Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kry hope waardevolle inligting by Maties Opedag
Outeur: Division for Student Access | Afdeling vir Studentetoegang
Gepubliseer: 11/02/2020

​Die Universiteit se jaarlikse Opedag beloof om weereens die ideale geleentheid vir graad 12-leerders te wees om inligting oor studiegeleenthede, finansiële hulp, huisvesting en die Matie-studentelewe te bekom.

Die Opedag vind op Saterdag, 29 Februarie van 08:00 tot 15:00 op die Stellenbosch- en Tygerbergkampusse, plaas.

“Die groot voordeel van 'n Opedag is dat voornemende studente direkte interaksie met universiteitspersoneel en senior studente het om spesifieke inligting oor die onderskeie studierigtings en ondersteuningsdienste te bekom," sê Magdel Pretorius, projekbestuurder van die US se Sentrum vir Studentewerwing en Loopbaanadvies.

Besoekers aan die Stellenbosch-kampus het die opsie om hul ontdekkingstog by die verwelkomingsgebiede op of die Rooiplein of in die Coetzenburg-sentrum, waar sommige fakulteite gaan uitstal, te begin. 'n Pendeldiens is op die dag tussen die Rooiplein en die Sentrum beskikbaar.

Die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe bied 'n opedag op die Tygerbergkampus aan, maar sal ook in die Coetzenburg-sentrum teenwoordig wees, terwyl die Fakulteit Ingenieurswese se uitstallings by die Ingenieurswese-kompleks gehou sal word.

Deur die loop van die dag sal inligtingsessies oor onder meer hoe om aansoek te doen, befondsingsopsies, hoe om jou loopbaan af te skop en studentesteun (insluitende studente met spesiale leerbehoeftes) herhaal word. Laai die program by www.maties.com af of kry 'n inligtingspakket en kaart wat op die Rooiplein of in die Coetzenburg-sentrum uitgedeel word.

Ook op die Rooiplein is Maties Sport, terwyl die koshuise vir besoekers oop sal wees.

Inligtingsbeamptes in blou T-hemde sal ook kampuswyd aan diens wees om besoekers met aanwysings en algemene navrae te help.

Indien jy en jou gesin beplan om na Opedag te kom, kan jy hier registreer: http://bit.ly/3btEDkz​. Registrasie vir Opedag is nie verpligtend nie, maar deur jou besonderhede in te voer, teken jy in op ons Opedag-nuusbrief. Dit beteken dat jy voor die geleentheid baie nuttige inligting sal ontvang.

·        Besoek www.maties.com, skakel 021 808 9111 of stuur 'n e-pos na info@sun.ac.za vir die volledige Opedag-program met tye en plekke.​

Open Day Collage.jpg