Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
SACSSP Registrateur deel advies met maatskaplike werk-studente by eedaflegging-seremonie
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 09/03/2020

“Uitnemendheid binne die beroep van maatskaplike werk is van besondere belang vir die Suid-Afrikaanse Raad van Maatskaplike Diensberoepe. As studente van hierdie Universiteit wil ek julle aanmoedig om uitnemendheid in jul beroep te bevorder. Maar julle sal ook moet saamwerk met ander rolspelers in gemeenskappe om die tipe intervensies te verskaf wat 'n positiewe impak sal hê op die lewe van die kind of die gemeenskap wat julle dien."

Dit was die woorde van me Langi Malamba, die Registrateur van die Suid-Afrikaanse Raad van Maatskaplike Diensberoepe (SACSSP), wat onlangs besoek afgelê het by die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe om tweedejaarstudente van die Departement Maatskaplike Werk, wat nou hul praktiese opleiding aanpak, toe te spreek.

Malamba het die geleentheid gebruik om met studente te praat oor hul professionele gedrag as maatskaplike werkers en die rol van die SACSSP.

“Maatskaplike werk is 'n beroep en alle praktisyns wat werk as maatskaplike werkers is verplig om te registreer by die Suid-Afrikaanse Raad vir Maatskaplike Diensberoepe. Soortgelyk, moet maatskaplike werk-studente wat praktiese opleiding doen, ook registreer as studente maatskaplike werkers met die SACSSP vanaf hul tweede jaar. Hierdie studente lê 'n eed af voordat hul praktiese opleiding begin," verduidelik dr. Ilze Slabbert, die koördineerder van die tweedejaarse se praktiese opleiding en 'n lektor in die Departement Maatskaplike Werk.

“Dit is 'n baie spesiale geleentheid vir ons departement as die tweedejaarstudente in maatskaplike werk ook beloof om hul kliënte met waardigheid en respek te behandel en te voldoen aan die Etiese Kode en al die vereistes van die beroep van maatskaplike werk," voeg sy by.

​Malamba het die studente herinner aan die etiese waardes en beginsels wat hul gedrag moet rig as maatskaplike  werk-praktisyns. Dit sluit in, sê sy, die bevordering van maatskaplike geregtigheid deur hul werk, respek vir die individu se waarde sowel as hul regte as mense, hul  waardigheid, om bevoeg te bly in hul beroep terwyl gemeenskappe gedien word, die bevordering van integriteit en om professionele verantwoordelikheid te handhaaf terwyl vir ander se welstand en dienslewering gesorg word.

“Wanneer jy praat oor etiek, gaan dit oor jou. As jy etiek beter wil verstaan, moet jy net binne jouself kyk. Dit gaan  daaroor dat jy weet waaraan jy waarde heg, want wat jy nie self waardeer nie, sal jy ook nie in ander mense waardeer nie. Jy moet jouself daardie vrae vra - wie respekteer ek en wat waardeer ek -  om jou waardes te bepaal."

Benewens etiek, het sy bygevoeg, moet studente ook  hulself aanvaar.

“Wanneer jy 'n maatskaplike werker is, moet jy jouself aanvaar, tot op 'n punt waar jy 'n oorvloed van aanvaarding het. Jou aanvaarding-tenk moet vol wees en jy moet verseker dat dit vol is. Soms gaan ons volwassenheid binne met leë tenks, maar daar word van ons verwag om ander mense te help. Jy kan dit nie doen as jy 'n maatskaplike werker is nie."

Terwyl sy empatie het vir die blote getalle kliënte wat dikwels aan maatskaplike werkers toegeken word, is dit belangrik “vir elke kliënt om as uniek behandel te word."

“Jy moet vir jou kliënte luister ten einde oplossings te vind wat vir hulle werk."

Terselfdertyd, sê sy, is dit belangrik om die kliënt se reg op self-beskikking te erken.  

“Moenie wat jy wil hê, bloot afdwing nie. Byvoorbeeld, as jy werk met 'n kind wat daardie dag nie wil doen wat daardie dag gedoen moet word nie, vind iets anders om te doen wat die kind sal betrek en jou steeds sal toelaat om jou werk as maatskaplike werker te doen." 

​Sy het ook passievol uitgewei oor die verantwoordelikheid van maatskaplike werk-praktisyns om “kollegas teen onregverdige kritiek" te beskerm en ook om “kwessies op te haal met kollegas wat die beroep in oneer bring."

“Dit is ook belangrik om geleenthede te bevorder vir die uitruil van kennis en ondervinding tussen kollegas en ander professionele persone: wees dus bereid om by ander te leer en hul bydrae te respekteer."

Foto: Me Langi Malamba​, die Registrateur van die Suid-Afrikaanse Raad vir Maatskaplike Werk Diensberoepe (SACSSP), het onlangs besoek gebring aan die Fakulteit van Lettere en Sosiale Wetenskappe om tweedejaarstudente van die Departement Maatskaplike Werk toe te spreek, wat hul praktiese opleiding begin het. By haar is prof Lambert Engelbrecht, me Priscalia Khosa, en dr Ilze Slabbert, almal van die Departement Maatskaplike Werk. (Anton Jordaan)