Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Palliatiewe multisorg-model kan sorg vir pasiënte in landelike gebiede verbeter
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 25/11/2019

'n Multiprofessionele, pasiëntgesentreerde benadering is nodig om die nodige palliatiewe sorg aan mense wat aan terminale siektes ly, te bied.

Dit is een van die belangrikste bevindinge van 'n studie deur 'n navorsingsgroep, bestaande uit navorsers van die Universiteit Stellenbosch (US), Thames Valley en die Wessex-leierskapakademie in die Verenigde Koninkryk, die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid en die Knysna Sedgefield-hospies se afdeling vir palliatiewe sorg. Die studie het onlangs in die African Journal of Primary Health Care & Family Medicine verskyn.

“'n Multiprofessionele, pasiëntgesentreerde benaderinge en verbeterde kommunikasie tussen die verskillende onderafdelings van die gesondheidstelsel verseker dat die diens wat palliatiewe pasiënte ondersteun, gladder verloop wanneer hulle dit die nodigste het," sê die hoofskrywer, prof Louis Jenkins, die hoof van Huisartskunde by die George-hospitaal en ook 'n medeprofessor in die afdeling vir Huisartskunde en Primêre Sorg by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan die US. Hy is ook geaffilieer by die Primêre Gesondheidsorg-afdeling by die Universiteit van Kaapstad.

Ter beklemtoning van die belangrikheid van hul studie, wat op palliatiewe sorg in die Wes-Kaap gefokus het, sê Jenkins: “Die versorging van mense wat aan terminale siektes ly, is 'n belangrike deel van gesondheidsorg. Hoewel ons 'n Nasionale Beleidsraamwerk en Strategie vir Palliatiewe Sorg 2017–2022 het, is daar 'n behoefte daaraan om palliatiewe sorg by bestaande openbare gesondheidsorg in te lyf."

Met verwysing na statistieke van die Wêreldgesondheidsorganisasie, sê hy dat hoewel nagenoeg 40 miljoen mense wêreldwyd jaarliks palliatiewe sorg benodig, net 14% dit ontvang. Hiervan woon 78% in lae- of middelinkomstelande.

Volgens Jenkins beskik die Wes-Kaap oor verskeie hospitaal-gebaseerde palliatiewe sorgdienste in stedelike gebiede, en in die Tuinroetedistrik verskaf die Knysna Sedgefield-hospies 'n hoogstaande diens aan pasiënte. Maar afgesien hiervan bestaan daar egter baie min omvattende versorgingsdienste vir terminale pasiënte in die provinsie, veral vir mense in landelike gebiede, voeg hy by.

“Die meeste pasiënte in landelike gebiede wat probleme wat met terminale siektes verband hou, in die gesig staar, het nie behoorlike toegang tot palliatiewe versorgingsdienste wat hul en hul gesinne se lewensgehalte kan verbeter nie."

In 'n poging om te help om hierdie tekortkoming aan te spreek, het Jenkins en sy medenavorsers 'n palliatiewe sorg-model ontwikkel wat aan die landelike distrikte en die hoofdirekteur van landelike gesondheid in die provinsie beskikbaar gestel is.

Multiprofessionele palliatiewe sorg 

As deel van hul navorsing, is 'n multiprofessionele span, bestaande uit 'n huisarts wat opgelei is in palliatiewe sorg, 'n mediese beampte, fisioterapeut, sielkundige en maatskaplike werker, saamgestel om kommunikasie tussen die streekshospitaal op George en die subdistrik te verbeter.

“Die feit dat 'n multiprofessionele span geluister en saam langs die bed van die pasiënt beplanning gedoen het, het die waardigheid en etos van pasiëntgesentreerde sorg tot 'n mate te herstel, wat 'n sleutelbeginsel van die provinsiale Gesondheidsorg 2030-visie is.

“Daar is meer begrip vir hoe die pasiënt die siekte ervaar, wat selfstandigheid aan die pasiënt gee. Dit kweek ook respek en verseker bekwame, deernisvolle sorg.

“Die instelling van gereelde multiprofessionele palliatiewe sorg-saalrondtes het die manier waarop pasiënte wat palliatiewe sorg benodig, bestuur word, verander, en het veral die ingesteldheid van spesialis-afdelings uitgedaag."

Jenkins sê hulle het ook 'n palliatiewesorgplan as 'n gestandaardiseerde instrument vir die hospitaal en subdistrik ontwikkel wat met pasiënte gedeel en gereeld opgedateer word.

“Ons het ook die hulpmiddele wat in die plaaslike gemeenskap vir die versorging van terminale pasiënte beskikbaar is, in 'n elektroniese boekie vervat vir personeel en pasiënte se verwysing. Ons het 'n gratis webgebaseerde selfoontoepassing vir die monitering en evaluasie van die saalrondtes gebruik sodat inligting doeltreffend en pasgemaak intyds versamel kon word.

“Pasiënte word na die span van die hospitaal, klinieke en gemeenskapsgesondheidswerkers verwys wat huisbesoeke in die omliggende gebiede doen. Die span hou 'n databasis van palliatiewe pasiënte in die omgewing by om te verseker dat pasiënte nie in die stelsel verlore gaan nie en om 'n profiel van plaaslike behoeftes vir palliatiewe sorg op te bou."

Jenkins sê hulle het daarin geslaag om 'n palliatiewesorgdiens te bou wat die versorging van pasiënte in landelike gebiede kan verbeter. Hy voeg by dat hul model uit talle oorde ondersteuning ontvang het, wat 'n bewys van die behoefte aan hoë-gehalte palliatiewe sorg is.

“Ons navorsingstudie het 'n bespreking oor palliatiewe sorg aan die gang gesit wat wanopvattings uitdaag en vrae vra wat uiteindelik tot voordeel van die pasiënte sal strek.

“Ons hoop dat alle palliatiewe pasiënte toegang tot 'n holistiese, hoë-gehalte assessering sal hê, wat voldoende pynbeheer en simptomatiese bestuur insluit."

Jenkins voeg verder by dat hul bevindinge ook op ander dele van die land met soortgelyke omstandighede – dus binne die distriksgesondheidstelsel – van toepassing kan wees.

  • Bron: O'Brien V, Jenkins LS, Munnings M, et al. Palliative care made visible: Developing a rural model for the Western Cape Province, South Africa. African Journal of Primary Health Care & Family Medicine. 2019:11(1), a2147. https://doi.org/10.4102/phcfm.v11i1.2147

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Prof Louis Jenkins

Huisartskunde, George-hospitaal

Eden-distrik, Departement van Gesondheid

Wes-Kaapse Regering

Tel: 044 802 4528

E-pos: louis.jenkins@westerncape.gov.za

​UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie

Tel: 021 808 4921

E-pos: viljoenm@sun.ac.za