Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Corné sluit weer by Maties Rugby aan
Outeur: Maties Sport Media
Gepubliseer: 19/02/2020

As 'n voormalige Maties-rugbyspeler kon Corné Uys nie die geleentheid laat verbygaan om by Maties Rugby se afrigtingspan aan te sluit nie.

Uys het die Maroenmasjien van 2003 tot 2005 verteenwoordig.

Hy sluit nou aan by die hoofafrigter Drikus Hancke en sy assistent Norman Jordaan en sal vir die verdediging verantwoordelik wees.

“Ná 'n paar koppies koffie en 'n goeie gesprek met Drikus was dit duidelik dat sy verhoudings met sy bestuurslede en spelers baie belangrik is vir hom. Dit was eintlik 'n maklike besluit, om eerlik te wees," sê Uys.

Volgens hom het die feit dat hy 'n oud-Matie is, 'n groot rol in sy besluit gespeel.

“Om vir Maties te speel, was 'n groot deel van my loopbaan en lewe. Dit het my as 'n speler én as 'n persoon ontwikkel. Ek sal nooit die invloed wat die Maties-kultuur op my gehad het, vergeet nie. Dit was van die beste tye van my lewe. Ek hoop dat ek ook 'n impak op die lewe van hierdie spelers sal kan maak."

Met verwysing na sy betrokkenheid by die bestuurspan, sê Uys: “Die spelers en die bestuurslede het dieselfde doelwit. Die spelers is bereid om hard te werk. Hulle wil ook herinneringe skep in die goeie én die moeilike tye."

Uys is beïndruk met die sterk leierskap in die Varsitybeker-groep. “Hulle het 'n goeie gees en is bereid om hard te werk wanneer hulle bymekaar is… Dit is 'n spesiale groep spelers."

Hy is baie duidelik oor die doelwitte wat die bestuurspan en die spelers in die Varsitybekertoernooi nastreef.

“Die belangrikste ding is dat die spelers hul potensiaal bereik. Elke individu wil tot die beste van sy vermoë presteer tot voordeel van die groep. Ons wil 'n verskil maak as spelers en as mense."

Naas sy verantwoordelikhede as Maties se verdedigingsafrigter, is Uys ook die hoofafrigter van die SAS Rugby Internasionale Instituut. Dit bied aan hom nog 'n geleentheid om 'n invloed op die lewe en rugbyloopbaan van jong spelers te hê.