sal wees. Terselfdertyd het ons ook vroeër met ons voorkomingsmaatreëls begin. Daar is ook optimisme oor die aanwending van behandelings wat vir ander siektes soos HIV en cholera ontwikkel is, vir die behandeling van ernstiger gevalle van die coronavirus, wat kan help om die sterfterisiko te verminder. Seisoenale grieppatrone bied hoop dat die virus stadiger in Suid-Afrika se versprei omdat dit hierdie tyd van die jaar nog redelik warm is. Maar terselfdertyd kan 'n mens ook redeneer dat dit binnekort winter sal wees en dit mag aansteeklikheid weer laat opvlam en versnel net mooi wanneer COVID-19 na verwagting onder beheer gebring sal word. Al hierdie faktore inaggenome, is dit verstaanbaar dat daar 'n traagheid is om projeksie oor die Suid-Afrikaanse COVID-19-baan te maak en daar is heelwat eenstemmigheid dat enige skattings groot vertrouebande sal hê.

Daar is selfs onsekerheid oor die sterfterisiko van COVID-19. Kundiges stem saam dat die media se skatting van 'n sterfterisiko van 2–3,5% oordrewe en alarmisties is. Hierdie skatting is verder verwring deur dit met die sterfterisiko van gewone griep te vergelyk en dan tot die gevolgtrekking te kom dat die sterfterisiko van COVID-19 twintig maal hoër as dié van gewone griep sal wees. Hierdie skattings is verkeerd omdat die noemer vir COVID-19 nie vergelykbaar is met dié van gewone griep waar ons alle infeksies sal vaslê nie. Dit word erken dat ons vir COVID-19 slegs n klein deelsteekproef van algehele infeksies deur toetsing vaslê: Ons spoor net gevalle op waar die gevalle simptome getoon en/of geskik vir toetsing was. Onlangse skattings vir die vroeë stadiums van toetsing in Wuhan [Li, et al, soos Maandag verskyn het in Science] [https://science.sciencemag.org/content/early/2020/03/13/science.abb3221?rss=1] dui daarop dat onopgespoorde en asimptomatiese gevalle soveel sa 86% van die totale aantal gevalle kan uitmaak, wat dan op 'n sterfterisiko sal dui wat steeds hoër is, maar wat nie 20 maal hoër as dié van algemene griep is nie. In kort is dit minder alarmisties, maar natuurlik steeds 'n baie ernstige openbare gesondheidkommer; veral ook omdat die virus hoogs aansteeklik is.

In omstandighede waar ons sulke aansienlike onsekerheid in die gesig staar, is 'n konserwatiewe benadering geregverdig. Ons reaksie op COVID-19 is belangrik omdat hierdie nie laaste wêreldwye pandemie is wat ons gaan sien nie; alles dui daarop dat wêreldwye pandemies semi-gereeld gaan begin voorkom. Ons sal hieraan moet begin dink as 'n moontlike herhalende probleem waarvoor ons innoverende en kragtige maniere van saamstaan gaan nodig hê om oordraagbare siektes te beveg. Daar is nie hoë verwagtinge dat 'n entstof baie gou beskikbaar gaan wees nie. Selfs met die hulp van wêreldwye beleggings om die ontwikkeling van 'n entstof te bespoedig, is daar eenstemmigheid daaroor dat dit ten minste 'n jaar gaan duur voordat ons 'n entstof het wat ons teen COVID-19 [tegnies, SARS-COV2] sal kan beskerm. Dit beteken ons sal 'n kragtige en volhoubare reaksie op COVID-19 moet ontwikkel aangesien dit waarskynlik weer sal voorkom en 'n bedreiging sal bly.

Hoewel die gesondheidsimpak die onmiddellikste bron van kommer is, kan die ekonomiese en maatskaplike uitwerking moontlik baie meer dramaties en verreikend wees. Regoor die wêreld sien ons hoe ekonomiese aanduiders op 'n dramatiese manier reageer en Suid-Afrika is geen uitsondering nie. Baie verwag dat die toerisme-, gasvryheid- en reissektore beduidende verliese gaan ly en moeilike tye tegemoet gaan. Ons is ook bekommerd oor die uitwerking op die onderwys met die sluiting van skole en universiteite. Met universiteite wat sluiting met virtuele klasse teenwerk, kan ons weer eens in 'n situasie beland waar die kwetsbaarste mense die ergste deur hierdie maatreëls vir sosiale afstandskepping geraak word.

Die sosiale uitwerking mag dalk nie op die oomblik die voorblad haal nie, maar gegewe die huidige fiskale druk en historiese hoë vlakke van werkloosheid, moet ons bekommerd wees oor hoe die krisis ons kwesbare en arm gemeenskappe gaan raak. Werkers in die formele sektor het waarskynlik spaargeld en versekering en sal in die meeste geval en salaris ontvang. Ons grootste kommer is werkers in die informele sektor en die eienaars van klein sakeondernemings wat baie min of geen spaargeld het nie, maar wie se inkomstebronne skielik afgesny gaan word of dramaties verminderde omset of inkomste in die gesig gaan staar indien alles gesluit word. Arm huishoudings sal waarskynlik nie geld hê vir die opstapeling van kos en noodsaaklikhede om vir sulke gebeurlikheide nie – veral diegene wat reeds swaarkry. Ons stuur af op verskeie vorms van hartseer en swaarkry.

Ons het almal die afgelope week winkeltrollies oorlaai met toiletpapier, sanitêre produkte en blikkies kos wat manies deur winkelgange gestoot word, teëgekom. Die media het met foto's van leë winkelrakke 'n groot ophef van opgaring gemaak. Onsekerheid bring dikwels die ergste in ons uit en beklemtoon ons impulse om onsself te beskerm. Die voorgestelde sosiale afstandskepping en ons eie beheptheid met die risiko om die virus op te doen, kan hierdie instink verder versterk, terwyl dit ander as 'n bedreiging of vyand uitmaak. Dit is natuurlik uiters belangrik om te verstaan dat wanneer ons 'n wêreldwye pandemie in die gesig staar, ons nog steeds moet saamstaan, al pas ons sosiale afstandskepping toe. Dit was ook duidelik in ons presidente se boodskap Sondag.

Ons verdeelde gesondheidstelsel gaan uitdagings in die gesig staar en sal maniere moet vind om hul benadering te koördineer. Onlangse ramings dui daarop dat ons heel moontlik nie genoeg kritiekesorgbeddens in die openbare sektor gaan hê om in die behoefte te voorsien nie. Om dit te hanteer, sal ons op die bestaande skaars kapasiteit in die private sektor moet steun. Dit gaan samewerking tussen private en openbare hospitale verg om te besluit hoe om pasiënte op die beste moontlike manier te plaas. Net soos ons almal, sal die private en openbare hospitale moet saamstaan. Die vervoer van ernstige gevalle van COVID-19 van landelike gebiede na toegeruste geriewe gaan 'n besondere uitdaging vir ons gepolariseerde en gefragmenteerde gesondheidstelsel wees. Indien ons dit nie goed kan doen nie, gaan daar voorkombare sterftes van ernstige gevalle wees wat nie toegang tot die nodige kritieke sorg wat hulle nodig het, kan kry nie. 'n Oorlaaide gesondheidstelsel mag ook ons vermoë om ander behandelbare siektes en beserings te behandel, beïnvloed, wat weer eens 'n sterk saak ten gunste van die besluit om eerder vroeë ingryping toe te pas om die virus onder beheer te kry, maak.

Dit gaan beslis 'n uitdagende tyd op meer as een manier vir ons land wees! Dis is 'n tyd om ons ware kleure te wys en om deernis, samehorigheid en welwillendheid te toon. Die regering is besig om maatreëls in te stel om die kwesbaarste mense te help om hierdie risiko's die hoof te bied, maar met hoë-vlak beleide is daar altyd individue wat agterweë gaan bly. Die krisis gaan van gewone Suid-Afrikaners, niewinsgewende organisasies en geloofsgroepe vra om bedagsaam, waaksaam, proaktief en gulhartig in hul reaksie op die behoeftes van diegene wat geraak word, te wees. Hoewel ons hoop dat hierdie vroeë ingryping sal beteken dat daar voor Paasnaweek 'n draaipunt in die daaglikse styging van gevalle sal wees, gaan die bedreiging van wêreldwye pandemies en ons diepgewortelde maatskaplike probleme nie gou verdwyn nie en sal dit waarskynlik net erger word in die korte tot langer duur. Pandemies herinner ons aan die onsigbare band wat ons almal aan mekaar verbind, selfs wanneer ons elkeen voortgaan met ons eie lewe. 

*Ronelle Burger is die hoofgesondheidsekonoom van die navorsingsgroep ReSEP, wat op sosio-ekonomiese beleid fokus, en 'n professor in die Departement Ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch.