Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Eerste mikrobioom-werksessie en simposium open baie deure vir US
Outeur: Corporate Communication Division/Afdeling Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 04/12/2019

Die Universiteit Stellenbosch (US) was die trotse borg van die eerste mikrobioom-werksessie en simposium wat onlangs gehou is, met meer as 125 kundiges van regoor die wêreld wat op Stellenbosch byeengekom het om die jongste wetenskaplike vordering op die gebied van die mikrobioom en die metaboloom te bespreek.

Volgens prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, is baie nuwe inligting aangebied en dit was ook 'n baie doeltreffende platform vir die Universiteit om nie net nuwe navorsingsprojekte te identifiseer nie, maar ook om met internasionale navorsers op 'n multifakulteit- en multidissiplinêre vlak te skakel.

Die geleentheid het ook aan die nuutgestigte Afrika-mikrobioominstituut (AMI) – gesetel in die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe – 'n hupstoot gegee om op dreef te kom. Die Fakulteite Natuurwetenskappe en AgriWetenskappe was ook by die aanbieding van die simposium betrokke.

Die AMI is uniek in Afrika, veral omdat dit transfakulteit van aard is en dit spesifiek op alle mikrobiome in die antroposfeer fokus – dit is die ekostelsels wat direk met menslike aktiwiteite verband hou.

Prof De Villiers en prof Stephen O'Keefe, Direkteur van die AMI en 'n professor by die afdeling vir Gastroënterologie aan die Universiteit van Pittsburgh, het in die reëlingskomitee vir die geleentheid gedien. O'Keefe was ook die programdirekteur by die geleentheid.

Die geleentheid het ook idees en moontlikhede om nuwe akademiese programme by die kurrikulum in te sluit wat oor die onderwerp van mikrobioom en verwante inligting handel, gestimuleer. Die mikrobioom word omskryf as die genetiese materiaal van die mikrobiese populasie – bakterieë, fungi, swamme, protosoë en virusse – wat in enige gegewe omgewing, insluitende op en binne die menslike liggaam, leef.

“Hierdie mikrobiese ekostelsels was voorheen ontoeganklik vir die wetenskap weens hul geweldige kompleksiteit en die teenwoordigheid van duisende spesies, maar deesdae kan hulle hoofsaaklik deur hul genetiese samestelling en metagenoom bestudeer word," sê prof O'Keefe. “Hierdie dramatiese verandering in ons vermoë om hierdie stelsels te ontleed, het tot groot wetenskaplike deurbrake die afgelope paar jaar gelei. Die rol wat die ingewandsmikrobioom veral in die fisieke en geestesgesondheid van die mens speel, het wydverspreide aandag in die populêre literatuur en sosiale media geniet weens hul groot invloed op gesondheid en siektes."

Microbiom-7.jpg

​Prof De Villiers het ook die simposium bygewoon uit belangstelling in die mikrobioom en om meer oor die jongste ontwikkelinge te wete te kom. Hy is n spesialis en kundige op die gebied van Gastroënterologie en was voorheen hoof van Gastroënterologie by die Universiteit van Kentucky en administratiewe hoof van die Good Samaritan-hospitaal in Lexington in die VSA voor sy huidige amp by die US. Hy het danksy sy werk as gastroënteroloog, 'n gerespekteerde mediese navorser geword.

“Die aanbiedinge was van hoogstaande gehalte en baie nuwe kennis is bekendgemaak – nie net op die gebied van gesondheid nie, maar ook op die gebiede van gastroënterologie, wynbiotegnologie, bio-informatika, genetiese mikrobiologie, water, grondkunde, landbou, voedselwetenskappe, chirurgie en voeding en reproduksie," sê hy.

Temas van die simposium was “Recent advances in the analysis of the microbiome and metabolome"; “Advances in the understanding of the impact of the environmental microbiome on the human microbiome"; en “The human microbiome in health and disease".

Onderwerpe wat bespreek is, sluit in Controlling the wine microbiome: Bringing change to the global wine industry; The microbiome in South African homes: Biodiversity boost or silent killer?; Microbiome analysis of the viable bacterial community present in untreated and treated roof-harvested rainwater; The association between dietary fibre deficiency and high-income lifestyle-associated diseases: Burkitt's hypothesis revisited; The emerging crisis in antimicrobial resistance and what resistome analysis can tell us; Tuberculosis disease and treatment – does the microbiome have a role?; en Investigating urinary and faecal metabolic differences among native Africans, African Americans and Alaskans using mass spectrometry

  • Klik hier om meer te lees oor die Afrika-mikrobioominstituut (AMI)