Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Drie FGGW navorsers ontvang "Vroue in Wetenskap"-toekenning
Outeur: Sue Segar
Gepubliseer: 13/02/2020

Drie FGGW navorsers het onlangs die Universiteit Stellenbosch baie trots gemaak toe hulle elk 'n 2019 L'Oréal-UNESCO-toekenning gekry het vir Vroue in Wetenskap in Afrika suid van die Sahara.

Hulle is Carine Kunsevi-Kilola en Georgina Nyawo, wat beide PhD-studente is in die Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika, en Mweete Nglazi, 'n navorser van die Sentrum van Bewysgebaseerde Gesondheidsorg.

Die drie vrouens sluit nou aan by die L'Oréal-UNESCO gemeenskap van “Young Talents". Uit meer as 400 aansoekers, is die toekenning gegee aan twintig vroue-navorsers uit vyftien verskillende lande uit Afrika suid van die Sahara. Onder die aansoekers was gesondheidswetenskaplikes, rekenaarwetenskaplikes, ingenieurs en ander wetenskaplikes.

Die toekenningseremonie het verlede jaar in November in Dakar, Senegal plaasgevind.

Tydens onderhoude, het al drie van hulle saamgestem dat die toekennings 'n wonderlike erkenning was van hulle werk, en dat dit hulle aangemoedig het om selfs nog harder te werk om hulle navorsingsdoelwitte te bereik. Hulle het ook saamgestem dat dit 'n wonderlike geleentheid was om te netwerk.

Verder het hulle ook beaam dat die kos, die strande, die musiek en die algemene kultuur van Dakar alles tot die onvergeetlike reis na Senegal om hulle toekennings te ontvang, bygedra het!

Kunsevi-Kilola, wat oorspronklik afkomstig is van die Demokratiese Republiek van die Kongo, ondersoek die verband tussen tuberkulose (TB) en tipe 2 diabetes (T2D) om die onderliggende risiko-faktore in T2D pasiënte te ondersoek wat bydra tot hulle progressie na aktiewe TB. Sy is van plan om nadoktorale studies te doen, en om uiteindelik terug te keer na die DRK "om meer vrouens te inspireer om betrokke te raak by loopbane in die wetenskappe".

Kunsevi-Kilola het gesê sy was baie gelukkig om die toekenning te ontvang. “Dit het my laat besef dat mense ons harde werk raaksien – en dit motiveer my werklik om aan te hou om die werk te doen wat ek doen," het sy gesê.

Sy het bygevoeg dat buiten die feit dat sy ander vroue uit Afrika leer ken het wat in wetenskap werk en meer omtrent hulle werk uitgevind het, was dit ook 'n hoogtepunt om senior mense te ontmoet wat by navorsing betrokke was.

“Ons het die direkteur van UNESCO vir Wes-Afrika ontmoet, asook een van die presidentsvroue van die DRK, en ook verskeie ministers van Senegal. Dit was 'n voorreg – en so bemoedigend – om so baie senior mense by die seremonie te hê. Hulle het groot belangstelling in ons werk getoon. Dit het my laat voel asof ek nie hierdie reis alleen aanpak nie en dat ek kan staatmaak op ander mense om my tot by die volgende vlak te help.

“Die hele ondervinding was net so positief! Ek is so dankbaar teenoor die Universiteit Stellenbosch vir die geleentheid om ons drome te bewaarheid, en ek onderneem om altyd met die junior wetenskaplikes al die vaardighede te deel wat ek op hierdie pad opgedoen het," het sy gesê.

Georgina Nyawo, wat oorspronklik afkomstig is van Zimbabwe, is besonder geïnteresseerd in die mikrobioom (volledige bakteriële gemeenskappe in die menslike liggaam) in TB in haar huidige navorsing. “Kortliks, ek is besig om al die bakterieë te bestudeer wat gevind word in pasiënte wat vermoedelik TB het. Ek stel belang daarin om uit te vind hoe bakteriële gemeenskappe verskil in die liggaam van iemand wat TB het, teenoor dié in die liggaam van iemand wat nie TB het nie."

Nyawo het gesê dat om die toekenning te ontvang 'n eenmalige lewensondervinding was. “Die opleiding wat ons daar ontvang het in leierskap, onderhandelingsvaardighede, openbare spreek-vaardighede en mediahantering was veel groter as wat ek my kon voorstel.

“Die organisasie hert werklik 'n program aanmekaargesit wat ons met soveel meer gelaat het as blote erkenning en befondsing. Die besprekings wat ons tydens die week van opleiding gehad het met ander vroue in wetenskap het oor soveel meer gegaan as net wetenskap.

“Buiten die ontvangs van die toekenning, het ek 'n paar werklik waardevolle lesse geleer, nuwe vriende gemaak en konneksies gesmee. Dit was ook heerlik om die plaaslike mense in Dakar te ontmoet, en ek het ook die sing en dans, asook die drink van die plaaslike kremetart-en hibiskussap baie geniet," het sy gesê.

Nyawo het gesê dat sy van plan is om voort te gaan om te werk in die veld van TB-navorsing en ook voorts in die akademie te bly.

Mweete Nglazi, 'n deeltydse navorser by die Sentrum vir van Bewysgebaseerde Gesondheidsorg  en 'n PhD-kandidaat by die Universiteit van Kaapstad, het gesê dat sy "gelukkig en opgewonde" was om erkenning te ontvang vir die navorsing wat sy doen. Sy het bygevoeg dat die ondervinding in Dakar "loopbaan-veranderend" was, as gevolg van die kennis wat sy opgedoen het tydens die opleiding wat die organisasie verskaf het.

Nog 'n hoogtepunt, het Nglazi, oorspronklik van Zambië afkomstig, gesê, was die geleentheid om met ander jong vroue te netwerk wat ook toekennings ontvang het. Hulle was uit minstens 15 ander Afrika-lande afkomstig. “Daar was vrouens uit Wes-Afrika, Oos-Afrika en Sentraal-Afrika – almal besig met baie interessante navorsing. Ek het so baie by hulle geleer. Om meer te hoor omtrent hulle navorsing het my oë laat oopgaan vir 'n hele wêreld van geleenthede. Ons bly steeds in kontak met mekaar," het sy gesê.

Nglazi se PhD projek het die volgende titel: “An analysis of overweight and obesity in South Africa: the case of women of childbearing age".

Haar navorsing is daarop gemik om patrone, sosio-ekonomiese ongelykhede en bepalende faktore in oorgewig en ernstige oorgewig in vroue in die ouderdomsgroep wat kan kinders hê, raak te sien, en te probeer verstaan.

“Die projek is belangrik omdat vroue wat ernstig oorgewig is 'n groot kans het daarop om geboorte te skenk aan kinders wat oorgewig of ernstig oorgewig is. Dus, deur te fokus op oorgewig of ernstig oorgewig vroue tussen die ouderdomme van 15 en 49 jaar, kan dalk vir die volgende generasie van hulp wees. Oorgewig en ernstige oorgewig dra nie net by tot sterftes en ongeskiktheid weens nie-oordraagbare siektes wêreldwyd, in Afrika suid van die Sahara en in Suid-Afrika nie, maar hou ook 'n merkbare ekonomiese las in, en plaas druk op die sosiale beskermingsisteme.  Om daardie rede is my studie van geweldige nut om die lewens van vroue in hierdie ouderdomsgroep in Suid-Afrika, en by implikasie, in Afrika suid van die Sahara te verbeter. Dit behels beleidsimplikasies, en sal verdere navorsing in die gebied stimuleer," het sy verduidelik.

Nglazi het gesê sy hoop om voort te gaan om navorsing te doen wat 'n impak kan hê op beleid, asook terselfdertyd 'n verskil kan maak aan mense se lewens. “Ek hoop om vordering te maak in die akademie, en om dalk eendag 'n professor te word of om 'n bydrae te maak aan 'n internasionale organisasie soos die Wêreld Gesondheidsorganisasie of die Verenigde Nasies."