Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe instituut op soek na oplossings wat kinders laat floreer
Outeur: FMHS Marketing & Communication / FGGW Bemarking & Kommunikasie
Gepubliseer: 17/01/2020

Die inspirerende werk wat die Instituut van Lewensloop-gesondheidsnavorsing (ILCHR) in gemeenskappe doen resoneer met die visie van die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) om gesondheid en gesondheidsgelykheid te bevorder in en saam met die gemeenskappe wat ons bedien.

Met hierdie boodskap het mnr Eben Mouton, FGGW Senior Direkteur: Besigheidsbestuur, die ILCHR verwelkom by die Departement Globale Gesondheid tydens die instituut se amptelike opening by die FGGW.

Die ILCHR, onder leiding van prof Mark Tomlinson en dr Sarah Skeen, is ʼn transdissiplinêre entiteit wat navorsing doen oor die welstand, gesondheid en ontwikkeling van babas, kinders, tieners, moeders en families in minderbevoorregte gemeenskappe.

“Ons wil voorpuntnavorsingsbewyse ontwikkel wat die welstand van kinders en families oor die lewensloop prioritiseer; saam met gemeenskappe werk om intervensies te ontwikkel; en om die kennis wat ons skep te deel," het Tomlinson by die opening gesê.

“Onderliggend hiervan is die toegewydheid om deel van die oplossing te wees vir die diepgaande ongelykhede wat bestaan," het Tomlinson gesê.

Die ILCHR is reg oor Suid-Afrika werksaam. Die navorsingspanne is in Khayelitsha in die Wes-Kaap en die OR Tambo-distrik in die Oos-Kaap gesetel. Die instituut bestuur ook projekte oor Afrika en Suid-Asië heen en werk saam met internasionale liggame soos die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) en die Verenigde Nasies se Kinderfonds (Unicef) aan programme oor kinder- en tienergeestesgesondheid en ontwikkeling.

Vroeë gebeure, latere gevolge

Die feit dat gebeure in die vroeë kinderjare en in utero ʼn langtermyn-gesondheidsimpak het, word deesdae deeglik erken: Navorsing het die kwesbaarheid van die eerste duisend lewensdae (van bevrugting tot twee jaar) blootgelê, veral met betrekking tot neuro-ontwikkeling.

Intergenerasie-faktore is ook van belang. “Ons begin besef dat die ouma se voedingstatus een voorspeller van ʼn baba se groei is. En dat ʼn jong vrou se gesondheid – haar voeding en of sy gereeld mediese ondersoeke ondergaan ʼn sleutelfaktor vir die gesondheid van die baba is waarmee sy nog nie eens swanger is nie," het Tomlinson gesê.

Dit is ook die geval met geestesgesondheid. “Navorsing het 30 jaar gelede hoofsaaklik oor nageboortelike depressie gegaan en die impak wat dit op moeder en kind het. Later het ons besef voorgeboortelike depressie is net so belangrik, indien nie meer nie," verduidelik Tomlinson. “Chroniese depressie is ook veel erger as ʼn enkele voorval."

Geen inenting teen teëspoed

Gevolglik is wêreldwyd voorbrand gemaak vir investering in intervensies in die vroeë kinderdae. Maar niks kan ʼn kind ten volle teen ontwikkelingsontwrigting “inent" nie. “Ons het gevind dat intervensies soms net baie klein positiewe impak maak, of soms sal groot impakte taan. Soms verwelk dit en kom dan weer later te voorskyn," het Skeen gesê. “Mens kan nie verwag dat net een kort program in die vroeë jare die uitkomste van mense se lewens sal verander nie, veral nie in omstandighede van uiterste armoede nie."

Volgehoue investering is nodig – met inbegrip van, en dalk spesifiek, tydens adolessensie. “Terwyl breinontwikkeling ontsettend vinnig gedurende daardie eerste duisend dae plaasvind, gepaard met die uitskakeling van baie sinapse, weet ons nou dat die brein ook tydens adolessensie geweldig ontwikkel," het Tomlinson gesê.

Huidige navorsing dui daarop dat sekere adolessentintervensies besonder suksesvol is, veral dié wat op interpersoonlike vaardighede en emosionele regulering fokus. Maar sulke bevindings was meestal uit hoë-inkomstelande afkomstig en die uitdaging is om hierdie intervensies vir lae-inkomste-omgewings aan te pas. Die ILCHR werk saam met die WGO aan riglyne vir sulke programme en verken geteikende voorkoming vir adolessente met ʼn risiko vir depressie en angs, middelmisbruik, aggressie en selfbesering.

Ander belangrike ILCHR-werk wat intervensies vir jonger kinders toets, sluit in die Thula Sana-proef (“Hush Baby") in Suid-Afrika, die Philani-proef en die Mphatlalatsane-studie in Lesotho. Almal het behels dat gemeenskapsgesondheidswerkers huisbesoeke gedurende swangerskap en die vroeë kinderdae by moeders aflê.

Die Philani-studie volg die impak van ʼn tuisbesoek-program wat deur ʼn bekende nie-regeringsorganisasie in Khayelitsha gedoen is. Die Mphatlalatsane-studie, wat in 2018 voltooi is, het gefokus op ʼn groepsgebaseerde intervensie oor voeding, MIV-toetse en taalontwikkeling. Vir die Thula Sana-proef het die ILCHR kinders vir die eerste 18 maande gevolg, weer op 13-jarige ouderdom getoets, en later is die groep ingesluit by ʼn intervensie vir adolessente. “Jy probeer vasstel wanneer intervensies die doeltreffendste is – gee ʼn intervensie op ouderdom 17 ʼn betekenisvolle hupstoot aan ʼn intervensie wat op die eerste ses maande gegrond is?" het Tomlinson verduidelik.

Uitdagings van langtermyn-navorsing

Lewensloop-studies kan duur en tydrowend wees: Thula Sana het oor 18 jaar gestrek en die Philani-studie oor agt. Die logistiek is ʼn uitdaging: Dataversamelaars “verdwyn vir ʼn maand lank in die landelike Oos-Kaap of Lesotho en beweeg van dorp tot dorp," het Tomlinson gesê. Soms is viertrekvoertuie of selfs donkies nodig om toegang te bekom.

Die werk is ook konseptueel gesproke ʼn uitdaging. Geestesgesondheid is moeilik meetbaar, net soos teenspoed, geweld en armoede. “Soms is dit moeilik om te bepaal watter faktore direkte impak dit op uitkomste het," het Skeen gesê. “Ons probeer om die kinders se blootstelling aan allerhande risiko's binne die individuele en die onmiddellike omgewing te meet."

En daar is so baie faktore: Sommige kinders sukkel weens die “kleinste omgewingsafjak … maar as daardie selfde kind in ʼn baie goeie omgewing was, sou hulle gefloreer het," verduidelik Tomlinson.​


Bannierfoto-onderskrif: Prof Mark Tomlinson en dr Sarah Skeen.

Insetsel-onderskrif: Prof Mark Tomlinson, Marguerite Marlow, Vuyolwethu Notholi, dr Sarah Skeen, Zena Jacobs, Zanele Siqabatiso en Jackie Stewart.

Foto-erkenning: Stefan Els and Wilma Stassen