Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Die CNC-opleidingsfasiliteit by die Departement Bos- en Houtkunde bring nuwe vooruitsigte vir 2020
Outeur: Dr Brand Wessels
Gepubliseer: 30/01/2020

​​​

Die openingseremonie van 'n nuwe CNC-opleidingsfasiliteit is op 21 Januarie 2020 gevier met groot opgewondenheid en belangstelling van verskillende belanghebbendes, waaronder verteenwoordigers van die bedryf, die privaatsektor, die akademie en die media. Professor Danie Brink, dekaan van die AgriWetenskappe-fakulteit, het die belangrikheid van vennootskappe tussen die nywerheid en die universiteit bespreek ten opsigte van opleiding en ontwikkeling van toekomstige bedryfsleiers. Daarbenewens het dr Brand Wessels, voorsitter van die Departement Bos- en Houtkunde (DBHK), die departement se visie en plan gedeel om die huidige opleidingsfasiliteite uit te brei, leerlinge op te lei en om die houtproduksbedryf nog beter te bedien as tans.

 
Dus, waarom is hierdie fasiliteit opgerig? Die meubelbedryf in Suid-Afrika gebruik 'n relatiewe klein hoeveelheid van ons bosbronne. Dit is egter waarskynlik die grootste werkskepper van al die primêre en sekondêre houtverwerkingsektore in Suid-Afrika. In 2010 het die meubelsektor ongeveer 46 000 mense regstreeks aangestel - daarom is hierdie sektor vanuit 'n nasionale perspektief so belangrik. BSc Houtprodukkunde-studente het 'n ideale agtergrond vir die meubelbedryf. Dit is basies 'n kombinasie van 'n bedryfsingenieur en houtmateriaalwetenskaplike. Maar in die verlede is daar so min gegradueerdes geproduseer dat die meeste in die primêre houtverwerkingsbedrywe in diens was sodra hulle gegradueer het. Met toenemende studentegetalle word geglo dat die DBHK in die toekoms ook die meubelsektor met gegradueerdes kan bedien.

 
Om hierdie studente toe te rus met praktiese vaardighede wat relevant is vir die meubelbedryf, het die Departement ongeveer drie jaar gelede met 'n langtermynplan begin om drie praktiese modules te skep wat op die meubelbedryf gefokus is. Hierdie modules word tydens vakansietye aangebied. Die eerste module is 'n basiese houtwerkswinkelkursus wat al 'n ruk lank nie-amptelik verloop, maar vanaf hierdie jaar word dit deel van die BSc-program. Die tweede module handel oor CNC-programmering en -gebruik en word vir die eerste keer in die Junie-vakansie aangebied. 'n Derde module in industriële houtafwerking word vir die toekoms beplan. Die onlangs ingeboude 5-as CNC-masjien is een van slegs 'n handjievol in Suid-Afrika en het gevorderde ontwerp- en vervaardigingsvermoë. Vyf-as CNC-programmering en -ontwerp sal deel uitmaak van die voorgraadse kurrikulum Houtproduk-kunde in 2020 en CNC-opleiding kan in die toekoms ook vir nie-studente as 'n kortkursus aangebied word.

 
FPMSeta, die Fakulteit AgriWetenskappe, lede van die Saaghout-navorsingskonsortium, insluitend die Hans Merensky-stigting, Sappi, Safcol en Bosbou, en die DHN se THRIP-program, het befonds.

 
Vir meer inligting, kontak dr Brand Wessels by cbw@sun.ac.za OF besoek ons webwerf by www.sun.ac.za/forestry