Die droom van 'n beter lewe in Suid-Afrika het in 'n nagmerrie ontaard vir Zimbabwiese migrante met gestremdhede wat in Kaapstad woon, aldus 'n nuwe studie aan die Universiteit Stellenbosch (US).
“Die stemme van hierdie gestremde migrante ontbreek meestal in beleide en literatuur oor migrasie en gestremdheid. Dít beteken hulle word dikwels gemarginaliseer, sukkel om toegang tot maatskaplike dienste te kry, en moet minderwaardige werk verrig waarin hulle gereeld uitgebuit en hetsy te min of glad nie betaal word nie," sê Noel Dangarembwa, wat Dinsdag (10 Desember 2019) sy meestersgraad in Menslike Rehabilitasiestudies by die US se derde gradeplegtigheidseremonie van Desember ontvang het. Dangarembwa, self 'n gebore Zimbabwiër, het die bestaanservarings van gestremde Zimbabwiese migrante wat in Kaapstad woon, ondersoek. Sy studieleiers was drs Lieketseng Ned en Martha Geiger van die Sentrum vir Gestremdheid- en Rehabilitasiestudies in die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe.
Dangarembwa sê hy het besluit om die studie te onderneem, want hoewel merkwaardige gestremdheidstudies al in Suid-Afrika gedoen is, het weinig daarvan aandag geskenk aan die bestaanservarings van migrante met gestremdhede, wat meestal méér uitdagings as nie-gestremde migrante in gasheerlande ondervind. “Die meeste beleide en literatuur oor migrasie swyg oor die bestaanservarings van migrante met gestremdhede, sowel internasionaal as plaaslik."
Dangarembwa sê die Zimbabwiese migrante met gestremdhede met wie hy onderhoude gevoer het, het onthul dat Suid-Afrikaners hulle as minderwaardig en “nikswerd, gestremde buitelanders" beskou wat hierheen gekom het om die land se hulpbronne te verkwis.
“Omdat hulle sowel gestremd as migrante is, word 'n minderwaardige identiteit aan hierdie mense toegeken, wat toegang tot maatskaplike dienste verhinder en hulle aanhoudend van geleenthede ontneem om 'n behoorlike bestaan in Suid-Afrika te maak. 
“Wat duidelik blyk, is dat die kruispunt tussen gestremdheid en migrantestatus, tesame met maatskaplike faktore soos geslag en sosio-ekonomiese status, migrante met gestremdhede in 'n groot mate van bestaansbronne uitsluit.
Hoewel sommige daarin kon slaag om belangstellings soos deeltydse naaldwerk, braille-transkripsie en massering te beoefen, is die meeste van hierdie gestremde migrante oor die algemeen beperk tot bedelary. Dit stel hulle bloot aan uitbuiting en bespotting deur 'n nie-gestremde samelewing, wat nie net hulle gestremdhede bevraagteken nie, maar ook hulle redes vir migrasie," verduidelik Dangarembwa.
Hy sê die meeste Zimbabwiese migrante met visuele gestremdhede het aangedui dat hulle 'n bestaan maak deur by verkeerskruisings te bedel, waar hulle dikwels uitgejou en skeldname toegesnou word, sowel as gevaar loop om onder voertuie te beland of deur hulle siende handlangers besteel te word.
“Desondanks volhard hierdie migrante om hulleself op dié manier in Suid-Afrika te onderhou," voeg Dangarembwa by.
Hy betreur die gebrek aan institusionele steun vir hierdie kwesbare groep. “In gevalle waar hulle wel steun ontvang, word daar van hulle verwag om dankbaar te wees vir wat hulle ook al kry, sonder dat hulle die geleentheid gegun word om enige vrae te vra of hulle unieke behoeftes en kwessies te lug."
Dangarembwa sê sy bevindinge bring die kwesbaarheid van migrante met gestremdhede aan die lig, en opper ook belangrike vrae oor die Verenigde Nasies se migrasieverslag van 2017, wat slegs vroue en kinders as voorbeelde van kwesbare migrante noem. “Dít is veral kommerwekkend omdat die Verenigde Nasies se Konvensie oor die Regte van Persone met Gestremdhede spesifieke artikels oor migrasie en gestremdheid insluit. Persone met gestremdhede maak deel uit van die algehele migrantegroep en is dus kwesbaar vir onderdrukking."
Dangarembwa doen 'n beroep op die Suid-Afrikaanse regering om die bekragtigde en ondertekende konvensie ten volle te implementeer.
Hy sê ook die owerhede behoort hulle migrasiebeleide te hersien om redelike voorsiening te maak vir Zimbabwiese migrante met gestremdhede, en hulle in staat te stel om ten volle deel te neem aan en by te dra tot alle sfere van die Suid-Afrikaanse lewe.
Dangarembwa meen Zimbabwe en Suid-Afrika moet saamwerk om beleidshindernisse uit die weg te ruim wat migrante met gestremdhede tans verhinder om die nodige dokumente te bekom om toegang tot volhoubare bestaansgeleenthede te kry. “Die twee regerings behoort kragte saam te snoer om migrante met gestremdhede 'n stem te gee en hulle behoeftes en kwessies by die ontwerp en implementering van gepaste beleide in te sluit."
Dangarembwa sê verdere navorsing oor migrasie-en-gestremdheidsbeleide en -praktyke is nodig om die bestaansbronne tot hierdie groep se beskikking deeglik te ondersoek.
- Hooffoto: Noel Dangarembwa by die gradelplegtigheidseremonie. Foto 1: Noel Dangarembwa saam met een van sy studieleiers, dr Lieketseng Ned. Fotograaf: Stefan Els
SLEGS VIR MEDIANAVRAE
Noel Dangarembwa
Sel: 076 456 3717/083 479 5224
E-pos: proson2019@yahoo.com
UITGEREIK DEUR
Martin Viljoen
Bestuurder: Media
Korporatiewe Kommunikasie
Universiteit Stellenbosch
Tel: 021 808 4921
E-pos: viljoenm@sun.ac.za