Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wenner van Dekaansmedalje glo in vasberadenheid en konstante harde werk
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 25/11/2019

Matthew Greenwood, 'n nagraadse student in genetika, is die ontvanger van die Fakulteit Natuurwetenskappe se Dekaansmedalje vir volgehoue, uitstekende akademiese prestasie.  

Hierdie silwer medalje word jaarliks toegeken aan 'n honneurstudent wat die hoogste gemiddelde persentasie behaal het oor die verloop van die BSc-, sowel as die Honneurs BSc-programme.  Greenwood het beide bogenoemde grade met onderskeiding behaal en is tans besig met sy MSc in genetika.  

Greenwood, 'n oudleerder van Cannons Creek Independent School in Pinelands, Kaapstad, sê hy het reeds as tienjarige sy hart op wetenskapstudies gesit: “My ouer suster se vriend, wat op daardie stadium besig was met sy PhD in Mikrobiologie, het my aan 'n paar basiese wetenskapsfeite en wetenskaplike konsepte bekendgestel. Ek was onmiddellik geïnteresseerd."

Sy groot deurbraak het in graad 3 gekom toe sy ma, Miranda Greenwood, hom gehelp het om by verskeie skole vir beurse aansoek te doen. Sy aansoek by Cannons Creek Independent School was suksesvol en hy het gekies om die res van sy skoolloopbaan daar te voltooi. Ten spyte daarvan dat die familie baie rondgetrek het - van Kraaifontein na Thornton en later Athlone - het hy in 2014 gematrikuleer en het hy 'n beurs gekry om by die Universiteit Stellenbosch te kom studeer.

Volgens Greenwood het sy eerste jaar op universiteit nie net klopdisselboom verloop nie: “Ek het my eerste Fisika 114 tutoriaal gesak, sowel as my Fisika 114 se vroeë assesseringstoets! Ek kan goed onthou dat ek dit selfs oorweeg het om van graadprogram te verander net voor die sperdatum vir veranderings. Op die oud end het ek besluit om vas te byt. Ek het gevra vir hulp en begin om meer ure aan Fisika te bestee. Dit was eintlik eenvoudig – ek het besef dat universiteitsukses vasberadenheid en konstante harde werk van my gaan vereis."

As voorgraadse BSc-student het hy ook gesukkel met die konsep van nagraadse studies: “Ek dink nie voorgraadse studente verstaan wat dit beteken om oor te gaan tot nagraadse studies nie. En omdat jy dít nie verstaan nie, bevraagteken jy die waarde van die verwerwing van 'n 'gewone' graad.  

“Wanneer jy verstaan hoekom jy sekere vakke moet afhandel, kan dit jou baie help om interne motiveringsvaardighede te ontwikkel. Om uiteindelik hierdie begrip te ontwikkel, is job shadowing en internskappe van onskatbare waarde. Jy moet egter ook oplees en toekomstige beroepsmoontlikhede en geleenhede vir nagraadse studies ondersoek.

“'n Ondersteuningsnetwerk van vriende met soortgelyke akademiese doelwitte kan ook wondere vir jou produktiwiteit verrig," voeg hy by. 

As 'n MSc- student in genetika, is hy tans besig om nuwe velde soos data-analise te verken: “Ek vind dat die interpretasie van bestaande data baie interessanter is as om die data self te versamel of te genereer!

Hy beplan om sy MSc-graad in Desember 2020 te verwerf en sal dit graag wil opvolg met 'n PhD in genetika in Swede of Switserland.

Foto: Stefan Els