Die Universiteit Stellenbosch (US) het vandeesweek 'n voorlegging aan die Kommissie vir Geslagsgelykheid (KGG) by 'n sessie in Braamfontein gedoen ter opvolging van die instelling se voorlegging in November 2017. Dit het deel uitgemaak van ʼn reeks verhore deur die KGG, waaraan Sol Plaatje Universiteit, en die universiteite van Zululand, Mpumalanga, Vrystaat en Johannesburg ook deelgeneem het.
“As 'n openbare instelling en 'n nasionale bate, is die US verbind tot transformasie ten einde gendergelykheid te bewerkstellig. Die US respekteer die Grondwet en die demokratiese oorsigrol van grondwetlike instellings soos die Kommissie vir Geslagsgelykheid," het prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, op Woensdag 27 November 2019 aan die paneel gesê.
De Villiers het in sy inleiding 'n oorsig van die US gegee, insluitend die samestelling van die instelling se studente- en personeelliggame: “Die Universiteit is 'n ander plek as die een wat ek in die 1970's en -80's bygewoon het. Dit word al hoe meer divers en geïntegreerd."
Hy het uitgewys dat die meeste studente vroue is (55%), asook diegene wat kwalifikasies aan die US verwerf (57%).
Die meeste personeellede is ook vroue – 59% van alle personeel; 63% van professionele, administratiewe en steundienspersoneel (PASD); en 51% van akademiese personeel.
Vroue is egter in die minderheid in senior bestuursgeledere – hulle beklee slegs 38% van poste op vlakke 1 tot 6.
“Daar is ʼn verbetering –stadig, maar seker. Nietemin bly dit 'n groot uitdaging," het prof De Villiers gesê.
Hy het voorts ook terugvoer gegee oor die US se implementering van die vyf aanbevelings wat die Kommissie ná die eerste verhoor twee jaar gelede gedoen het. Een hiervan was dat die US ongelykheid in die vergoeding van mans en vroue moes regstel.
“'n Ondersoek 'n paar jaar gelede het bevind dat die grootste ongelykheid in vergoeding op vlakke 3–5 in beide die akademiese en PASD-omgewings voorgekom het. 'n Bedrag van R2,5 miljoen is in die begroting beskikbaar gestel om die vergoeding van vroue na dieselfde vlak as hul manlike eweknieë te bring waar daar ongelykhede bestaan het. Die gaping in salarisse is intussen uit die weg geruim, maar ons bly waaksaam," het prof De Villiers gesê.
Nog 'n aanbeveling was dat die Universiteit gendergefokusde personeelwerwing, -mentorskap en
-retensie moes toepas.
“Ons is besig met 'n 'kwekingsproses' ('growing our own timber') om personeeldiversiteit op alle vlakke te verhoog. Hierbenewens is die uitbreiding van diversiteit ook 'n kernprestasiegebied vir alle bestuurders. Dit word by meerjarige werksmagplanne ingewerk, wat vir goedkeuring ingedien word," het prof De Villiers gesê.
“ʼn Belangrike nuwe verwikkeling is dat die Rektoraat op 17 September 'n nuwe Kode vir Bestuurspraktyke vir Gelyke Indiensneming goedgekeur het, wat 'n baie hoë standaard stel. Betrokkenheid by die transformasiemandaat van die Universiteit sal in die toekoms 20–25% van alle personeellede se prestasie-indikatore uitmaak."
'n Derde aanbeveling was dat daar genoegsame genderverteenwoordiging in die besluitnemingsliggame van die US moet wees. Hieroor het prof De Villiers gesê die Universiteit se hersiene Statuut, wat op 16 Augustus vanjaar in werking getree het, “maak duidelik voorsiening vir diversiteitoorwegings waaraan voldoen moet word in terme van ras, gender en gestremdheid" in strukture soos die Raad en Institusionele Forum.
“Dit was ook vir my bevredigend om by ons laaste Senaatvergadering (22 November) te sien dat die groep nuwe volprofessore wat voorgestel is, meestal vroue en divers was," het hy bygevoeg.
Rakende die aanbeveling dat genderdiversiteit en -gelykheid deel van studente- en personeeloriëntering moet uitmaak, het die prof De Villiers gesê die US voldoen heeltemal hieraan.
Die Eenheid vir Gelykwaardigheid en die Transformasiekantoor verskaf opleiding aan studente oor onderwerpe soos seksuele teistering, omstander-apatie, verkragtingskultuur, gendervloeibaarheid en diversiteit in seksuele voorkeur. Die Sentrum vir Studentevoorligting en -Ontwikkeling het ook 'n krisisprotokol ontwikkel as 'n gids om kwessies soos geslagsgebaseerde geweld te hanteer.
Wat opleiding van personeel betref, is die Siyakhula Diversiteitskapasiteitsprogram die Afdeling Menslike Hulpbronne se vlagskipprojek.
Amper 600 personeellede het reeds werksessie bygewoon oor onderwerpe soos moderne en geïnternaliseerde rassisme, diskriminasie teen diegene met gestremdhede, institusionele kultuur, stereotipering en onbewuste vooroordeel, visuele regstelling, asook geloofs- en kulturele insluiting.
“Ek het self twee van hierdie sessies bygewoon en dit uiters nuttig gevind. Ek verwag ook dat my senior bestuurders dit bywoon," het prof De Villiers gesê.
Die Kommissie het gesê hulle verwelkom en het waardering vir die US se voorlegging, veral oor die die inwerkingstelling van die Kommissie se aanbevelings.
“Ons gee toe dat daar betekenisvolle vordering by die Universiteit gemaak is, maar daar is nog steeds gapings wat transformasie betref. Die vordering ten opsigte van vroue in bestuurs- en akademiese poste is stadig," het me Tamara Mathebula, die voorsitter van die KGG, gesê.
“Ons besef ons is nie perfek nie en ons reis is onvoltooid. Maar ons sit dit vasberade voort. En ons loop die pad saam met al ons belanghebbendes," het prof De Villiers ter afsluiting gesê.
FOTO: Die US-afvaardiging by die Kommissie vir Geslagsgelykheid op 27 November 2019, van links, Victor Mothobi, Hoofdirekteur: Menslike Hulpbronne, dr Choice Makhetha, Senior Direkteur: Studentesake, Sello Molapo, Direkteur: Diensbillikheid, dr Ronel Retief, Registrateur, Christelle Feyt, Senior Direkteur: Studentetoegang, dr Leslie van Rooi, Senior Direkteur: Sosiale Impak en Transformasie, prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier, en dr Munita Dunn-Coetzee, Direkteur: Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling.