Vir meer as veertig jaar al help die Universiteit Stellenbosch (US) nuwelingstudente om by die universiteitslewe aan te pas, persoonlike struikelblokke te oorkom en word algemene psigososiale ondersteuning deur mentorprogramme gebied.
In 2013 het die Universiteit besluit om 'n ontwikkelingsbenadering te volg wat steeds hulp met aanpassing en probleemoplossing bied, maar ook daarop fokus op alle studente te help om hulle volle potensiaal te verwesenlik, insluitende die gementordes ('mentees') en die mentors.
Sedertdien volg die US 'n meer holistiese en sistemiese benadering wat daarop gemik is om die hele persoon te ontwikkel, eerder as om net op probleemareas te fokus. Die uitkoms was dat die Universiteit die BeWell-model begin volg het. Hierdie model kyk na studente se welwees uit 'n fisieke, emosionele, intellektuele, beroeps-, sosiale en geestelike hoek.
Volgens Joy Peterson, Tredhou- en Mentorkoördineerder by die Sentrum vir Studentegemeenskappe, help die BeWell-program die sentrum om tred te hou met hul mentorskakeling en -aktiwiteite. Die BeWell-tredhoustelsel wat deur dr Alten du Plessis, Adjunkdirekteur: Tredhou en Ontwikkeling by die Afdeling vir Besigheidsintelligensie aan die US, ontwerp is, help dit mentors om tred te hou met hul gesprekke, verhoudings en vordering.
“Ons wil regtig die studente help met die oorgang na die lewe op universiteit. Dit kan nogal n angswekkende ondervinding wees om universiteit toe te kom en met die hoëronderwysstelsel kennis te maak. Studente kan hulself onder soveel druk plaas deur te probeer om perfek te wees. Afgesien daarvan om op hul studies te fokus, moet hulle ook hulself tyd gun om uit te vind hoe dinge werk en om gewoond te raak aan hul nuwe leef- en leeromgewing. Dit sal hulle help met hul oorgang na die kampuslewe," sê Petersen.
Meer as 2 700 mentors en hoofmentors het reeds sedert 2013 gehelp om meer as 19 000 eerstejaars in die BeWell-program by te staan. Die US gebruik elke jaar sowat 600 opgeleide mentors en hoofmentors om tussen 4 000 en 5 000 nuwelingstudente (genoem gementordes of 'mentees') gedurende hul eerste ses maande by die Universiteit met raad en leiding by te staan.
Die mentors is hoofsaaklik senior studente wat intensiewe opleiding ondergaan om 500 tot 600 mentorgroepe in meer as 40 koshuise en privaatwyke op of die hoofkampus op Stellenbosch of op die Tygerbergkampus te help. 'n Span personeellede van die Universiteit, insluitende koshuishoofde, klusterkoördineerders en personeel van Studentesake, ondersteun die span mentors en hoofmentors.
“Ons wil egter in die toekoms hê ons tweedejaars moet ook aansoek doen om as mentors op te tree omdat hul ondervinding die naaste aan dié van die eerstejaars is. Die keuring en werwing van mentors vind in die koshuise en privaat studente-organisasies (PSO's) plaas. Ons het 'n opleidingskalender vir leiersposisies wat in September begin en in Augustus van die volgende jaar ten einde loop. Ons volg dus 'n intensiewe opleidingsprogram en die koshuise en PSO's het ook hul eie opleidingsprogramme wat uniek is aan hul omgewing om mentors toe te rus. Ons evalueer en assesseer ons opleiding voortdurend om te verseker dat dit relevant en in lyn met die mentorervaring is," sê Petersen.
Studente kan meer inligting oor die mentorprogram by die Sentrum vir Studentegemeenskappe in Bosmanstraat op Stellenbosch bekom, of klik hier vir meer inligting.