Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
'n Droom word waar
Outeur: Corporate Communication - Sonika Lamprecht
Gepubliseer: 14/01/2020

​Sy het ʼn groot droom, sê Khutso Masemola, ʼn tweedejaar mediese student aan die Universiteit Stellenbosch (US): om ʼn groot, openbare hospitaal op haar tuisdorp, GaMasemola in Limpopo, te bou om broodnodige gesondheidsorg aan die inwoners van die talle landelike nedersettings in die gebied te bied. 

Eendag… Hierdie droom mag dalk net eendag bewaarheid word, danksy die Gus Molenaarbeursfonds wat Khutso gehelp het om die eerste tree te neem om haar droom te verwesenlik. “Dit was reeds ʼn droom wat bewaarheid is om universiteit toe te kom," sê sy. Khutso is een van ses kinders en het in ʼn “Godvresende Christen-gesin, gewortel in die beginsels van menslikheid en gehoorsaamheid" grootgeword. 

Ná haar ma se dood toe sy net tien jaar oud was, moes van haar sibbe by haar grootouers en familie gaan woon, terwyl sy en haar jonger boetie by haar pa gebly het. “Dit was op vele vlakke ʼn uitdaging om uit ʼn landelike gebied te kom, maar deur hierdie beursfonds het ek al hierdie struikelblokke oorkom en my lewe het ten goede verander. Hierdie beurs het my daarvan gered om honger te gaan slaap, en het vir my ʼn blyplek en die hulpmiddele wat ek vir my studies benodig, verseker," sê Khutso. 

En dit is presies wat Margie Molenaar in gedagte gehad het toe sy en ʼn vriend van haar oorlede man, Gus Molenaar, ʼn ingenieur, die US se Afdeling Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge (OAB) genader het met die idee om ʼn beursfonds te stig. “Ek wou iets eervols ter nagedagtenis aan my man doen."

BEÏNDRUK

Die beursfonds bied finansiële ondersteuning aan verdienstelike vrouestudente in die Fakulteite Ingenieurswese en Natuurwetenskappe. Khutso was een van die moontlike kandidate wat vir die beurs geïdentifiseer is. “Ek was baie beïndruk met Khutso. Ondanks haar moeilike omstandighede het sy daarin geslaag om goed op skool en universiteit te vaar. Sy hoop om terug te gaan na haar tuisdorp om die talle mense wat met diabetes en hoëbloeddruk worstel, te help." 

Khutso het in gr.11 by ʼn loopbaan-uitstalling by haar skool van die US te hore gekom. Sy wou graag meer weet oor die Universiteit en “het verlief geraak op die US". “Dit is die beste universiteit wat ek ooit kon gekies het, onder meer danksy die ondersteuningstrukture wat in elke fakulteit bestaan, veral vir studente soos ek wat ver van die huis af is. Dit skep ʼn omgewing wat ons ons huis kan noem en waar ons geliefd voel. “Vanjaar was een van die langste, moeilikste maar interessantste jare ooit. Ek het baie oor myself, my vermoëns en sterkpunte geleer, en die belangrikste les was om nie tou op te gooi wanneer dinge broekskeur gaan nie. “Ek hoop ek kan as inspirasie dien vir ander jong vroue wat dokters wil word om mense te help. Ek sien myself as een van die dokters wat ʼn geneesmiddel vir diabetes sal vind," sê sy. 

BELEGGING 

Karen Bruns, Senior Direkteur by OAB, sê sy glo heelhartig daarin dat onderrig die beste belegging vir die toekoms is. “Baie dankie aan Margie Molenaar vir haar besluit om ʼn vennootskap met die US aan te gaan om ter nagedagtenis aan haar man behoeftige studente te help. Dit is wonderlik om te sien hoe so ʼn belegging potensiaal kan ontsluit. In hierdie geval het dit Khutso in staat gestel om die doelwitte wat sy vir haarself gestel het, te bereik." Karen glo die volgehou vennootskap tussen die Universiteit en donateurs verwesenlik nie net studente se drome van hoër opleiding nie, maar dit stel die US ook in staat om aan sy mandaat te voldoen om goedopgeleide gegradueerdes te lewer, om nuwe kennis te produseer en ʼn positiewe uitwerking op ons samelewing te hê.

Meer oor skenkings:
Jy kan die volgende generasie studente help om suksesvol te wees deur ʼn skenking aan jou alma mater te maak – per tjek, direkte deposito, kredietkaart, debietorder, elektroniese oordrag (EFT) of aanlyn. Kontak gerus die Universiteit Stellenbosch se Afdeling Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge vir verdere inligting oor die projekte wat jy kan ondersteun. Skakel +27(0)218084020 of stuur ʼn e-pos na ontwikkeling@sun.ac.za.

Lees meer in die Matieland