Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
“Klip met die skilpadspore” se glorie na 58 jaar herstel
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 05/02/2020

Amper 60 jaar nadat die “Klip met die skilpadspore" vanaf 'n plaas in die Sandveld verwyder is om in die voorportaal van die Kamer van Mynwese-gebou by die Universiteit Stellenbosch (US)  uitgestal te word, het die familie onlangs die geleentheid gehad om die uitstalling te besigtig.

Mev. Lettie Veldsman, dogter van die destydse plaaseienaar mnr. Maans Visser, en haar man, mnr. Gert Veldsman, het op Woensdag 22 Januarie 2020 ook 'n gedenkplaat wat die vindplek van die klip herdenk, in ontvangs geneem.

Dit is te danke aan die bemiddeling van emeritus-professor Izak Rust, 'n afgetrede dosent in geologie aan die US, wat in 2005 begin het om die geskiedenis rondom die herkoms van dié unieke tien-ton rots na te vors.

“In 1962 was ek 'n 26-jarige dosent in die Departement Geologie toe dié reusagtige blok rooierige sandsteen vanaf 'n plaas in die Sandveld by die universiteit aangekom het. Ek was persoonlik hard besig met dinge meestal anders as die klip, gevolglik was ek net ten dele ingelig oor wat eintlik agter die skerms aan die gang was," vertel hy.

Die rots is in 1963 met die oprigting van die nuwe Kamer van Mynwese-gebou in die muur vasgemessel. Op hierdie unieke klip is die spoortjies van drie soorte mariene skaaldiertjies wat 485-470 miljoen jaar gelede oor die sandbank van 'n oerkontinent geskarrel het, verewig. In die 1960s was dié fossielspore die oudste mariene fossielspore in Suid-Afrika, en die vonds is destyds deur prof Matie Taljaard van die US in die South African Geographical Journal van 1962 beskryf. In die Sandveld-omgewing het die plaaslike bevolking egter na hierdie spoortjies as “skilpadspoortjies" verwys.

Te midde van geskille met die US oor die beweerde onregmatige verwydering van die klip, asook skade wat aan hul landerye en infrastruktuur aangerig is tydens die verwyderingsproses, het die eienaars van die plaas Moesdam, mnre. Maans en Gertjan Visser, nooit erkenning vir die skenking ontvang nie. Daarby het die Universiteit ook nooit hul onderneming nagekom om 'n gedenkplaat by die vindplek van die klip op te rig nie, verduidelik Prof Rust.

Vandag, amper 60 jaar later, word die Vissers se skenking erken met drie plakette onderaan die uitstalling van die Brandenburg-rots: in Afrikaans, Engels en isiXhosa. 'n Inligtingspaneel verduidelik ook die merkwaardigheid van die vonds, terwyl 'n skaalmodel van 'n trilobiet (prototipe van die oermariene skaaldiertjies), deur die bekende Italiaanse paleokunstenaar Fabio Pastori, nuwe lewe aan die uitstalling gee.

Ter agtergrond

Die Brandenburg-klip behoort tot die Graafwater-formasie van die Tafelberg-groep en is ongeveer 485-470 miljoen jaar oud (Vroeg-Ordivisies). Die etlike verskillende soorte fossielspore, sleepsels en gate daarop, is gemaak deur uitgestorwe mariene artropode (ongewerwelde skaaldiere wat in die see leef), naamlik eurypterida en trilobiete. Drie unieke tipe spoorfossiele op die klip, is beskryf en benaam. Geen oorblyfsels van die diere self is ooit gevind nie, slegs kenmerkende spore en ander strukture wat deur die skaaldiere gemaak is. Die oorspronklike Vroeg-Ordovisiese omgewing in die gebied wat nou Brandenburg en omstreke is, was 'n groot intergetyvlakte wat daagliks tydens laagwater as 'n sanderige en modderige laagland drooggelê is. – Prof Izak Rust

Brandenburgklip2.png
 

Op die foto, tydens die amptelike oorhandiging van die Brandenburg-Moesdam gedenkplaat op 22 Januarie 2020, verskyn van links na regs: Mnr. George Olivier en Dr. Ryan Tucker (Departement Aardwetenskappe), Mnr. Koos Veldsman, Prof Alex Kisters (Hoof van die Departement Aardwetenskappe), mev. Lettie Veldsman, Prof Louise Warnich (Dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe) en Dr. Hannes Theron, voormalige geoloog by die Geologiese Opname van Suid-Afrika. Foto: Anton Jordaan