Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Entrepreneurskapprojek gee jong mense hoop
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 18/12/2019

​In 'n omgewing waar die werkloosheidkoers hoog en werkgeleenthede min is, bied die Jongentrepreneurskapprojek (YEP) vir jong mense 'n alternatiewe denkwyse oor werkloosheid.     

Vir die afgelope twee jaar het die projek – 'n gesamentlike inisiatief van die Universiteit Stellenbosch (US) en die HU Universiteit van Utrecht vir Toegepaste Wetenskappe in Nederland – 'n entrepreneurskapslypskool aan hoërskoolleerders van skole in die Stellenbosch-streek gebied.

Deur spanwerk het studente van die twee universiteite kursusmateriaal vir die slypskool ontwikkel. By die slypskool wat in die Julie-vakansie gehou word, word vestigingidees en sakeplanne ontwikkel wat in 'n aanbieding voor 'n paneel beoordeelaars kulmineer. Die beste idees wen vestigingkapitaal van R4 000 per groep om hul planne te realiseer.    

Hierdie jaar het leerders van Hoërskole Kayamandi, Makapula en Lückhoff die slypskool bygewoon. Die wenidee, getiteld Siblam Bracelets, het uit Hoërskool Lückhoff gekom. Die idee wat die leerders aangebied het, was om plastiek en ander afval te herwin en armbande daarvan te maak. Die armbande kan gebruik word om inligting oor diegene wat dit dra, veral jong kinders, te stoor en sodoende te help om hulle op te spoor as hulle wegraak of van hul geliefdes geskei word.         

Verlede jaar het twee van die sakeplanne wat gewen het uit Hoërskool Makapula in Kayamandi gekom.          

Die Kayamandi Groentetuinwinkel plant groente by die skool en verkoop die vars produkte uit die tuin teen lae pryse aan Kayamandi-inwoners om hul gesondheid te verbeter en die gemeenskap te bemagtig. Die tweede projek verkoop vetkoek by die skool se snoepwinkel. Hulle het onlangs 'n gasstoof gekoop sodat hulle vetkoek in grootmaat kan produseer, en gebruik die vaardighede wat hulle leer in vakke soos Rekeningkunde om hul eie boeke te doen en hul besigheid te bestuur.     

Die projek bied mentorskap vir tot ses maande ná die slypskool.          

Volgens mnr. Adolph Neethling, YEP-programkoördineerder en lektor in die Departement Sakebestuur aan die US, het sommige van die onderwysers by skole 'n hoë mate van moedeloosheid en gebrek aan motivering onder leerders gerapporteer.    

“Baie van die leerders sien weens die hoë werkloosheidkoers in die land nie die nut daarin om te matrikuleer nie. Hierdie projek stel hulle bloot aan 'n ander manier van dink – dat hulle dalk hul eie geleenthede moet skep.      

“Dit het ten doel om leerders te bemagtig en vir hulle die ondersteuning en vertroue te gee wat hulle nodig het om hul idees in praktiese produkte te omskep."     

Neethling is ook passievol oor die  projek se tweede doelwit – om universiteitstudente bekend te stel aan gemeenskappe waaraan hulle dalk nie voorheen blootgestel was nie. Deelname is vrywillig en studente gaan onder meer op 'n township-toer en praat met kleinsake-eienaars in hierdie gebiede.    

“Ons gaan na die hierdie gemeenskappe toe om te leer. Ons sien mense wat 'n lewe maak ongeag hul omstandighede. Ons mag dalk dink ons het nie hulpbronne nie, en dan sien ons mense wat nog minder het maar steeds daarin slaag om iets te maak uit die bietjie wat hulle het."       

Die studente se deelname aan die projek is baie belangrik.

 “Hierdie skole is op ons voorstoep. As ons op 'n geringe manier kan bydra om leerders te stimuleer om meer positief oor die toekoms te wees, het studente wat deur die US studeer die geleentheid om tot die opheffing van die gemeenskap by te dra."       

Neethling is betrokke by besprekings om die projek uit te brei en het samesprekings met studenteleiers van Ingenieurs sonder Grense by die Universiteit Stellenbosch gehou. Hulle het belangstelling getoon om kundigheid en ondersteuning, soos prototipe- en produkontwikkeling, aan te bied.       

“Met die regte ondersteuning en bemarking kan ons meer studente betrek en steun aan meer skole bied," het hy gesê.