Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kombinasie van rook en drink vergroot risiko van wiegiedood
Outeur: NIH Media Statement / NIH Mediaverklaring
Gepubliseer: 07/02/2020

Kinders van ma's wat beide gerook en gedrink het na die eerste trimester van swangerskap, het 'n twaalf keer hoër risiko vir wiegiedood, of skielike-suigelingsterftesindroom (SIDS) wanneer hulle vergelyk word met baba's wat geen blootstelling hoegenaamd gehad het nie, of slegs blootstelling tydens die eerste trimester van swangerskap, volgens 'n nuwe studie wat gerugsteun is deur die Nasionale Instituut van Gesondheid (National Institutes of Health [NHI]) in die Verenigde State.

Stellenbosch Universiteit se Fakulteit van Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe het met verskeie ander internasionale navorsingsinstitute saamgewerk op hierdie agt-jaar-lange Safe Passage-studie.

SIDS is die skielike, en dikwels onverklaarbare, dood van 'n baba onder die ouderdom van een. Baie studies het al daarop gedui dat die risiko vir SIDS toeneem wanneer 'n ma gedurende haar swangerskap rook. Party studies het ook bevind dat voorgeboortelike blootstelling aan alkohol, veral as gevolg van swaar drankgebruik tydens swangerskap, die risiko van SIDS kan laat toeneem. Nou het die NIH-befondsde Safe Passage-studie van naderby gekyk hoe die SIDS-risiko beïnvloed word deur die tydperk en die hoeveelheid van voorgeboortelike blootstelling aan tabak en alkohol. 'n Verslag oor die studie het verskyn in EclinicalMedicine, 'n aanlynjoernaal, wat deur The Lancet gepubliseer is.

“Ons s'n is die eerste grootskaalse prospektiewe studie wat die verband tussen voorgeboortelike alkohol- en tabakblootstelling en die risiko van SIDS van naderby ondersoek het," het eerste outeur Amy J. Elliott, PhD, van die Avera Health Centre for Paediatric & Community Research in Sioux Falls, South Dakota gesê. “Ons bevindings dui daarop dat gekombineerde blootstelling aan beide alkohol en tabak 'n sinergistiese effek op die risiko van SIDS het, gegewe die feit dat die dubbele blootstelling gepaard gegaan het met 'n merkbaar hoër risiko as enigeen van hierdie twee dinge op hulle eie."

Om die studie te doen, het 'n multi-sentrum span van wetenskaplikes van dwarsoor die VSA en in Suid-Afrika die Prenatal Alcohol in SIDS and Stillbirth (PASS) Netwerk gevorm.  Vanaf 2007 tot 2015, het PASS-Netwerk navorsers die uitkomste van byna 12,000 swangerskappe onder vrouens van twee residensiële areas in Kaapstad, Suid-Afrika bestudeer; hulle het ook gekyk na vyf gebiede in die VSA, wat twee Amerikaans-Indiaan reservate in Noord- en Suid-Dakota ingesluit het. Die plekke waar die studies gedoen is, is gekies op grond van hulle hoë vlakke van prenatale alkoholgebruik en hoë voorkoms van SIDS, en was daarop gemik om bevolkings in te sluit waar die etniese en sosio-ekonomiese ongelykhede in verband met SIDS tot dusver nie deeglik bestudeer is nie.

Die navorsers het een-jaar uitkomste bepaal vir omtrent 94 persent van die swangerskappe. Hulle het bevind dat 66 babas gedurende daardie tyd gesterf het, wat 28 SIDS sterftes, en 38 sterftes vanweë bekende oorsake ingesluit het. Hulle het gevind dat buiten die byna 12-keer hoër risiko vir SIDS van gekombineerde rokery en drinkery na die eerste trimester van swangerskap, die risiko vir SIDS vyfvoudig toegeneem het in babas wie se ma's na die eerste trimester aanhou rook het, en viervoudig in baba's wie se ma's na die eerste trimester aanhou drink het. Hierdie risiko's is gemeet teen dié van baba's wat óf glad nie aan tabak of alkohol blootgestel is tydens swangerskap nie, óf baba's wie se ma's ophou rook of drink het teen die einde van die eerste trimester. 

“Die Safe Passage-studie verskaf belangrike nuwe inligting oor die rol van dubbele blootstelling aan prenatale rook en drink as risiko-faktore vir SIDS," volgens eerste mede-outeur Hannah C. Kinney, MD, van die Departement van Patologie by die Boston Kinderhospitaal en die Harvard Fakulteit van Geneeskunde. “Ons bevindings ondersteun die huidige aanbevelings van die US Centres for Disease Control and Prevention, die VSA geneesheer-generaal, en die Wêreld-gesondheidsorganisasie dat vrouens nie tydens swangerskap moet rook of drink nie, en beklemtoon hoe beduidend dubbele blootstelling is, wat die grootste risiko vir sterftes onder babas inhou." 

In 'n gesamentlike verklaring, het die leiers van die NIH, wat die primêre befondsing vir die Safe Passage-studie verskaf, die volgende gesê: “Hierdie bevindings verskaf steeds verdere bewyse van die lewensbelangrikheid van vroeë prenatale ontwikkeling ten opsigte van gesonde uitkomste na geboorte. Omdat baie vroue eers ophou drink of rook nadat hulle uitgevind het dat hulle swanger is, benadruk hierdie studie die belangrikheid van toetsing vir middelmisbruik vroeg in 'n swangerskap, en die belangrikheid daarvan om so gou as moontlik in te gryp. Die verklaring beklemtoon ook die noodsaaklikheid van sterker boodskappe op die gebied van openbare gesondheid in verband met die gevare van rook en drink gedurende swangerskap, en ook onder vrouens wat beplan om swanger te raak."


Onderskrif: Prof Hein Odendaal het die Suid-Afrikaanse gedeelte van die Safe Passage-studie gelei.

Foto-erkenning: Stefan Els