Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Vroue en suksesvolle leierskap in sport
Outeur: Maties Sport Media
Gepubliseer: 10/03/2020

Lede van die Stellenbosch-sportgemeenskap en gaste het onlangs bymekaargekom om die belangrikheid van die bemagtiging van vroue as 'n integrale deel van die ontwikkeling van sport en die samelewing te bespreek.

Gasspreker en lid van die Duitste parlement me. Dagmar Freitag het die woorde van die voormalige Suid-Afrikaanse president Nelson Mandela gebruik in haar openingsrede by die “Vroue en suksesvolle leierskap in sport"-simposium wat deur Maties Sport se Sentrum vir Sportleierskap aangebied is.

“Sport has the power to change the world. It has the power to inspire, it has the power to unite people in a way that little else does," het sy gesê.

Die geleentheid is gekenmerk deur 'n bespreking oor persoonlike en politieke perspektiewe van die ongelykhede in interne, plaaslike, nasionale en internasionale strukture.

Die paneellede – me. Ilhaam Groenewald, hoofdirekteur: Maties Sport, me. Anroux Marais, Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport, en me. Freitag – het hul ervarings gedeel en die aandag gevestig op die veranderinge wat vroue reeds op verskillende vlakke teweeggebring het, wat die vraag laat ontstaan het oor wat nóg gedoen moet word.

Die algemene gevoel was dat vroue meer wil hê en verdien. Vroue in die sportwêreld word nou al te lank beperk tot posisies met min besluitnemingsmag, en dien dikwels as sekretarisse, of indien gelukkig, in 'n adjunkposisie. Dit stem nie ooreen met hul vermoëns óf hul kwalifikasies nie en spreek nie die belangrikheid van verteenwoordiging aan nie.

Vroue en meisies verteenwoordig 51,2% van Suid-Afrika se bevolking en hul deelname aan sport neem steeds toe. Ten spyte hiervan kry vroue en meisies min ondersteuning in die vorm van kontrakte, werksgeleenthede, blootstelling en mediadekking. Die aantal vroue in senior sportposisies moet minstens die groeiende deelname van vroue en meisies verteenwoordig.

Die paneel het genoem dat dit hoofsaaklik mans is wat hierdie posisies beklee. Vir die vroue wat teenwoordig is, verander daaglikse take in uitdagings weens die ondermynende houding en tekort aan ondersteuning van hul eweknieë. Vroue in sport het die ondersteuning van mans nodig deur bondgenootskappe en die verskuiwing van grense in die omgewings waarin hulle beweeg. Mans is sterk aangemoedig om inisiatief te neem en planne en strategieë uit te dink oor hoe om hierdie doelwit te bereik. Me. Groenewald het ook beklemtoon dat navorsing vir impak, doelwitte en samewerkende vennootskappe die transformasieproses kan bevorder.

Ter opsomming: Altesame 30 miljoen Suid-Afrikaanse vroue en meisies eis volhoubare gendergelykheid. 'n Diverse teenwoordigheid van vroue en ondersteuning op alle vlakke is nodig om meisies te inspireer. Seksisme en genderongelykheid is nie nuut nie, en dit is elke individu, in sy/haar eie kapasiteit, se verantwoordelikheid om dit iets van die verlede te maak. Die paneel het beklemtoon dat dit nie 'n opsie is om op te gee nie.

“Dit is ons verantwoordelikheid as sportleiers en -administrateurs om bymekaar te kom en te praat oor die kwessies waarmee ons in ons samelewing sukkel," het me. Groenewald gesê.

Maties Sport se Sentrum vir Sportleierskap wil ondersteuning vir vroue en meisies in sport kweek en bevorder ten bate van die samelewing en in ooreenstemming met die waardes van die Universiteit Stellenbosch.