Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Piet Steyn ontvanger van Marloth-medalje
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 02/12/2019

Prof Piet Steyn, emeritus-professor in organiese chemie en voormalige senior direkteur van navorsing by die Universiteit Stellenbosch (US), is die ontvanger van die Royal Society of South Africa's (RSSAf) se Marloth-medalje vir 2020, in erkenning van “ 'n hoogs uitsonderlike loopbaan in die bevordering van sy vakgebied, organiese chemie, in diens van die wetenskap en die mensdom".

Volgens 'n mediavrystelling van die RSSAf, is Prof Steyn se bydrae tot die veld van biologies aktiewe natuurlike produkte, hoofsaaklik mikotoksiene en sekere toksiene afkomstig van plante, legendaries. Gedurende sy navorsingsloopbaan by die WNNR, die Noordwes-Universiteit en die US,  het hy 'n betekenisvolle bydrae gelewer tot die isolering, karakteriserting, biosintese, afbreking  en analise van verskeie van hierdie toksiene wat natuurlik in die omgewing voorkom.

Mikotoksiene hou 'n enorme groot bedreiging vir internasionale handel in, met 'n geskatte  60% van Afrika se graanvoorraad wat potensieel die gevaar loop van fungibesmetting en die vorming van mikotoksiene. Die VSA se graanindustrie se geraamde verlies wat jaarliks aan mikotoksienbesmetting tegeskryf kan word, beloop ongeveer 2 biljoen dollar.  

Prof Steyn se navorsing het hom as internasionele leier op hierdie vakgebied onderskei, en in 2004 is hy deur die Centraalbureau voor Schimmelcultures in Nederland vereer vir sy navorsing oor okratoksien A, deurdat 'n hoogs toksiese stam na hom vernoem is, naamlik Aspergillus steynii. In 1973 is hy as lid van die Internasionale Unie vir Suiwer en Toegepaste Chemie (bekend as IUPAC) se Kommissie vir Voedselkontaminante aangewys, en in 2002 het hy die eerste wetenskaplike uit Afrika geword  wat verkies is tot President van  die IUPAC. Sy internasionale navorsingstatus en statuur het ook bygedra tot sy verkiesing as president van die Internasionale Vereniging vir Graanwetenskap en -tegnologie (bekend as ICC) en dienstydperke in die wetenskapsadviesrade van verskeie wetenskapstydskrifte. In 1993 het die ICC hom vir sy leierskapsrol in die wetenskap vereer deur die gesogte Friedrich Schweitzer Medalje aan hom toe te ken.

In 2011 het hy die prestigeryke Nasionale Orde van Mapungubwe ontvang ter erkenning van sy bydrae tot die chemie en biosintese van mikotoksiene.

Meer oor Prof Steyn se loopbaan

Prof Steyn is in 1940 in Vryburg, Noordwesprovinsie gebore. In 1959 het hy by die Universiteit Stellenbosch (US) vir 'n BSc ingeskryf en in 1963 het hy sy MSc-graad in organiese chemie (cum laude) onder studieleiding van Prof Chris Garbers verwerf. Prof Garbers was vanaf 1958-1978 professor in organiese chemie by die US en later president van die WNNR (1980-1990). Prof Steyn het die grootste gedeelte van sy loopbaan (1964-1993) by die WNNR gewerk waar hy die stigtersdirekteur van Foodtek was, wat tans as die afdeling van Biowetenskappe bekend staan. Na die tydperk 1993-1999 as professor in Chemie by die Noordwes-Universiteit, was hy vanaf 1999-2008 as direkteur en later as senior direkteur navorsing, aan die US verbonde. Gedurende hierdie tyd was hy nou betrokke by die vestiging en ontwikkeling van die Sentrale Analitiese Fasiliteite (SAF) by die US. Hy is getroud met 'n medechemiestudent, Margot Steyn, en hulle het drie kinders en vyf kleinkinders.

Meer oor die Marloth-medalje

Hierdie medalje is ter nagedagtenis van die chemikus en plantkundige Professor Hermann Wilhelm Rudolf Marloth (1855-1931), sowel as sy seun, Dr Raimund Hilmar Marloth, wat 'n passie vir pomologie gehad het – die bestudering van vrugte en die verbouing daarvan. Beide pa (1908) en seun (1957) was genote van die Royal Society en hul nalatenskap leef voort in hul erflatings aan die RSSAf.