Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
WhatsApp-groepe handige instrument om landelike onderwysers te ondersteun
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 18/03/2020

Wanneer onderwysers, vir hul eie professionele ontwikkeling, kortkursusse by afgeleë, landelike skole ​bywoon, behoort hulle deur WhatsApp-groepe ondersteun te word om hulle te help om talle van die uitdagings wat hulle in die gesig staar, te oorkom.

Dít is een van die belangrikste bevindinge van 'n onlangse doktorale studie by die Universiteit Stellenbosch (US).

“WhatsApp-groepe as virtuele praktykgemeenskappe (oftewel VPG's) kan die professionele ontwikkeling van onderwysers ondersteun, dit kan organisatoriese ondersteuning vir die inwerkingstelling van die nuwe kennis en vaardighede in die klaskamer bied, en dit kan uiteindelik ook 'n positiewe uitwerking op leerders se prestasie hê," sê dr Pauline Hanekom, 'n Lewenswetenskappe Fasiliteerder en Inligtingskommunikasietegnologie Koördineerder by die US se Sentrum vir Pedagogie (SUNSEP). Sy het onlangs haar doktorsgraad in Kurrikulumstudie aan die US behaal.

Met verwysing na vorige navorsing wat getoon het hoe WhatsApp-groepe die skep van netwerke tussen onderwysers in landelike gebiede kan ondersteun, sê Hanekom haar studie “het lig gewerp op die waarde van sulke groepe vir daardie onderwysers wat, ver weg van ander, aan kortkursusse deelneem. In baie gevalle is hulle die enigste Natuur- of Lewenswetenskappe onderwysers in hul onderskeie skole."

Hanekom sê praktykgemeenskappe (PG's) word wêreldwyd gebruik om professionele leerondersteuning aan in-diens onderwysers wat hierdie tipe kursusse volg, te bied.

“'n Voorbeeld van 'n PG kan 'n groep onderwysers wees wat almal besorg is oor die opvoedkundige behoeftes van hul leerders en wat die behoefte het om hul kennis en kundigheid te verbreed deur by 'n onderwyser-professionele leer PG aan te sluit. In hierdie PG kan hulle op 'n deurlopende grondslag met mekaar kommunikeer oor lesplanne, video's van lesse, interessante leerderinteraksie en assesseringstake. Hulle kan ook opvoedkundige uitdagings bespreek en morele en fisieke ondersteuning aan mekaar bied.

“Ons het egter gevind dat virtuele praktykgemeenskappe (VPG's) al hoe meer gebruik word in gevalle waar die fisieke afgesonderdheid van skole die haalbaarheid van fisieke PG's beïnvloed. Ons weet egter min oor die maniere waarop VPG's deelnemers kan ondersteun, of hoe hulle doeltreffend ontwerp, onderhou en ten uitvoer gebring kan word."

Volgens Hanekom het die terugvoer wat vanaf deelnemers aan haar navorsingstudie ontvang is, getoon dat hulle WhatsApp-groepe as VPG's baie doeltreffend ervaar.

“Die studente het kommentaar gelewer oor hoe die groepe hulle in staat stel om akademiese kwessies wat gedurende die kursus en ook in hul eie klasse ter sprake gekom het, te bespreek en op te los. Dit het hulle ook in staat gestel om in verbinding te bly met mekaar, al woon hulle honderde kilometers uitmekaar. Hulle kon selfs beplan om hul dikwels beperkte hulpbronne vir praktiese aktiwiteite met mekaar te deel.

“Hulle kon ook hul praktiese vaardighede deur foto's en video's uit hul klaskamers met mekaar deel. Aangesien vakadviseurs van die onderskeie onderwysdepartemente deel was van sommige van die VPG's, kon hulle maklik die studente help met kwessies rakende beleid en skoolkurrikulum."

As deel van haar navorsingstudie het Hanekom drie WhatsApp-groepe geskep wat uit gekwalifiseerde onderwysers vir Natuurlike- (graad 7–9) en Lewenswetenskappe (graad 10–12), beamptes van die onderwysdepartemente en kursusfasiliteerders bestaan het. Die onderwysers van elke groep het onderwyser-professionele leer kortkursusse (OPL) bygewoon wat in drie siklusse plaasgevind het. Die eerste groep was deel van 'n vyf maand lange kursus, terwyl die ander twee groepe se kursusse oor vier maande gestrek het. 

Om die doeltreffendheid van WhatsApp as 'n VPG te bepaal, het Hanekom onderhoude met die deelnemers gevoer en hulle ook gevra om 'n vraelys te voltooi. Sy het hierdie inligting, asook die boodskappe wat hulle in hul WhatsApp-groepe aan mekaar gestuur het gedurende die onderskeie kursussiklusse, ontleed.

Tydens die eerste siklus kon deelnemers vrylik oor enige relevante OPL-kortkursus se inhoud praat en is hulle toegelaat om boodskappe van onderlinge ondersteuning en selfs inhoud oor onverwante onderwerpe, m.a.w. sosiale gesprekke, te plaas. Tydens die tweede siklus is hulle ontmoedig om inhoud oor onverwante onderwerpe te plaas. Hulle het vrae of probleme wat hulle in die kursus en tydens lesse oor die OPL-kortkursusmateriaal ondervind het, gedeel. Die derde siklus was 'n hoogs gestruktureerde VPG wat deur die fasiliteerder gelei is. Deelnemers kon ook via die WhatsApp-groep vrae vra of probleme stel wat hulle ondervind het tydens hulle eie aanbieding van OPL-kortkursusmateriaal. ​​

Hanekom sê die WhatsApp-groepe is verder gebruik om logistieke reëlings vir praktiese aanlynsessies oor te dra en is gebruik as 'n besprekingsplatform (tydens die uitsendings) waarop deelnemers hul gedagtes en insette, asook foto's van hul deelname kon deel.

Sy het ook 'n stel ontwerpbeginsels ontwikkel wat die toestande wat tot die sukses of mislukking van WhatsApp VPG's kan lei, oorweeg. In hierdie verband verwys Hanekom na die Departemente van Hoër Onderwys en Opleiding en van Basiese Onderwys, wat 'n stel riglyne vereis het wat nie net die skep van VPG's ondersteun nie, maar ook die optimale aanwending daarvan verseker.

“Alhoewel onderwysers tot nou toe WhatsApp as 'n boodskapdiens aan ouers en leerders gebruik het, was baie van hulle huiwerig om dit as 'n platform vir 'n virtuele praktykgemeenskap te gebruik weens die gebrek aan so ʼn stel riglyne.

“Die ontwerpbeginsels kan ook rigting bied vir die gebruik van VPG's in alle toekomstige OPL-kursusse by SUNSEP," voeg Hanekom by.

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Dr Pauline Hanekom

Sentrum vir Pedagogie

Fakulteit Opvoedkunde

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 9197

E-pos: pwh@sun.ac.za; pwhanekom@gmail.com  

UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4921

E-pos: viljoenm@sun.ac.za