Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Rektor deel belangrikste US-hoogtepunte vir 2019 by personeelbyeenkoms
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 05/12/2019

Van die toekenning van meer as 9 000 kwalifikasies in die afgelope akademiese jaar, tot die benoeming van LaunchLab as die beste besigheidslanseerlaboratorium by 'n universiteit in Afrika, het die Universiteit Stellenbosch (US) baie hoogtepunte gehad om by die laaste personeelbyeenkoms van 2019 te vier.

Die personeelbyeenkoms is Donderdag, 5 Desember 2019, in die ouditorium van die Adam Small-teaterkompleks gehou.

Prof Wim de Villiers, die US se Rektor en Visekanselier, het by die geleentheid die Universiteit se personeel bedank vir hul “harde werk regdeur die jaar" en vir hul bydrae om die US te help om voort te bou op sy missie.

Van die Universiteit se talle hoogtepunte vir 2019 het prof De Villiers van die belangrikstes uitgelig:

  • Die studentemodule-suksessyfer bly bo 86%, wat een van die hoogstes in die land is.
  • Die Afrika Doktorale Akademie het vanjaar sy tiende bestaansjaar gevier, en die US het nou reeds 20 ooreenkomste vir gesamentlike doktorsgrade met van die beste universiteite wêreldwyd gesluit.
  • Die US het weer sy plek op die wêrelduniversiteitsranglys verbeter. Dit beteken die US is onder die beste 1% van universiteite wêreldwyd.
  • 'n Tweedejaar Matiestudente het 'n groot prys gewen vir haar ontwerp van 'n eetbare strooitjie. 
  • Die US het sy Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke bekendgestel.

Prof De Villiers het dit ook weer benadruk dat die US van sy huidige gefragmenteerde “tuiste van handelsmerke en logo's" gaan wegbeweeg na 'n verenigde monolitiese handelsmerk-argitektuur.

Van die ander aankondiginge het ingesluit dat die US weer vanjaar 'n rekordaantal kwalifikasies (5 853 in totaal) by sy nege Desember 2019-gradeplegtighede – wat ook 'n eerste vir die US is – gaan toeken. En die afgetrede regter in die Konstitusionele Hof, regter Edwin Cameron, is as die US se nuwe kanselier vanaf aanstaande jaar aangewys. Hy volg dr Johann Rupert op, wat die Universiteit die afgelope dekade op uitsonderlike wyse gedien het.  

Kyk die volle personeelbyeenkoms hier onder:

 


​Foto deur Stefan Els.