Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Die FGGW en COVID-19
Outeur: Prof Jimmy Volmink
Gepubliseer: 16/03/2020

Ons wil u die versekering gee dat die bestuurspan van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) en ons fakulteit se gebeurlikheidskomitee verwikkelinge met betrekking tot COVID-19 fyn dophou. Soos u sal verstaan, bly die situasie hoogs veranderlik, en ons sal dus daarna streef om so behendig as moontlik te wees en u ingelig te hou soos wat ontwikkelings plaasvind.

Gegewe die feit dat President Cyril Ramaphosa gisteraand 'n landwye noodtoestand aangekondig het, moet ons optrede gerig word deur die besluite wat deur die kabinet en die onderskeie ministers geneem word. Ons besluite word ook voortdurend gebaseer op inligting wat verskaf word deur onder meer die Universiteit Stellenbosch (US) se oorkoepelende Institusionele Komitee vir Voortgesette Besigheidsbedrywighede, die Wes-Kaapse regering se Departement van Gesondheid (WKRDVG), die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NIOS) en infeksiesiektekenners in ons onderskeie departemente.

Die stappe wat ons doen is belyn met die besluite van die US se bestuurspan, maar ons glo dat sekere fakulteitspesifieke maatreëls gepas is aangesien ons kollegas en student werk en/of opleiding ontvang in gesondheidsorg-omgewings.

Om seker te maak dat ons voldoen aan die huidige bepalings van die regering en die besluite wat deur die US se bestuur geneem is, het die Vise-Dekaan: Leer en Onderrig vandag met die onderskeie programkoördineerders en modulevoorsitters vergader. Die volgende besluite is geneem:

  1. Lesings met groepe van meer as 100 studente sal nie in kontakformaat voortgaan nie. Die onderskeie programkoördineerder en/of modulevoorsitter sal alternatiewe reëlings kommunikeer oor hoe inhoud op elektroniese of ander wyses aangebied sal word.
  2. Asseserings gaan voort, hoewel lokale mag verander. Die betrokke veranderings sal deur die onderskeie programkoördineerder en/of modulevoorsitter gekommunikeer word.
  3. Kliniese opleding gaan tans voort vir alle senior studente, hoewel dit dalk later nodig sal wees om dié reëling aan te pas. Alternatiewe reëlings vir junior studente sal deur die onderskeie programkoördineerder en/of modulevoorsitter gekommunikeer word.

Dit is duidelik dat dit uiters belangrik is dat ons op dié stadium alles doen wat ons kan om die verspreiding van die siekte in te perk. Ons wil dus die volgende onder u aandag bring:

  1. Kennisgewings sal in badkamers aangebring word om almal te herinner aan die korrekte handwas-protokol met seep en water.
  2. In areas waar water nie beskikbaar is nie, soos by die ingange na fakulteitsgeboue en areas waar daar baie voetverkeer is, sal handontsmettingsmiddel beskikbaar gestel word. Ons sal verseker dat oppervlaktes wat baie gebruik word, soos lessenaarblaaie in lesinglokale, ten minste twee keer per dag met die gepaste middels skoongemaak word.
  3. Let asseblief op die belangrikheid van die handhawing van sosiale afstand (bly een meter van ander mense af waar moontlik en moenie hande skud nie) en die gepaste hoesprotokol (hoes of nies in die holte van u elmboog of 'n snesie wat u dadelik weggooi). Moenie aan u gesig vat nie, aangesien u só die virus na u asemhalingstelsel kan oodra.
  4. In die kliniese areas moedig ons u aan om die universeel aanvaarde voorsorgmaatreëls vir infeksievoorkoming en –beheer toe te pas. Wat persoonlike beskermende toerusting aanbetref, maak asseblief seker dat u dit reg aan- en uittrek en veilig daarvan ontslae raak.
  5. As u nie simptomaties is nie, is dit nie nodig om 'n masker te dra gedurende normale daaglikse aktiwiteite nie, veral aangesien daar 'n wêreldwye tekort aan maskers is. As u betrokke is by 'n prosedure waar die risiko van druppelverspreiding bestaan, dra 'n chirurgiese masker, beskerming oor u oë, 'n plastiekvoorskoot en handskoene. N95-maskers moet net gebruik word vir prosedures waar die moontlikheid van sproeiverspreiding bestaan. Kliek hier vir die WKRDVG se riglyne oor infeksievoorkoming en –beheer. Inligting oor die korrekte gebruik van N95-maskers is hier beskikbaar.
  6. Ons doen 'n ernstige beroep op alle personeel en studente om sosiaal verantwoordbaar op te tree om te help om die verspreiding van die siekte te voorkom of verstadig. Volg asseblief die riglyne van die Wêreldgesondheidsorgorganisasie (WGO) wat hier beskikbaar is. Ons moedig u ook aan om uself te vergewis van die regte, rolle en verantwoordelikhede van gesondheidsorgwerkers, wat hier beskikbaar is.
  7. Die WKRDVG se webwerf wat die amptelike en opgedateerde inligting oor die stand van sake in die provinsie verskaf, is hier beskikbaar. Inligting oor hoe om stres te hanteer tydens die uitbreking van COVID-19 is hier beskikbaar. 'n Omvattende lys hulpbronne is hier op die NIOS se webwerf beskikbaar. U kan inligtingsvideos hier aflaai.
  8. Verwys asseblief ook na die US se werwerf met inhoud oor COVID-19 wat hier beskibaar is. Let daarop dat die webwerf gereeld opgedateer word.
  9. Die Nasionale Departement van Gesondheid het 'n WhatsApp-diens beskikbaar gestel met akkurate nuus en inligting wat verkry kan word deur met 'n interaktiewe spyskaart te werk. U kan die nommer 0600 123 456 as 'n kontak laai en dan “Hi" as 'n boodskap versend. Dit is nié 'n WhatsApp-groep nie en u sal net inligting ontvang as u dit versoek.
  10. As u vermoed dat u COVID-19 onder lede het, moet asseblief nie werk of klas toe kom of na 'n gesondheidsorgfasiliteit gaan nie. Bel eers een van die onderstaande nommers om die nuutste raad te kry oor die stappe wat u moet volg:
  • Kampusgesondheidsdienste op die Tygerbergkampus: 021 938 9590
  • Na-ure noodnommer: 076 431 0305
  • Nasionale inbelsentrum: 0800 029 999

Soos per protokol doen die nasionale minster van Gesondheid, Dr Zwele Mkhize, alle aankondigings oor nuwe bevestigde gevalle van COVID-19. Die nasionale en provinsiale departemente van gesondheid sal nie enige inligting oor pasiëte bekendmaak nie, aangesien dit onwettig is. Weerhou uself daarvan om enige inligting oor pasiënte op sosiale media te deel.

Baie dankie vir u samewerking, dat u ons help om op 'n verantwoordelike manier die huidige gesondheidsuitdaging te hanteer en vir u toewyding om eties en met medelye na pasiënte en mekaar om te sien.

 

Vriendelike groete

 

Prof Jimmy Volmink

Dekaan​