Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Veranderende pedagogiese praktyke en identiteite
Outeur: CTL/SOL
Gepubliseer: 17/03/2020

Ons eerste Leer- en Onderrigverrykingseminaar (LOV-seminaar) vir 2020 is deur Proff Jan Botha en Liezel Frick, Dr Nompilo Tshuma, en Me Miné de Klerk aangebied. Die titel van hul aanbieding was “Veranderende pedagogiese praktyke en identiteite: Lesse geleer uit die virtuele klaskamer".

Die Universiteit Stellenbosch (US) voorsien 'n evoluerende kontinuum van leweringsmodusse wat wissel van volledige aanlyn onderrig en leer tot interaksie van aangesig tot aangesig. Daar is 'n gevoel van dringendheid en relevansie om in groter mate na aanlyn leweringsmodusse te beweeg, en tans raak 'n hibridiese leerleweringsmodus meer algemeen aan die US. Die Dialoog oor Innoverende Hoëronderwysstrategieë (DIOS)/Sentrum vir Navorsing oor Wetenskap en Tegnologie‑ (SENWET‑) Aanlyn Opleidingskursus vir Studieleiers van Doktorale Kandidate aan Afrika-universiteite is 'n aanlyn kortkursus wat die US in samewerking met die Rhodes‑Universiteit fasiliteer. Aanlyn kortkursusse soos hierdie bied 'n unieke leergeleentheid oor kwessies wat werk en kwessies wat nie werk nie, wanneer daar oor die bekendstelling van hibridiese leer vir programme en modules gedink word.

Die aanbieding was 'n besinning oor verskuiwende identiteite vanuit vier perspektiewe:

  1. Die kursusfasiliteerder,
  2. Die e-tutor,
  3. Die deelnemers, en
  4. Die professionele persoon uit 'n derde omgewing

Die rasionaal vir die aanbod is die feit dat die vasteland van Afrika vir 'n groot getal PhD‑inskrywings voorsiening moet maak, wat uitsette van 'n hoë gehalte vereis. Om hierdie hoë gehalte te verseker, moet PhD-studieleiers bemagtig word met die vereiste vaardighede vir goeie studieleiding deur behoorlik gekonseptualiseerde kursusse soos hierdie.

By nabetragting oor hul ervarings was die aanbieders dit eens dat 'n virtuele klaskamer uitdagings bied wat “getrotseer" moet word. Dit beïnvloed 'n mens se beskouings oor identiteit en verg voortgesette dialoog en vertroue tussen die betrokke rolspelers, die moed om grense oor te steek, en die vermoë om gedurig deur 'n kritiese lens na jou eie praktyk te kyk.

Daar was lewendige interaksie met die kollegas teenwoordig, wat gemeld het dat die aanbieding dieper denke ontlok het oor die pedagogiese besluite wat 'n mens neem wanneer jy 'n volledige aanlyn of hibridiese kursus moet fasiliteer. Volgens terugvoering ná die seminaar het diegene wat die seminaar bygewoon het dit baie nuttig gevind, met vermelding van die verskillende perspektiewe wat van belang was in die vorming van hul denkwyses oor onderrig en leer in die toekoms.

Die volgende LOV-seminaar vind op 12 Mei plaas en word deur die Sentrum vir Onderrig en Leer aangebied. Dr Karin Cattell-Holden se aanbieding handel dan oor erkenning van uitstaande onderrig.