Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwelinge dié week by Universiteit Stellenbosch verwelkom
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 20/01/2020

Meer as 5 000 nuwelingstudente, vergesel deur hul ouers, sak vandeesweek op Stellenbosch toe vir die aanvang van hul akademiese reis aan die Universiteit Stellenbosch (US).

Hoewel talle studente, veral diegene wat in inhuiskoshuise sal inwoon, reeds van Woensdag (22 Januarie) af hul intrek sal begin neem, word die Verwelkomingsweek amptelik afgeskop met die Verwelkomingsgeleentheid wat Donderdag, 23 Januarie om 17:30 by die Danie Craven-stadion gehou word. 

Lede van die Universiteit se bestuur sal die nuwe Maties by hierdie Verwelkomingsgeleentheid welkom heet. Studente sal na afloop van die program op die veld bymekaarkom om 'n reusagtige “2020" te vorm. Dit simboliseer die nuwelinge se inlywing by die nuwe gemeenskap waarvan hulle nou deel sal word.

Droomoptog vind vir tweede jaar plaas

Die nuwelinge sal ook aan 'n optog vanaf die stadion na Victoriastraat op die kampus deelneem as deel van 'n “Droomlansering" wat die begin van hul reis om hul drome te verwesenlik, sal simboliseer. Hierdie droomoptog word vanjaar vir die tweede keer gehou. Die studente sal elkeen 'n kaartjie ontvang waarop hulle hul drome vir hulself kan neerskryf. Hierdie kaartjies sal op verskeie punte op die roete aangebring word, veral in Victoriastraat.

Nog 'n hoogtepunt van die Verwelkomingsprogram is die jaarlikse “Vensters"-geleentheid wat Vrydag, 31 Januarie gehou word. Vir hierdie kleurryke buitelugopvoerings werk koshuise en privaat studente-organisasies (PSO's) saam om toeskouers met innoverende en skeppende dansopvoerings rondom 'n sentrale tema te bekoor. 

Die Universiteit se webwerf, www.sun.ac.za, bevat al die nodige inligting vir nuwelingstudente. Die hele week se verwelkomingsprogram en inligting oor onder meer die registrasieskedule, vervoer, persoonlike veiligheid, die biblioteek en gratis skryfhulp is hier beskikbaar.

  • Kennisgewings oor die verwelkoming verskyn op sosiale media via die hutsmerk #HelloMaties
  • Hewige verkeer word op 23 Januarie op alle hoofroetes na Stellenbosch, asook op die dorp self verwag.
  • Vir fotoversoeke: viljoenm@sun.ac.za