Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Van professionele sjef tot universiteitsdosent
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 09/03/2020

Wanneer jy Heinrich Gerwel vir die eerste keer ontmoet, kan jy nie anders nie as om beïndruk te wees met sy kalm, dog energieke passie vir sy navorsing en onderrig by die Universiteit Stellenbosch (US) se departement Landbou-ekonomie in die Fakulteit AgriWetenskappe.

Gerwel glo in akademiese vryheid, oop gesprekvoering en om mense aan te moedig om hul ware self te wees, en sê sy unieke loopbaanagtergrond het gehelp om hom 'n meer holistiese, maar ook werklikheidsgegronde benadering tot die onderrig van sy studente te hê.

“Die Universiteit Stellenbosch het goed daarin geslaag om ruimte vir oop gesprekvoering te skep om om akademiese vryheid aan sy studente te gee. Ek hoop my huidige navorsing in landbou-ekonomie kan help om aan studente 'n realistiese siening te gee van wat in ons bedryf aan die gang is, te gee."

Gedurende sy finale jaar aan die Rhodes-universiteit in 1997, het Gerwel gesluit om vir eers sy BSc-studies vaarwel te roep. Hy het daarna aan die Instituut vir Kulinêre Kunste (ICA) op Stellenbosch gestudeer en het tot 2005 as 'n professionele sjef by van die beste restaurante in die Wes-Kaap gewerk.

“Om kos te maak, was eintlik 'n ompad. Ek het in 1997 die formele akademie om persoonlike redes en in my soeke na dieper betekenis verlaat. Ek het gedink die nuwe Suid-Afrika gaan hierdie rooskleurige reënboognasie wees – iets wat dit toe nie was nie, en dit was 'n groot teleurstelling vir my."

As die seun van wyle Jakes Gerwel, 'n vermaarde Suid-Afrikaanse akademikus en anti-apartheidsaktivis, het gemeenskapswerk en aktivisme uiteraard deel van sy lewe geword.

Gerwel is gebore en getoë in die Kaapse Vlakte-woonbuurt van Belhar, waar hy aan die Garlandale Senior Sekondêre Skool in Athlone gematrikuleer het en waar hy tot vandag toe nog steeds baie gemeenskapswerk doen. Hy is ook aktief betrokke by die bevordering van die kunste deur sy verbintenis met die Suidoosterfees en deur verskeie inisiatiewe op voetsoolvlak in Delft, Bonteheuwel en Bonnievale te help.

Terwyl hy as 'n sjef gewerk het, het Gerwel saam met sy universiteitliefde, met wie hy ook saam op skool was 'n gesin begin. Hulle het in 2013 getrou. Gerwel het later besef die lang, uitputtende werksure van 'n sjef was op die lange duur nie 'n volhoubare opsie vir hom en sy gesin nie.

“Ek het goeie ondervinding opgedoen terwyl ek as 'n sjef gewerk het, maar dit is baie harde werk. Ek het besluit om terug te gaan universiteit toe en soos hulle sê, die res is op die ou einde nie geskiedenis nie, maar my storie."

Hy het in 2006 na die akademie teruggekeer nadat hy die gasvryheidsberoep vaarwel toegeroep het, waarna hy 'n B-graad in die Ekonomie in Ontwikkelingstudies, asook 'n honneurs- en meestersgraad in Ekonomie in Ontwikkelingstudies (albei cum laude) by die Instituut vir Maatskaplike Ontwikkeling aan die Universiteit van Wes-Kaapland verwerf het.

Hy is tans besig met sy doktorale studies by die departement Landbou-ekonomie aan die US, terwyl hy ook Landelike Ontwikkeling en Landbouhervorming doseer.

“Ek dink my lewenspaadjie het teruggelei na die akademie om my die mens te maak wat ek vandag is. Ek het nog altyd weerstand gebied teen hierdie hele akademie-ding en het nooit beplan om hierdie roete te volg nie. Maar wanneer ek my lewensreis retrospektief beskou, skakel alles wat ek voorheen studeer en gedoen het, uiteindelik in by wat ek tans doen en nog hoop om in die toekoms te doen."

Foto deur Stefan Els.