Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Williams vier 50 jaar by US-proefplaas
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 04/12/2019

Vir 50 jaar lank al is Karel Williams se voetspore op die landerye en in die kweekhuise van die Welgevallen Proefplaas in Stellenbosch te vinde. Williams was net vyftien jaar oud toe hy daar op 22 Julie 1969 ingeval het. Aan die einde van Desember 2019 tree die 65-jarige amptelik af in diens van die Universiteit Stellenbosch se Departement Agronomie.

Destyds was die proefplaas nog bestuur deur die Staat. Dis in 1974 deur die Fakulteit AgriWetenskappe oorgeneem.

Williams vertel dat hy sy loopbaan in die melkery op die proefplaas begin het. Een van sy eerste verantwoordelikhede was om die roomskeier, waarmee room van melk afgeskep word, te hanteer. 'n Paar jaar later het hy na die koringproef-afdeling geskuif, onder leiding van prof Eddie Laubscher. Daar het hy op die landerye en in die glashuise gehelp, en enigiets gedoen van plantjies plant tot oeste insamel en saad weeg.

Vir die laaste dekade of wat is hy in die groentekweekhuise op Welgevallen werksaam. Hier was hy die regterhand van menige navorser of student wat die kweek van groente soos tamaties en komkommers in die beheerde toestande van 'n tonnel bestudeer het. Oor die jare moes hy ook menige jonger werknemer op die proefplaas touwys maak in wat alles gedoen moet word.

Hy't self groen vingers, en het al jare gelede vir homself 'n groentetuin op Welgevallen aangelê. “Daar is groenboontjies, aartappels, uie - alles wat mens nie in tonnels kan groei nie," vertel hy.

Die plaaslewe is so te sê in Williams se bloed, want hy is op die wynplaas Muratie buite Stellenbosch gebore. Hy het vir die grootste deel van sy werkslewe aan die US op Welgevallen self gebly. 'n Paar jaar gelede het hy na Happy Valley by Blackheath getrek. Karel vertel dat sy jonger broer, James, ook by Welgevallen in diens is.

Williams tree amptelik aan die einde van Desember af. “Ek hoop om nog so twee of drie keer per week te kom uithelp vir eers," vertel hy.

'n Erkenningsfunksie is verlede week vir Williams deur die Departement Agronomie en die Fakulteit AgriWetenskappe gehou. Ten tyde daarvan het prof Danie Brink, dekaan van die Fakulteit AgriWetenskappe, Williams bedank vir sy lojaliteit teenoor die US, en vir sy 50 goue jare diens. 'n Sertifikaat om sy vyf dekades van diens te erken is ook aan hom oorhandig.

​Foto: Karel Williams van die Departement Agronomie het 'n sertifikaat ter erkenning van sy 50 jaar diens ontvang. By die oorhandiging was prof Danie Brink (links), dekaan van die Fakulteit AgriWetenskappe, en dr PJ Pieterse van die Departement Agronomie. Foto: Gunnar Sigge