Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Top mediese studente wen gesogte Kanseliersmedalje
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 10/12/2019

Jennifer Kate van Heerden, die ontvanger van vanjaar se gesogte Kanseliersmedalje, het al ses haar studiejare met onderskeiding geslaag en het onderskeidings in al 11 van die afdelings in die finalejaareksamen behaal. 

Van Heerden, wat vanoggend haar MBChB-graad cum laude by die Universiteit Stellenbosch (US) se derde gradeplegtigheid vir die week ontvang het, het elkeen van die 29 teoriemodules in die ses jaar lange program met onderskeiding geslaag en het die program met n gemiddelde persentasie van 87,8% voltooi.

Die gesogte Kanseliersmedalje word aan net een finalejaar- of nagraadse student wat nie net akademies uitnemend presteer het nie, maar ook op verskeie maniere tot die kampuslewe bygedra het en hard gewerk het om ko-kurrikulêre eienskappe te ontwikkel, toegeken.

Die toekenning vanjaar se medalje was ook 'n besonderse geleentheid vir die US aangesien dit die heel eerste keer is dat 'n vorige ontvanger van die Kanseliersmedalje dié toekenning aan 'n ander toppresteerder oorhandig. Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier, het in 1983 by die Fakulteit Geneeskunde en Mediese Wetenskappe gegradueer, en hy was daardie jaar die wenner van die Kanseliersmedalje

Van Heerden het na afloop van die gradeplegtigheid Dinsdag gesê sy voel geëerd om die medalje te ontvang en dat niks van haar sukses moontlik sou gewees het sonder 'n ondersteuningstelsel om haar nie.

“My sukses is deur die ondersteuningstelsel rondom my moontlik gemaak. Ek is gek oor my vakrigting en my passie vir geneeskunde het my gehelp om daardie tweede myl te loop, selfs in die moeilike tye gedurende my studies," het Van Heerden gesê.

Afgesien van die Kanseliersmedalje, het Van Heerden ook verskeie ander toekennings gedurende haar akademiese loopbaan opgeraap, insluitende:

  • Verskeie toekennings van Uitnemende Prestasie in Akademie – 2014, 2016, 2017, 2019;
  • Sertifikaat van erkenning vir besondere bydrae tot die MBChB-akademiese program – 2019;
  • Huis Franci van Zijl-erekleure vir besondere akademiese prestasie – 2016;
  • Golden Key Internasionale Erevereniging – 2015;
  • Merietebeurs vir die beste 5% presteerders per fakulteit (minimum vereiste van 75% gemiddeld in die voorafgaande akademiese jaar) – 2014–2018.

Sy het ook verskeie studenteleierskapposisies beklee en in verskeie komitees gedien, onder meer as president van die Vriende van Médecins Sans Frontières, 'n vereniging wat die niewinsgewende organisasie Médecins Sans Frontières (MSF, ook bekend as Dokters Sonder Grense). Afgesien hiervan, het Van Heerden ook die tyd gevind om aan 'n wye verskeidenheid ontwikkelingsaktiwiteite deel te neem. Sy het onder meer 'n keusekursus by die Antonio Lorena-hospitaal in Cusco, Peru voltooi, waar sy in die pediatriese saal in 'n omgewing met baie beperkte hulpbronne gewerk het en sy het die Msinga-uitreikamp, 'n mediese en gemeenskapsuitreik in die landelike gebiede van KwaZulu-Natal, bygewoon.

Van Heerden beplan om nou as intern by die Helen Joseph-hopsitaal in Johannesburg te gaan werk en haar droom is om eendag as pediater te spesialiseer. 

Foto deur Stefan Els.