Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Sandi se droom bewaarheid
Outeur: Maties Sport Media
Gepubliseer: 19/02/2020

​“Laat die terugkeer die terugslag oorskadu."

Hierdie stukkie wysheid het die Maties-hokkiespeler Sandisiwe Tabata deur 'n sewe maande lange rehabilitasietydperk gedra nadat sy verlede jaar in die Varsity Sports-hokkietoernooi beseer is.

Ongeveer agt maande ná haar besering het sy haar internasionale debuut vir die Suid-Afrikaanse vrouehokkiespan gemaak in 'n toetswedstryd teen Duitsland op haar tuisveld by Coetzenburg.

“Dit was werklik net 'n botsing van bene en skielik was sewe maande se hokkie en groot geleenthede daarmee heen," beskryf Tabata die besering wat sy teen Wits opgedoen het.

“Ek het 'n gedeeltelike PCL-skeur (kruisligament in knie), gekneusde meniskus en 'n impakfraktuur op my regterknie gehad," voeg sy by.

Die tydsberekening van die besering kon ook nie slegter gewees het nie. Sy was sopas gekies vir die SA vrouehokkiespan en haar droom om haar land te verteenwoordig, moes uitgestel word.

Tabata het tydens haar rehabilitasieproses lang ure saam met haar fisioterapeut en biokinetikus in die biokinetikasentrum spandeer.

“Die rehabilitasieproses was uitdagend, maar nooit 'te moeilik' nie. Ek was bereid om te doen wat nodig was om my herstelproses te bevorder. Ek het enige druk om 'n vroeë terugkeer te maak, verwyder sodat ek op die proses kon fokus. Die eerlikheid van die mediese span rondom my het my gehelp om myself te druk, doelwitte te stel en dit in my eie tyd te doen.

“Die omgewing en die atmosfeer in die biokinetikasentrum het 'n groot rol gespeel in my herstel. Die wete dat my been besig was om sterker te word, het my baie gemotiveer."

Volgens Tabata het die Maties Sport Hoëprestasie-eenheid ook 'n belangrike rol in haar terugkeer gespeel.

“Hulle het my baie ondersteun en gehelp waar hulle kon. Die HP-eenheid het dit vir my moontlik gemaak om toegang te kry tot die hulpbronne wat ek nodig gehad het vir die rehabilitasieproses. Die sessies wat die eenheid op die Cybex-masjien by die Stellenbosch Akademie vir Sport (SAS) gereël het, het 'n groot verskil gemaak."

'n Eerste internasionale verskyning was binne haar bereik toe Tabata in Mei verlede jaar beseer is. Geen wonder haar glimlag was so breed toe sy uiteindelik in Januarie vanjaar haar land op die hokkieveld kon verteenwoordig nie.

“Ek het nogal 'n dramatiese ompad geneem om by daardie oomblik uit te kom, maar soos my vriendin Zintle Tunce my altyd herinner het: 'n Droom wat uitgestel, is nie droom wat ontsê is nie. Terwyl ek langs my spanmaats gestaan en Nkosi Sikelel' iAfrica gesing het, het die 11-jarige Sandisiswe se droom waar geword."​