Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Opvoedkunde studente in Berlyn
Outeur: Elise Groeneveld
Gepubliseer: 18/03/2020

In Januarie van 2020 het vier studente van die Fakulteit Opvoedkunde as deel van ʼn jaarlikse uitruilooreenkoms hulle vlerke gesprei en gaan besoek aflê by die Humboldt Universiteit van Berlyn. Hier het die vier Maties die geleentheid gehad om tydens hulle Duitse eweknieë se proeftydperk klasse waar te neem en meer uit te vind oor wat die praktiese element van ʼn onderwysgraad aan hierdie Duitse universiteit behels. Die studente het selfs informeel die kans gehad om te assisteer in die klaskamer.​

Berlin students seminar.jpeg

Die vier Maties gereed om 'n seminaar by te woon.

Nicole Minnies, Rozanne Theron, Alexa Plaatjies en Delmé Barkhuizen is verlede jaar as topkandidate aangewys wat aan die uitruil na Berlyn sou deelneem. Om vir hierdie uitruil in aanmerking te kom word studente gevra om ʼn opstel te skryf oor veeltaligheid in die klaskamer waarna daar met ʼn kortlys van studente onderhoude gevoer word deur prof C van der Walt, dr M van der Merwe en mnr J Ruiters, die medewerkers in die projek. Na afloop van die onderhoude word die topkandidate genomineer en kry hulle die geleentheid om vir een maand die Duitse kultuur te gaan beleef.

Student at Humboldt University.jpg

Nicole Minnies voor die “Mitte Kampus" van die Humboldt Universiteit in Berlyn. 

Die studente het in universiteitsakkommodasie tuisgegaan wat loopafstand is van waar die klasse bygewoon is. Buiten die akademiese verpligtinge, het hulle ook kans gehad om die omgewing te verken en Berlyn se ryk kultuur in te neem.  

Students with German student project.jpg

Nicole Minnies en Alexa Plaatjies werk saam met ʼn Duitse onderwysstudent aan sy projek.