Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kwessie van tyd voor Covid-19 in Afrika bevestig word, waarsku epidemioloog
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 14/02/2020

Ons behoort binne die volgende maand te weet of die nuwe koronavirus ook op die Afrika-vasteland aangekom het. Intussen bly voorkomingsmaatreëls, soos isolasie van pasiënte en voorsorgmaatreëls op lughawens, vir eers die mees doeltreffende manier om die verspreiding van die virus onder beheer te kry.

Só sê Prof Juliet Pulliam, 'n spesialis in die modellering van aansteeklike siektes in lande met beperkte hulpbronne. Sy is ook direkteur van die Suid-Afrikaanse Sentrum vir die Modellering en Analise van Aansteeklike Siektes (SACEMA).

Tydens 'n openbare lesing by die Wallenberg Navorsingsentrum in Stellenbosch gisteraand (13 Februarie 2020), het sy 'n oorsig gegee van hoe epidemiologiese modelle gebruik word om die omvang en verspreiding van die nuwe 2019 koronavirus uitbreek te verstaan, en waarom daar nog geen gevalle in Afrika bevestig is nie.

Sy sê onlangse studies toon dat voorsorgmaatreëls by lughawens waarskynlik nie die verspreiding van die virus na ander lande gaan keer nie; dit sal wel help om die pas van verspreiding te vertraag.

Sodra 'n geval van infeksie bevestig is, is dit noodsaaklik dat maatreëls onmiddellik in werking gestel moet word ten einde verdere infeksies te voorkom. Dit sluit in die isolasie van die pasiënt en die opspoor van hul kontakte. Dit bly egter 'n uitdaging in lande met onvoldoende toetsfasiliteite en 'n swak gesondheidstelsel. Dit is waarom die Wêreldgesondheidsorganisasie tans besig is om toetsfasiliteite na 29 Afrika-lande uit te brei.

Sy sê daar is drie moontlike scenarios vir waarom die virus nog nie in Afrika bevestig is nie. Die eerste scenario, dat die virus nog nie hier aangekom het nie, is hoogs onwaarskynlik. Die tweede scenario is meer waarskynlik, naamlik dat daar reeds enkele gevalle ongemerk hier aangekom het, maar dat die virus nie so vinnig versprei nie weens die plaaslike omgewingstoestande. Hier verwys sy na 'n 1985-studie wat getoon het dat die koronavirus vinnig degradeer by hoë temperature, soos dié wat tans in tropiese Afrika heers gedurende die somermaande.

Maar dit is ook 'n onwaarskynlike scenario, meen sy, aangesien gevalle reeds in ander tropiese lande soos Thailand aangemeld is. Wetenskaplikes beskik ook nog nie oor genoeg kennis van die nuwe spesie van koronavirus om hierdie tipe van voorspellings te kan maak nie.

Die laaste scenario is die mees waarskynlikste, en ook die mees gevaarlikste, waarsku sy. Dit kan wees dat die virus reeds besig is om onder die radar te versprei. In verskeie artikels wat in Februarie 2020 op die mediese platform medrxiv gepubliseer is, waarsku navorsers dat COVID-19 waarskynlik reeds onopgemerk in verskeie Afrika-lande voorkom.

“Ek is veral bekommerd oor wat gaan gebeur met mense wie se immuunsisteme reeds gekompromiteer is, en diegene in lande met swak gesondheidstelsels," waarsku Prof Pulliam.

Op 31 Januarie 2020 het die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid 'n operasionele sentrum geaktiveer om die uitbreek te hanteer. Enigiemand met griepagtige simptome en met 'n onlangse reisgeskiedenis na China, of wat onlangs in kontak gekom het met iemand wat na China gereis het, moet hul naaste kliniek, huisdokter of hospitaal vir advies skakel, of die Nasionele Instituut vir Aansteeklike Siektes se openbare krisislyn by 0800 029 999.

 Foto: Anton Jordaan