16 Maart 2020
Beste Kollegas en Studente
Terwyl die omstandighede rondom ons baie vinnig verander en in die lig van die maatreëls wat president Cyril Ramaphosa gisteraand aangekondig het, het die Rektoraat van die Universiteit Stellenbosch (US) vanoggend die volgende besluite geneem:
- Alle klasse en assesserings word vanaf Dinsdag, 17 Maart 2020 opgeskort. Die resestydperk tussen die eerste twee kwartale van 2020 begin môre vir studente op die Stellenbosch-kampus.
- Vir studente op die Tygerberg-kampus sal akademiese reëlings vanuit die Dekaan se kantoor gekommunikeer word.
- Die tweede kwartaal is geskeduleer om op 30 Maart 2020 via aanlyn-lesings te begin. Die situasie word deurlopend dopgehou en die jongste inligting sal na gelang van spesifieke omstandighede op die webwerf bygewerk word.
- Alle studente in US-koshuise word versoek om hul kamers te ontruim en terug te keer huis toe vir die resestydperk. Aangesien ons besef dat sommige studente nie huis toe sal kan gaan nie, sal sommige studente in Universiteitskoshuise gehuisves word. Maatreëls om die risiko van besmetting te verminder en voorsorg vir isolasie sal getref word. Daar sal van studente wat in koshuise aanbly verwag word om die aangeduide higiëne- en ander protokols na te kom. Praktiese reëlings en meer gedetailleerde inligting sal volg.
- Nagraadse studente moet met hul studieleiers skakel om praktiese reëlings te bespreek en waar moontlik ook liewer aanlyn van die huis af werk. Vrae kan aan die akademiese departemente gerig word.
- Navorsingsaktiwiteite moet ook sover moontlik voortgaan.
- Graduandi wat die gekanselleerde gradeplegtighede in Maart/April sou bywoon, sal hul kwalifikasies in absentia ontvang, maar die geleentheid hê om in Desember gradeplegtighede by te woon vir die seremoniële toekenning van hul grade – mits omstandighede dit dan toelaat. Graduandi sal later vandag per epos ingelig word oor die praktiese reëlings om hulle dokumente te bekom.
Hoewel die sluiting van 'n universiteit net aanbeveel word indien verskeie gevalle van die coronavirus bevestig is, het die Universiteit Stellenbosch besluit om eerder die resestydperk te vervroeg, al is daar nog geen bevestigde gevalle van die COVID-19-besmetting op ons kampusse nie. Die twee belangrikste openbare-gesondheidsbeginsels is die handhawing van sosiale afstand en om die verspreiding van besmetting te beperk. Ons is in aanraking met nasionale en provinsiale agentskappe om te verseker dat ons die voorgeskrewe protokols volg.
Noodsaaklike dienste sal voortgaan op ons kampus. Die Universiteitsbestuur en akademiese personeel, met die ondersteuning van die professionele en administratiewe steundienste, fokus op die voortsetting van kern-aktiwiteite om te verseker dat ons studente 'n suksesvolle akademiese jaar kan voltooi.
Daarom is die gebeurlikheidskomitee wat ses weke gelede saamgestel is, nou verander na 'n oorkoepelende Institusionele Komitee vir Voortgesette Besigheidsbedrywighede, met verskeie operasionele komitees, om voorkeuraandag te gee aan die verskillende aspekte van kampusaktiwiteite wat deur die wêreldwye pandemie geraak word.
Ons besef dat nasionale en institusionele maatreëls, soos die vroeë sluiting van skole, ons personeel en studente sal raak. Hoewel ons nog nie al die praktiese antwoord het nie, hou ons die situasie baie fyn dop en sal ons voortdurend met ons belanghebbers, veral ons personeel en studente, kommunikeer.
Ons het oor die kansellasie van die Maart/April-gradeplegtighede gekommunikeer; Varsitybeker-wedstryde wat vanaand gespeel sou word, is afgestel, terwyl die inhuldiging van die Kanselier op 8 April uitgestel is.
Belangrike kontaknommers en voorsorgmaatreëls verskyn op die US se coronavirus-webblad. Die nasionale departement van gesondheid het ook 'n WhatsApp-diens aangekondig vir vrae wat met COVID-19 verband hou. Voeg 060 0120 3456 op jou as 'n WhatsApp-kontak by en tik Hi vir toegang tot die toepaslike inligting.
Die US se Kampusgesondheidsdiens het 'n 24-uur-kontaknommer met 'n mediese praktisyn aan diens: 0764310305. Navrae oor institusionele maatreëls en reëlings (nie mediese navrae nie) kan gestuur word na info@sun.ac.za.
Ek wil ook 'n beroep op alle lede van ons kampusgemeenskap doen om asseblief nie onbevestigde inligting, gerugte of paniek te versprei nie. Kom ons werk saam.
Groete
Prof Wim de Villiers
Rektor en Visekanselier