Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Samways se nuwe boek werp lig op insekbewaring wêreldwyd
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 04/02/2020

'n Nuwe 600-blad boek deur die Universiteit Stellenbosch se prof Michael Samways bevat akademiese insigte sowel as praktiese riglyne oor waarom en hoe insekte wêreldwyd bewaar moet word. Prof Samways word beskou as een van die voorste kenners wêreldwyd oor insekbewaring, en een van die stigterslede van dié navorsingsdissipline. Hy is 'n uitgelese professor in die US Departement Bewaringsekologie en Entomologie in die Fakulteit Agriwetenskappe.

Sy nuwe boek, Insect Conservation: a Global Synthesis is deur die uitgewery FABI in die Verenigde Koninkryk uitgegee. Hulle reken die boek sal 'n blywende indruk maak op insekbewaring as 'n navorsingsdissipline. Dit bevat 'n omvattende oorsig oor die jongste navorsingsinsigte op die gebied. Klem word gelê op die bewaring van enkele spesies, asook hoe insekte binne ekosisteme as geheel beskerm kan word. Dit wys ook uit hoe insekbewaring binne natuurgebiede en in stedelike gebiede gedoen kan word.

Volgens prof Samways het hy gedurende die skryfproses nie net studente in bewaringsekologie in gedagte gehad nie, maar ook professionele entomoloë met 'n belangstelling in bewaring, en bewaringskundiges met 'n passie vir insekte. Hy reken dat belangstellende lede van die publiek aanklank sal vind by hoofstukke oor die bewaring van insekte binne dorpe, stede en die landbousektor, aangesien talle praktiese riglyne ook gegee word. Spesifieke hoofstukke word ook gewy aan insekbewaring binne varswaterstelsels, in woude, grasvelde en grotte.

Die omslagillustrasie en dié van die eerste vier hoofstukke is gedoen deur Amerikaner Tierney Brosius, 'n kunstenaar wat spesialiseer in insekte. Die Suid-Afrikaanse botaniese kunstenaar, Vicki Thomas het die oorblywende illustrasies gedoen. Nagenoeg 260 illustrasies is te sien in die boek.

Gedurende sy ryke loopbaan het prof Samways reeds meer as 360 navorsingsartikels en hoofstukke in 61 boeke help skryf. Hy was skrywer of medeskrywer van 16 ander boeke. Dit sluit gidse in oor Suid-Afrikaanse naaldekokers, 'n handleiding oor hoe om opnames in varswatergebiede te doen danksy naaldekokers, en boeke oor insekbewaring in die algemeen. Ook het hy 'n boek help skryf oor hoe die natuurlewe op 'n eiland in die Seychelle merkwaardig herstel het danksy spesifieke ingrepe.

Talle van sy idees en bestuursbeginsels oor insekbewaring is reeds prakties in werking gestel op plase en in plantasies. Deur die loop van sy loopbaan het hy talle nasionale en internasionale eerbewyse daarvoor ontvang. Dit sluit onder meer 'n toekenning vir sy lewenswerk van die US Rektor in, asook erkenning vanaf die IUCN/Species Survival-kommissie. Verlede jaar het hy ook die invloedryke Marsh-toekenning van die Koninklike Entomologiese Vereniging in die Verenigde Koninkryk ontvang. Dit het sy lewenslange bydrae tot insekbewaring erken.

 Foto: Prof Michael Samways met n kopie van sy 16de boek Insect Conservation: A Global Synthesis. Fotograaf: Engela Duvenage

Slegs vir medianavrae

Prof Michael Samways
Departement Bewaringsekologie en Entomologie
Fakulteit AgriWetenskappe
Universiteit Stellenbosch 
samways@sun.ac.za

Geskryf deur Engela Duvenage vir die Fakulteit Agriwetenskappe, Universiteit Stellenbosch