Lewis Mboko, 'n student van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (EBW), is onlangs as die nuwe voorsitter van die Universiteit Stellenbosch (US) se studenteraad (SR) vir die 2020 akademiese jaar aangewys.
Die 22-jarige ekonomie- en beleggingsbestuurstudent van Harare in Zimbabwe is sover bekend die eerste student van Zimbabwe om as voorsitter van die Studenteraad verkies te word. Dit is 'n eer wat baie beteken vir hierdie sprankelende jong man.
“Ek voel opgewonde en dankbaar dat hulle bereid is om iemand te kies wat nie eers 'n Suid-Afrikaanse burger is nie," het Mboko gesê. “Dit wys dat 'n mens nie beoordeel word oor waar jy vandaan kom nie, maar oor die inhoud van jou karakter en wat jy kan bied. Dit wys hoeveel ons as 'n kampus gevorder het en hoeveel meer oop en inklusief ons geword het. "
Hy besef egter dat hierdie oomblik nie net oor hom gaan nie.
“Ek is vandag hier omdat pioniers die weg gebaan het vir my. Ek staan op die skouers van baanbrekers - van bestuur tot studenteleiers tot studente - wat groot berge versit het sodat ek my oomblik in die kollig kan hê. Die enigste krediet wat ek aan myself kan gee, is dat ek dapper genoeg was om die geleentheid aan te gryp," sê Mboko.
Hy het groot planne vir sy termyn wat in September ten einde loop.
“Ek beplan om met studente te gesels oor kwessies wat ons teister en verdeel soos misdaad, geslagsgebaseerde geweld, verantwoordelike drinkery, rasseverhoudinge, stereotipes, seksualiteit en ander kritieke kwessies. As ons in die toekoms gemaklik wil wees, moet ons nou die ongemaklike gesprekke voer," het hy gesê.
Hy beoog om onder meer Vrydae 'n gazebo op die Rooiplein op te slaan of 'n tafel in die Neelsie te hê waar hy met studente kan gesels om oplossings te vind vir probleme waarmee hulle worstel.
“Ek wil hê dat mense hul insette moet gee sonder om beoordeel te word. Ek wil die kampus verenig en sorg dat ons almal in dieselfde rigting beweeg. Ons moet elke week 'n ander saak bespreek. Ek glo as ons almal saamwerk, kan ons die meerderheid van die probleme wat ons teister, oplos."
Mboko, wie se ma 'n sakevrou en pa 'n staatsamptenaar is, kon kies watter universiteit hy wou bywoon, maar het op die US besluit sodat hy “kultureel kan groei".
“Zimbabwe is nie 'n diverse land nie. Ek het besef dat ek by 'n diverse instelling moes aansluit as ek wou groei en nuwe dinge wou leer. Stellenbosch met sy mengsel van swart-, bruin-, Indiër- en witmense, selfs mense van oor die hele wêreld, het my daardie diversiteit aangebied. Ek glo dat dit die beste instelling in die land is. Ek het gegroei as 'n persoon, omdat ek met 'n oop gemoed hierheen gekom het."
Hy het bygevoeg dat hy deur die loop van sy studies aan EBW gereeld in aanraking gekom het met “beginselvaste fakulteitspersoneel en -akademici wat hom die waarde van tydbestuur, harde werk en spanwerk geleer het".
Mboko se middelklasopvoeding het verseker dat hy kosskool aan die Hoërskool Goromonzi buite Harare kon voltooi, die skool in die junior parlement kon verteenwoordig en as kaptein van die nasionale debatspan kon dien.
“Anders as baie mense in my arm arm land, was ek gelukkig genoeg om geleenthede te kry waarvan die meeste van hulle net kon droom," het hy gesê. “Ek voel dus genoodsaak om ander mense te help om hul drome te verwesenlik. Ek wil eendag in die opvoeding en drome van agtergeblewe gemeenskappe belê, veral jong mense. "
Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier, het die volgende van Mboko te sê gehad: “Jou verkiesing pas in by ons fokus op internasionalisering. Studente bly 'n prioriteit vir ons en dit maak my altyd trots om te sien dat Maties 'n impak as wêreldburgers maak."
- Foto van Lewis Mboko deur Stefan Els.