Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Huldeblyk aan Prof Klaus Koch
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 24/02/2020

Dit is met groot hartseer dat die Departement Chemie en Polimeerwetenskap en die Fakulteit Natuurwetenskappe kennis geneem het van die afsterwe van Prof Klaus Koch (66) op 2 Januarie vanjaar.

Prof Koch was 'n wêreldbekende analitiese chemikus op die gebied van die platinumgroep-chemie en kernmagnetiese resonans-(KMR)spektroskopie. Hy het meer as 160 publikasies op sy kerfstof en sy navorsing is reeds meer as 3 000 keer aangehaal. Hy het aan die einde van 2019 afgetree na 'n akademiese loopbaan van 21 jaar aan die Universiteit van Kaapstad, en sedert 2000, 'n verdere 19 jaar in diens van die Universiteit Stellenbosch (US). Oor die verloop van sy akademiese loopbaan by die US het hy as studieleier opgetree vir meer as 70 nagraadse studente, wat 24 MSc- en 30 PhD-studente insluit.

Hy het verskeie toekennings ontvang, waarvan die Suid-Afrikaanse Chemiese Instituut se gesogte Goue Medalje vir sy uitstaande bydrae tot chemie in Suid-Afrika, die mees onlangse een is. Met die ontvangs hiervan op 27 November 2019, het Prof Koch in sy toespraak 'n gedeelte uit E.O. Wilson se Consilience: the unity of Knowledge, aangehaal en 'n pleidooi gelewer vir die ontwikkeling en bewaring van die waarde van wetenskaplike analitiese denke. Hy het sy toespraak afgesluit met die volgende woorde: “In 'n toenemend koerslose, chaotiese populistiese wêreld wat wemel van fopnuus, word die verworwe redelike “waarhede" voortdurend ondermyn. Ons moet alles moontlik doen om die gaping te oorbrug wat wetenskaplike kulture van prewetenskaplike kulture skei. Ons moenie wetenskap beoefen net ter wille van wetenskap nie, nie net om die wetenskapstempel daarop te kan plaas nie, maar ons moet die waarde van wetenskaplike analitiese denke en vaardighede ontwikkel en bewaar ter wille van ons toekomstige volhoubare oorlewing."

By 'n geleentheid wat op 6 Februarie 2020 gehou is ter herdenking en viering van sy lewe, het Prof. Peter Mallon sy voormalige kollega beskryf as iemand met 'n ongebreidelde passie vir sy vakgebied: “Op 'n manier het Klaus altyd 'n manier gevind om 'n ekstra paar uur van KMR in die module in te druk. Wanneer hy hiermee gekonfronteer is, was hy absoluut onwrikbaar. Hy het dan alreeds so veel as moontlik aan die inhoud gesny en dit sou immoreel en onverantwoordelik van ons wees om 'n honneursstudent die wêreld in te stuur wat nie die vereiste vlak van begrip van KMR-spektroskopie het nie!"

Prof. Koch se passie vir onderrig sal voortleef in die vorm van 'n beurs vir 'n HonsBSc-student in chemie: “verlede jaar, kort voor sy heengaan het Prof. Koch my kom sien ten einde seker te maak dat sy oorblywende navorsingsfondse gebruik sal word om 'n beurs tot stand te bring. Ek glo dat die Klaus Koch Chemie-honneursbeurs 'n gepaste manier is om sy nagedagtenis en enorme bydrae tot ons department te eer. Hy sal deur sy kollegas en studente onthou word uitstaande navorser, wetenskaplike en leermeester," het hy afgesluit.

Prof Louise Warnich, dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe, het gesê Prof Koch se nalatenskap sal ook voortleef in die Departement se vlagskip uitreikprogram, die SU Chemie Uitreikinisiatief, wat hy in 2013 saam met Prof Rehana Malgas-Enus gevestig het. Dié inisiatief help leerders uit minder-gegoede skole om op 'n Saterdag die voorgeskrewe chemie-eksperimente in die Departement se laboratoriums uit voer.

Dr. Stephen Woollam, bestuurder van raffineringstegnologie en tegniese oplossings by Anglo American, het per e-pos laat weet dat hulle oor baie jare 'n verhouding met Prof. Koch opgebou het: “Klaus het vele mense se lewens aangeraak op velerlei betekenisvolle maniere en ons rou saam met julle oor die verlies van 'n briljante intellek."